Dit is my groot eer en voorreg om almal na afloop van die lekker somervakansie by ons geliefde skool terug te verwelkom. Ek vertrou almal het ‘n heerlike vakansie en ‘n Geseënde Kerstyd saam met familie en vriende geniet. Ek glo almal se spreekwoordelike batterye is ten volle herlaai en slaggereed om die nuwe jaar aan te pak.

Groot opwinding het saam met hoë energievlakke op Woensdagoggend, 16 Januarie 2026, tydens die opening van die skool na die heerlike somervakansie geheers. Ons graad 1’s asook al ons nuwe leerders is spesiaal met ope arms deur die nuwe leerderraad en BRUL-JANt ontvang en sonder enige trane na hul onderskeie klaskamers vergesel. Dit was so lekker om al ons leerders, ouers/voogde en personeel weer te sien, blad te skud, drukkies te gee en sommer net lekker te gesels oor die wonderlike vakansie-ervarings asook die opwindende jaar wat voorlê.

Ek het dan ook die voorreg gehad om met die aanvang van die eerste skooldag die gr. 2- tot 7-leerders amptelik in die saal te verwelkom. My saalboodskap vir die eerste dag van die skooljaar het gehandel oor of hulle (leerders en personeel) gereed voel vir hul onderskeie nuwe grade asook alles wat die nuwe jaar gaan bied. Ek het mooi verduidelik dat ‘n mens nooit regtig gereed sal voel om iets nuuts aan te pak nie, want dit is nie ‘n gevoel nie – dis eerder ‘n besluit.

Ons weet dat ons vanjaar weer baie besluite moet neem en dus het ek en die personeel saam met die leerders kollektief die volgende besluite (ons Jannies-nuwejaarsvoornemens) geneem:

  • Om te alle tye alle mense met respek te behandel;

  • Om verantwoordelikheid vir ons besluite en dade te neem;

  • Om eerlik te wees;

  • Om vir mense, diere en die omgewing om te gee.

Hierdie bogenoemde besluite is gebaseer op ons skool se vier kernwaardes, naamlik Respek, Omgee, Verantwoordelikheid en Eerlikheid. Baie dankie aan Pieter Derksen (Gr. 5) en Graham Ford (Gr. 4) wat my gehelp het tydens die saalaanbieding om my boodskap oor te bring.

Laat my toe om veral ons nuwe leerders en ouers/voogde hartlik by die LS Jan van Riebeeck-familie te verwelkom. Ek weet julle sal sommer vinnig inskakel en deel word van ‘n trotse omgee-skoolgemeenskap. Laat my toe om weereens vir almal ‘n wonderlike en ‘n voorspoedige 2026 toe te wens. ‘n Nuwe jaar bring nuwe geleenthede, nuwe lesse en nuwe uitdagings – kom ons maak die beste daarvan gebruik.

Dit is dan ‘n riem onder die hart om met julle te deel dat al ons personeel veilig na die lang vakansie terug is, uitgerus en slaggereed is om jul kinders te onderrig en te inspireer om te verseker dat elke Jannie sy/haar skooljaar terdeë sal geniet. Ons streef daarna dat elke leerder sy/haar volle potensiaal sal bereik teen die tempo waarteen elke leerder individueel ontwikkel.

Graag verwelkom ek dan ook die volgende nuwe personeellede:

  • Juf. Bea de Wit (musiekonderwyser en betrokke by junior koor)

  • Juf. Mieke Eefting (Gr. 1-opvoeder)

  • Juf. Anthea Gravett (Gr. 2-opvoeder)

  • Juf. Esmarié du Plessis (Gr. 3-opvoeder)

  • Juf. Monica Robertson (Gr. 1-intern)

  • Juf. Herculine Becker (Gr. 1-intern)

Baie welkom ook aan juf. Mardry (Gr. 5-opvoeder)  wat na afloop van haar kraamverlof teruggekeer het.

 

Graag wil ek julle asseblief versoek om volgende week op Donderdagaand, 22 Januarie 2026, vanaf 18:00 die jaarlikse bekendstellingsfunksie en inligtingsaand by die skool by te woon sodat julle ook al jul kinders se nuwe opvoeders asook ander nuwe personeel kan ontmoet. Die program vir die aand werk as volg:

18:00 – Inligtingsgesprek met klasopvoeder in die klaskamer soos deur opvoeders gereël. Benut asseblief dié geleentheid om jou kind se leeromgewing te verken en die roetines/stelsels binne-in die klas beter te verstaan. Ons gaan ook die akademiese verwagtinge vir die betrokke graad deurgee. Die opvoeders moet egter direk na afloop van die vergadering saam met julle as ouers/voogde na die saal vir die bekendstellingsfunksie beweeg. Individuele afsprake sal op ‘n latere stadium met ouers/voogde gemaak word sodra die basislynassesserings voltooi is.

18:45 – Almal verdaag saal toe vir ons algemene inligtings- en bekendstellingsvergadering. Na afloop van die bekendstellingsfunksie sal smaaklike etes wat deur Karri verkoop word, geniet word. Ek sien baie uit na die heerlike samesyn.

Neem asseblief kennis dat ons vanjaar weer vroeër met ons sportoefeninge begin. Die atletiekspan het alreeds vanaf Woensdag, 14 Januarie, begin oefen ter voorbereiding van die Interskole-atletiekbyeenkoms wat Dinsdag, 17 Februarie, plaasvind. Die somersport buitemuurseprogram skop dan amptelik op Maandag, 19 Januarie 2026, af. Hou asseblief Saterdagoggend, 24 Januarie 2026, oop waartydens ons weer die gewilde ouer-kind sportdag by die Conradieveld gaan aanbied. Daar sal ook heerlike verversings te koop wees. Die doel hiervan is om pret saam met jou kind/ers te hê terwyl ouers ook die geleentheid kry om sommer mekaar beter te leer ken, nuwe vriende te maak en saam die jaar behoorlik op ‘n hoë noot af te skop met lekker geesvang.

Die musiekprogram skop ook amptelik op Maandag, 19 Januarie 2026, onder leiding van juf. Rolene van Zyl, Hoof van Musiek en Kultuur, af. Kontak gerus vir juf. Rolene indien jou kind musiekonderrig wil ontvang of in musiek belangstel. Ons poog om vanjaar weer aktief die kultuur-spyskaart vir ons leerders uit te brei.

Indien iemand dalk sou belangstel om vanaf 2026 ‘n behoeftige leerder van ons skool se 2026 skoolfooie te borg, is julle welkom om my te kontak.

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:

‘n Pleganker wees


Die uitdrukking word gebruik om na iemand te verwys wat tydens uiterste nood kan help. Die letterlike betekenis van pleganker het met skeepsvaart te doen. ‘n Pleg verwys na ‘n verhoogde dek op die voor- of agterstewe van die vaartuig. Die pleganker is die anker op die pleg van die vaartuig wat in noodgevalle gebruik word. Figuurlik sinspeel dit dus op iets of iemand wat ondersteuning bied of ‘n laaste toevlug is.

Mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin geniet.

Groetnis

Naas Beets

SKOOLHOOF