Dit is vandag Vrydag, 13 Februarie! Volgens mites en legendes is Vrydag die 13de ‘n gedoemde dag! Dalk wonder julle ook soos ek: waar kom die bang-Jan-storie vandaan? Ek glo hierdie is ‘n bygeloof wat dikwels onnodig angs by baie mense veroorsaak. Tog bly dit interessant dat hotelle en hospitale nie ‘n kamernommer 13 of ‘n dertiende verdieping het nie. Die negatiewe konnektasie met Vrydag die 13de het ‘n kombinasie van godsdienstige en kulturele oorsprong. Uit ‘n godsdienstige oogpunt word Vrydag die 13de as ‘n ongelukkige dag beskou, want dit was die 13de dissipel, naamlik Judas Iskariot, wat Jesus verraai het, wat gelei het tot Jesus se kruisiging op ‘n Vrydag.

Vandag vier ons Valentynsdag by die skool, aangesien dit môre wêreldwyd gevier word waar mense dikwels die geleentheid gebruik om die liefde behoorlik te vier. Op Valentynsdag word die liefde dikwels met blomme, kaartjies en pragtige geskenke gevier. Vir seker beskou baie mense dit net as ‘n kommersiële foefie en bloot ‘n geldmaakspul, maar tog word hierdie gewilde dag in Suid-Afrika geassosieer met die stuur van kaartjies, geskenke en blomme aan ‘n geliefde, en volgens statistiek word die aand met ‘n romantiese ete deur 80% van alle verliefde paartjies afgesluit.

Die personeel vier vandag saam met die leerders die liefde en omgee vir mekaar en trek ons tradisioneel ‘iets’ rooi, pienk en/of wit aan. Op ‘n manier sluit die Valentynsvieringe by een van ons kernwaardes, naamlik OMGEE, aan. Ons kinders word groot in ‘n era waar alles ongelukkig resultaatgedrewe en materialisties van aard is. Ons vergeet dat ons kosbaarste kommoditeit nie in die bank lê nie, maar eerder dat liefde alle kwaad oorwin. Vandag geskied ook die jaarlikse en gewilde Valentynsdagverkope wat tydens eerste pouse in die vierkant plaasvind. Baie dankie aan al ons ouers/voogde vir al die wonderlike Valentynsdagitems wat te koop is. Ek hoop en vertrou dat julle ook op hierdie Valentynsdag tot in die afgrond bederf sal word, julle jul geliefdes sal bederf, en mag ons nooit die krag van liefde en vergifnis onderskat nie. Daar is vandag ontelbare mense in die wêreld wie se mees basiese behoefte om geliefd te wees nie eers amper vervul word nie. Die rede hiervoor is seker dat die mensdom vandag so behep is met hul eie dinge en gefokus is om hul eie doelwitte na te streef, dat hulle nie tyd maak om liefde vir hul medemens te gee nie. Kom ons maak tyd vir ons medemens, selfs in ons eie skoolgemeenskap waar daar baie mense sonder liefde en omgee leef. Laat ons nooit vergeet dat omgee ‘n positiewe krag van deernis besit wat mense oor kulture saambind. Mag ons skoolgemeenskap omgee as ‘n lewensfilosofie daagliks uitleef om ‘n verskil in die brose wêreld te maak.

Op Vrydag, 06 Februarie, het die graad 4’s hul eerste Engelse (Eerste Addisionele Taal)-assessering suksesvol afgelê met ‘n puik gemiddelde van 70%. Die assessering (skryfstuk) het gehandel oor die eerste leerders verbonde aan Laerskool Jan van Riebeeck meer as ‘n eeu gelede. Ons Gr. 4-leerders het die geleentheid gekry om op die dag soos die eerste leerders van die skool aan te trek. Baie dankie, juf. Marianne, vir die puik inisiatief. Die leerders het pragtig in ‘20ste-eeu-skooldrag’ gelyk en dit het sommer ook baie gehelp om die angs vir assessering te verminder.

Baie geluk en baie dankie aan juf. Rolene en mnr. Leon Starker wat op 06 en 07 Februarie ‘n suksesvolle koorkamp vir die senior koor aangebied het. Ons senior koor bestaan vanjaar uit 62 lede. Hulle het soveel baat by die koorkamp gevind. Die koorkamp is op Saterdag, 07 Februarie, om 14:30 met ‘n koorkonsert vir hul ouers afgesluit om te wys wat hulle alles oor die twee dae geleer het. Ek het die voorreg gehad om dit by te woon en weereens wil ek al die koorouers hartlik bedank dat hulle al die nuwe koorinisiatiewe so getrou ondersteun. Dit verg harde werk en toewyding om as ‘n koor te ontwikkel en te presteer. Ek is vas oortuig dat daar weer vanjaar vir die senior koor ‘n suksesvolle jaar, propvol opwinding, voorlê.
Vanaf 11 tot 12 Februarie het ons skool se interne redenaarskompetisie plaasgevind. Baie dankie aan juf. Andri wat aan die stuur van sake staan, en sy word vanjaar deur juf. Anthea in die verband ondersteun. Die volgende Gr. 4–7-leerders het deelgeneem:
Ek sal in volgende week se nuusbrief meer terugvoering rakende die uitslae gee nadat die graad 6 en 7’s se voorbereide en onvoorbereide toesprake afgehandel is. 

Op 22 Januarie 2026 het ons vir julle kennis gegee dat daar twee vakatures op die Beheerraad gevul moet word as gevolg van twee lede wat teen die einde van 2025 bedank het. Ons het teen die sperdatum (04 Februarie om 12:00) vir nominasies slegs die volgende twee kandidate as genomineerdes ontvang:

  • Oloff Sieberhagen

  • Sybil Müller (Tesourier)

Daar sal dus nie meer ‘n aanlyn verkiesing op 16 Februarie plaasvind nie, en is dit my eer en voorreg om beide Oloff en Sybil hartlik geluk te wens met die verkiesing tot die Beheerraad. Ons beste wense vergesel hulle met die belangrike rol wat hulle binne ons skoolgemeenskap gaan speel.

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te bevorder:

“‘n Kat in die sak koop’’


Die uitdrukking word gebruik wanneer iemand ‘n slegte koop doen, m.a.w. wanneer jy iets koop waaroor jy later spyt is. Hierdie uitdrukking spruit uit ‘n ou gebruik op markdae waar verkopers jong varkies aan kopers moes wys voordat dit in sakke gelaai is. Hierdie varkies was kosbaar en baie gewild aangesien dit baie winsgewend was. Skelm verkopers het egter vooraf toegeknoopte sakke uitgesit sodat ‘n haastige of goedgelowige koper sommer een so in die verbygaan kon gryp, betaal en huis toe kon neem. Die sakke was egter toe en die koper kon nie sien watter dier in die sakkie was nie. Eers tuis vind die koper dan nie ‘n vet jong speenvarkie in die sak nie, maar eerder ‘n waardelose kat wat niemand sou aanskaf nie.

Mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin geniet.

Groetnis 
Naas Beets
SKOOLHOOF