Ek het al gewonder of dit ‘n versugting is om uit te spreek dat tyd net te vinnig verby vlieg, aangesien ons hierdie naweek spreekwoordelik van Augustus-maand afskeid neem. Dit beteken meer as die helfte van kwartaal 3 is alweer agter die rug. Hierdie week het juf. Cornel (Gr. 5) ook as aflosonderwyser in juf. Mardry se plek by ons aangesluit aangesien juf. Mardry vir die volgende 4 maande met kraamverlof is. Ons beste wense vergesel juf. Mardry, haar man Kyle en baba-Bailey wat binnekort haar opwagting gaan maak.

Hierdie naweek sluit ons dan ook amptelik met ‘n baie suksesvolle wintersportseisoen af en besoek ons vir Laerskool Welgemoed in die noordelike voorstede met hokkiewedstryde wat gister- en vanmiddag afgelê word. Netbal- en rugbywedstryde sal môre die amptelike ‘eindfluitjie’ vir die sportseisoen blaas. Ek glo julle het dit net soveel soos ons leerders geniet. Hartlike dank aan ons toegewyde afrigters, ons lojale ouers/voogde wat al die wedstryde so getrou ondersteun het en dan laaste, maar nie die minste nie, ons toegewyde leerders wat getrou hul oefeninge bygewoon het en elke wedstryd net hul beste vir hul onderskeie spanne gegee het – ons is so trots op julle!

Die afgelope week het die volgende nie-sportaktiwiteite by die skool plaasgevind:

Die bekende skryfster van jeugfiksie, naamlik Christien Neser, het ons skool op Donderdag, 21 Augustus, besoek. Sy het met ons gr. 5- en 6-dogters oor haar gewilde jeugboeke kom gesels asook ‘n puik skryfkursus vir hulle aangebied. Vanaf 18:00 die aand het sy ‘n baie interessante gesprek (Help! My kind is anders) rakende neurodiversiteit met ons ouers in die mediasentrum gevoer. ‘n Mens hoor so baie van neurodiversiteit en die verkeerde afleidings is dikwels dat mense dink dit is net ‘n vorm of kondisie van outisme, kinders wat aandagafleibaar is, obsessiewe kompulsiewe gedrag, angstigheid en/of disleksie.

Ek mag dalk verkeerd wees, maar in ‘n neutedop dink ek dat neurodiversiteit eerder beskryf kan word dat mense hul omgewing en wêreld rondom hulle op verskillende maniere ervaar en daarmee moet omgaan. Ons vergeet dikwels dat mense se breine op verskillende maniere werk en daar is nie net een regte manier van dink, leer en optree nie. Wanneer dit by neurodiversiteit kom, moet ons eerder fokus op ‘breinverskille’ as om altyd te dink daar is iets groot fout met ‘n persoon! Hoe beter ons die komplekse funksionering van die brein verstaan, hoe makliker kan ons ons leerders ondersteun. Gelukkig word daar vandag ongelooflike navorsing gedoen en daar is insiggewende inligting beskikbaar om ons te help om neurodiverse mense/leerders beter te verstaan en te ondersteun. Ongelukkig is daar die realiteit van ons onverdraagsame en uitgesproke samelewing wat dit vir die tipe leerders en hul ouers geweldig uitdagend maak. Baie dankie, Christien, vir jou kosbare tyd en wonderlike raad aan ons ouers/voogde met ‘n kind(ers) wat die spesifieke uitdagings op ‘n daaglikse basis beleef en moet hanteer. Ons is weereens baie dankbaar vir ons Zen Den onder leiding van juf. Marietjie wat uitstekende ondersteuningswerk in die verband doen.

Baie dankie aan mnr. Leon en juf. Andri wat Vrydagmiddag, 22 Augustus, asook Saterdagoggend, 23 Augustus, ‘n opwindende wiskundekamp vir ons gr. 6- en 7-leerders aangebied het. Ons leerders het dit terdeë geniet en hulle is op verskeie wiskundige aspekte op ‘n hoë vlak uitgedaag om onder andere vir toekomstige wiskunde-olimpiades voor te berei. Die belangrike doel egter vir my rakende die wiskundekamp is om die liefde vir Wiskunde verder onder ons leerders te kweek.

Baie dankie aan juf. Ilse-Marié (Gr. 4 en vakhoof vir Afrikaanse Huistaal) en haar span wat die WOW-Spelkompetisie op Vrydagmiddag, 22 Augustus, by ons skool suksesvol aangebied het. Baie geluk aan die volgende leerders wat ‘n top-vier posisie behaal het en na die provinsiale rondte vorder wat op 13 September plaasvind:

Graad 1: Frannie Samuel (2de) en Joshua du Toit (1ste)

Graad 2: Mary-Anne du Toit (4de) en Izak Steyn (3de)

Graad 3: Petronella Gouws (2de) en Charles Thompson (1ste)

Graad 4: Benjie Ntloko (3de), Mateo Pereira (2de) en Mika van der Walt (1ste)

Graad 5: Noah Karusseit (4de), Jacob Venter (3de) en Dirk de Jager (2de)

Graad 6: Ella van der Walt (2de) en Ghia Pereira (1ste)

Baie geluk aan die bogenoemde leerders met jul puik prestasies. Ons hou vir julle styf duimvas vir die provinsiale rondte wat voorlê.

Graag neem ek die vrymoedigheid om die volgende ernstige saak met julle te bespreek. Verskeie ouers het my die afgelope tyd genader rakende hul kinders se “Soft Shell”-baadjies wat net spoorloos by die skool verdwyn soos die kinders dit tydens skoolure uittrek. Ouers en leerders gaan dan na verlore goedere, maar kry dit nie daar nie. Ons vermoed dat leerders soms veral teen die einde van ‘n pouse net enige baadjie gryp wat hulle kry. Ouers/voogde kyk dalk nie by die huis na die baadjies nie, en sien dalk nie dat die baadjie aan ‘n ander leerder behoort nie. Leerders se klere is gewoonlik duidelik gemerk en dit kan gebeur dat die baadjies dus so onbewustelik in kinders se kaste bly. Ek wil dus julle vriendelik versoek om asseblief ‘n slag te kyk dat jul kinders moontlik nie ‘n ander leerder se gemerkte skooldrag dra nie. Baie dankie vir julle begrip en dringende aandag. Ek waardeer baie!

Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ‘n bekende Afrikaanse uitdrukking af:

“Hoe kaler die jakkals, hoe groter die stert.”

Die uitdrukking beteken: hy wat die minste besit, spog dikwels die meeste!

Vriendelike groete

Naas Beets

SKOOLHOOF