Week 5 is verlede Vrydag op ’n hoë noot met opwindende Valentynsvieringe, ’n mini-kriekettoernooi by Laerskool Hugo Rust te Wellington, asook ’n swemgala te Elkanah House afgesluit. Die skoolprogram in al sy fasette hardloop klopdisselboom, met leerders wat aan verskeie kulturele-, sport- en akademiese aktiwiteite deelneem. Ek het nogal begrip dat dit ’n logistieke uitdaging vir ouers kan wees om hul kind/ers betyds by al die verskillende aktiwiteite te kry en dit mag dalk ook vir al ons nuwe ouers oorweldigend wees. Die skool gaan daarom uit sy pad om sover as moontlik vervoer vir ons leerders in dié verband te verskaf. Dit is ’n waardevolle diens wat baie min skole vandag nog vir hul leerders bied.

Week 6 is, soos die vorige weke, ook besig en propvol opwinding, met die jaarlikse Interskole-atletiekbyeenkoms wat ons by Hoërskool Jan van Riebeeck se Boshoff-veld op Dinsdag, 17 Februarie, aangebied het. Twee-en-sestig van ons atlete het aan die byeenkoms deelgeneem en puik gevaar. Baie dankie en baie geluk aan mnr. Leon Hanekom en sy span met die suksesvolle interskole-atletiekdag waaraan tien skole deelgeneem het. Baie geluk aan die volgende 21 atlete wat na afloop van die Interskole-atletiekbyeenkoms gekwalifiseer het om vandag aan die sonebyeenkoms (slegs vir o.10–o.13-atlete) te Vygieskraal deel te neem:

1. Anouk Jacobsz, 1200m 
2. Klara Pfeifer, 1200m 
3. Lukas Loubser, 1200m  
4. Leah Jacobsz, 1200m 
5. Samuel Smit, 1200m 
6. Cato Terblanche, 1500m 
7. Graeme Ford, 0.10 – 70m Hekkies 
8. Elise Theron, o.11 – 70m H 
9. Bella Malan, o.12 – 75m Hekkies en 150m Hekkies en 150m 
10. Rafa Lamprecht, o.13 – 80m Hekkies en 200m Hekkies 
11. Stef Nel, Verspring, o.12 – 100m, 150m en hoogspring 
12. Louis Hofmeyer, o.11 – 80m en verspring 
13. Nicholaas Boshoff, o.11 – verspring 
14. Ellen van Heerden, o.12 – gewigstoot, spiesgooi en diskus 
15. Octavia Ackermann, o.10 – Hoogspring 
16. Kent Chimukuyu, o.12 – spiesgooi 
17. Anabella Boshoff, o.13 – spiesgooi 
18. Jake van der Walt, o.13 – spiesgooi 
19. Zander Smit, o.13 – diskus en 200m Hekkies 
20. Willem Viljoen, 0.12 – 150m Hekkies 
21. Maia du Toit, o.12 – 150m Hekkies 

Ons is baie trots op julle en hou styf duimvas dat julle almal vir die WP-kampioenskappe op 28 Februarie 2026 sal kwalifiseer.  Ons wag nog om te hoor waar presies die WP-byeenkoms vanjaar sal plaasvind. 

Ons gr. 3’s en 6’e van 2025 het ons weereens baie trots gemaak met die aflê van die sistemiese toetse wat deur alle Wes-Kaap-leerders in gr. 3, 6 en 9 geskryf word. Hierdie sistemiese toetsing het op 15 Oktober 2025 by ons skool plaasgevind. Die WKOD (Wes-Kaap Onderwysdepartement) het sedert 2002 sistemiese toetse in Taal en Wiskunde vir alle graad 3- en 6-leerders afgeneem. Die program is in 2010 ook na graad 9 uitgebrei. Die uitslae help skole om dele wat verbetering verg te identifiseer en die WKOD om vas te stel watter dele van die kurrikulum bykomende ondersteuning benodig. Ons puik uitslae het ons op Maandag, 16 Februarie 2026, ontvang en is soos volg:
 
Graad 3:

Wiskunde: Ons graad 3’s het ’n 100%-slaagpersentasie en 84,4%-gemiddelde behaal. Die provinsie het ’n 62%-slaagpersentasie en 57,2%-gemiddelde behaal. Kwintiel 5-skole (skole wat met JvR vergelyk) het ’n 77,9%-slaagpersentasie en 67,1%-gemiddelde behaal.

Huistaal (Afrikaans): Ons graad 3’s het ’n 92,5%-slaagpersentasie en 71,6%-gemiddelde behaal. Die provinsie het ’n 51,2%-slaagpersentasie en 49,1%-gemiddelde behaal. Die kwintiel 5-skole (skole wat met JvR vergelyk) het ’n 71,7%-slaagpersentasie en 61,4%-gemiddelde behaal.

Graad 6:

Wiskunde: Ons graad 6’e het ’n 100%-slaagpersentasie en 84,8%-gemiddelde behaal. Die provinsie het ’n 41,6%-slaagpersentasie en 47%-gemiddelde behaal. Die kwintiel 5-skole (skole wat met JvR vergelyk) het ’n 67,5%-slaagpersentasie en 61,1%-gemiddelde behaal.

Huistaal (Afrikaans): Ons graad 6’e het ’n 98,5%-slaagpersentasie en 75,9%-gemiddelde behaal – ’n aansienlike verbetering vanaf die 2024-uitslae. Die provinsie het ’n 44,5%-slaagpersentasie en 44,7%-gemiddelde behaal. Die kwintiel 5-skole (skole wat met JvR vergelyk) het ’n 70,8%-slaagpersentasie en 57,4%-gemiddelde behaal.

Ons is die enigste laerskool in ons distrik wat ’n 100%-slaagsyfer vir Wiskunde gr. 3 en gr. 6 behaal het. Baie dankie aan ons toegewyde onderwysers vir hul leeueaandeel in die verband.

Ons wil egter graag ons huistaal-uitslae verbeter en dus versoek ons julle om jul kind/ers aan te moedig om meer te lees, maar veral Afrikaanse boeke – ons mediasentrum het verskeie moderne Afrikaanse leesboeke wat leerders kan gaan uitneem. Ons leerders vaar puik in Engels daarom vra ons julle om meer gereeld tuis met jul kind/ers in Afrikaans te kommunikeer en/of Afrikaanse stories vir hulle te lees. Ons kinders word op verskeie terreine aan Engels blootgestel wat maak dat hulle dikwels met die betekenis van eenvoudige Afrikaanse begrippe sukkel.

Die skoolbestuur is tans besig om ’n strategie in plek te stel waarmee ons Afrikaans verder onder ons leerders wil promoveer, aangesien baie leerders wel lees, maar hulle verkies egter Engelse boeke en praat met mekaar Engels by die skool – ons spreek dit gereeld aan. Leerders dink natuurlik dit is baie “cool” om Engels met mekaar te praat, maar hulle besef nie die impak wat dit op akademiese vordering het nie.

Baie dankie dat julle ons in die verband gaan help om ons pragtige taal te beskerm en te promoveer.

Ek is saam met ons leerders en personeel baie opgewonde om almal later vanaand by die jaarlikse klasbraai by die Conradieveld vanaf 18:00 te ontvang. Weens ’n tekort aan parkeerspasie by Huppelland versoek ek julle om asseblief eerder van Uber gebruik te maak om julle en jul gesinslede te vervoer. Bring dus jou piekniekmandjie of iets “lekkers” om op die kole te gooi, of laat Uber Eats iets te ete aflewer, en geniet die heerlike samesyn en geselligheid wat net Laerskool Jan van Riebeeck kan opdis. 

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:

“Die son trek water”

Die uitdrukking word gebruik om aan te dui dat die son besig is om onder te gaan; met ander woorde, dit word laat en ons moet klaarmaak waarmee ons besig is om betyds voor donker by die huis te kom.

Geniet die klasbraai en samesyn vanaand, en mag julle ’n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin geniet.

Groetnis 
Naas Beets
SKOOLHOOF