Ons wens vir almal ‘n baie voorspoedige 2018 toe.
Alle sport vir die jaar skop Maandag, 22 Januarie af. Alle leerders het Woensdag die Somer Sportprogram ontvang met die oefentye van alle sport. Bewaar dit asb, indien dit wegraak of u het dit nie ontvang nie, is dit ook op die skool se webwerf beskikbaar. SOMER SPORTPROGRAM
Ons streef daarna om vir ons leerders soveel moontlike geleenthede te skep en daarom het ons ook al die privaataktiwiteite aan die agterkant van die Somerporgram ingesluit. Ouers moet egter self die onderskeie mense kontak om reëlings te tref. PRIVAATAKTIWITEITE

Ons is baie opgewonde om hierdie jaar met nuwe krieketafrigters te begin. Die hoofafrigter is Allison Johnson. Hy bring 28 jaar se afrigters-ondervinding van onder meer die WP O/13 – O/19 spanne na ons skool. Hy is ook baie betrokke by Groenpunt krieketklub en maak ook so vir ons spelers ander deure oop. Die ander afrigters wat saam met hom gaan werk is Seon Mouton en Tom Redhead. Ouers is ook welkom om vir AllIson te kontak vir privaatafrigtingsessies. Hou die webkalender dop vir al die wedstryddatums.

Die jaar 2018 hou ook nuwe dinge vir ons tennis in. Ons moes aan die einde van 2017 vir juffrou Nora Verster, tennishoof, en Deoné Bosman, privaatafrigter, groet. Ons is baie dankbaar vir alles wat hulle vir tennis gedoen het by Laerskool Jan van Riebeeck. Ons verwelkom vir juffrou Marli Klynsmith as ons nuwe tennishoof en Simone Mulder as ons nuwe privaatafrigter vir 2018.

Baie dankie vir almal se ondersteuning gedurende die Kleuresportbyeenkoms die einde van 2017. Die uitslae is op die skool se webwerf beskikbaar. Ons gebruik hierdie uitslae om die atletiekspan saam te stel wat aan die Interskole byeenkoms op Maandag, 5 Februarie, deelneem. Die atlete wat vir die span gekies is, sal binnekort hul briewe ontvang met meer inligting. Indien daar enige nuwe leerders is wat wil deelneem aan die Interskole moet hulle vir Mnr Hanekom teen Woensdag, 24 Januarie, kontak. Hy sal dan reël dat jy teen die ander atlete, wat reeds gekwalifiseer het, deelneem om te sien of jou uitslae beter is. Ons herinner ook almal dat die atletiekoefening vir die eerste kwartaal slegs vir die atlete is wat vir die span gekies is. Hierdie reëling is om te verseker dat ons meer aandag aan die atlete kan gee. Almal is weer welkom om oefening in die vierde kwartaal by te woon. Die uitsondering is wel die tweekamp- en landloopatlete wat steeds saam met die atletiekspan oefen.

Ons begin ook Maandag met ons swemoefening. Ons wil ‘n versoek tot leerders doen om asb so min as moontlik water uit die swembad te spat tydens oefening. Swimsmart begin ook van hierdie jaar af aktief met hul privaatlesse by die skool en ouers is welkom om hulle te kontak.

Ons wil ‘n beroep op ouers doen om asb die kalender dop te hou vir wedstryde, toernooie en sportdae se datums wanneer dit kom by die beplanning van partytjies en vakansies. Dit plaas afrigters en ander spanlede in ‘n baie slegte posisie indien spelers nie kan deelneem nie. Ons plaas alle gebeure op die kalender sodra dit bevestig is. Indien ouers betrokke wil raak, enige navrae of voorstelle het, kan hul gerus die sportkantoor kontak by sport@jvrprim.co.za . Ek gaan nie elke dag by die skool wees nie a.g.v ons eie babatjie wat in Februarie sy verskyning maak. Ek gaan wel sommige dae by die skool wees en ander dae van die huis af werk en sal so gou moontlik terugkom na enige navrae. Ons beplan om ‘n vraelys aan die einde van die somerseisoen aan ouers te stuur, om terugvoer van julle te kry. Die doel is om hierdeur aan te hou groei en ontwikkel om so Laerskool Jan van Riebeeck se sport tot nuwe hoogtes te neem. Baie sterkte aan al ons sportmanne en -vroue vir 2018.