Die senior koor het die afgelope naweek na George getoer om aan die Cantamus Nasionale Skole Koorfees en -kompetisie deel te neem. Die koor het vroeg Saterdagoggend uit Kaapstad vertrek en reeds Saterdagmiddag by ’n konsert in die George Burgersentrum gesing. Deel van die opwinding en spesiale belewenis was die geleentheid om na ander kore van regoor die land te luister. Die kompetisie het Sondagmiddag plaasgevind, en die koor het deelgeneem in die kategorie vir laerskoolkore. Ons senior koor het vier liedere gesing, waaronder die bekende Afrikaanse kunslied “Malie, die slaaf, se lied” van S. le Roux Marais.
Die aand is afgesluit met ’n prysuitdelingseremonie waar ons aangewys is as die wenners in die kategorie vir laerskoolkore. Ons het ook ’n algehele derde plek behaal, met ’n gemiddelde persentasie van 85%. Ons is ongelooflik dankbaar vir die positiewe uitslag en verheug dat die leerders se harde werk en toewyding op hierdie manier beloon is. Dit was ’n trotse oomblik wat die koor vir altyd sal bybly.
’n Besonderse woord van dank gaan aan mnr. Leon Starker vir sy leiding en geloof in die koor. Ons koormammas verdien ook elk ’n massiewe “dankie” vir hul ondersteuning en hulp met die organisering en bestuur van die toer: Joanita du Toit, Thelma Janse van Rensburg, Louiza Rademan, Coreen Scholtz, Suzanne Jacobsz, Samantha le Roux en Catherine Lawson. Dankie ook aan al die ander ouers wat ons vergesel het – julle ondersteuning en omgee beteken baie. Elkeen se insette en hulp het ’n bydrae gelewer tot die koor se ongelooflike lekker naweek!
Baie geluk, senior koor! Ons is ongelooflik trots op julle harde werk, fokus en toewyding.