Die afgelope jaar moes ek myself spreekwoordelik knyp rakende al die ongelooflike suksesse wat ons skool behaal het. Ons skool het al vir ‘n geruime tyd ‘n sterk akademiese reputasie en aanslag. Om die waarde van goeie laerskoolopleiding verder uit te brei, is dit belangrik dat ons ons leerders holisties opvoed en dus ‘n bietjie wyer fokus as net akademie. Dus het ons die afgelope paar jare hard gewerk om sport en kultuur op dieselfde standaard en prestasie as akademie te kry. Ons streef daarna dat akademie, sport en kultuur ‘n perfekte balans sal vind, maar dit gebeur nie oornag nie en verg harde werk en toewyding. Ons besef dat net in woordeboeke die woorde “sukses” voor “werk” (as gevolg van alfabetisering) geplaas word, maar ons weet nêrens anders in die wêreld nie. Daar is ongelukkig nie kortpaaie tot sukses nie – dit verg deeglike beplanning, harde werk en deursettingsvermoë. Ons moet dus ons leerders ook leer dat harde werk en deursettingsvermoë talle voordele inhou. Leerders besef nie aldag dat harde werk, die regte gesindheid en selfdissipline jou baie verder neem as wat net talent kan nie. Ek glo dat ons ons leerders binne ‘n veilige leeromgewing moet leer dat deur hard te werk en om vas te byt, instrumenteel is om jou volle potensiaal te bereik. Wanneer harde werk en toewyding begin om vrugte af te werp, bou dit leerders se selfvertroue wat weer tot verdere suksesse kan lei, en dit sluit aan by onder andere die merkwaardige prestasie wat ons senior koor oor die afgelope naweek behaal het.
Ons senior koor (45 leerders) het vroeg Saterdagoggend, 9 Augustus, na George vertrek om vanaf 9–11 Augustus aan die gewilde Cantamus Koorkompetisie deel te neem. Daar het 19 skole aan die koorkompetisie deelgeneem, waartydens ons ‘n algehele 3de plek met ‘n 85%-puntetoekenning behaal het. Wat verder merkwaardig is, is dat ons ook die kategorie vir die beste laerskool gewen het. Dis ‘n uitmuntende prestasie en nog ‘n trotse oomblik vir ons skool. Baie dankie en geluk aan mnr. Leon Starker en juf. Rolene vir julle leeue-aandeel in die koor se sukses. Mnr. Leon het so bietjie meer as ‘n jaar gelede as dirigent van die senior koor by ons aangesluit en saam met juf. Rolene, wat die koor begelei, reusewerk gedoen om die senior koor binne ‘n relatiewe kort tydperk op ‘n kompeterende standaard te kry om aan ‘n koorkompetisie deel te neem en nie net aan koorfeeste nie. ‘n Hartlike geluk aan die senior koorleerders; hulle het hard geoefen en moes baie opofferings maak en het dikwels gevoel dit is te harde werk en sou eerder verkies het om tyd saam met hul maats te spandeer, maar deur te volhou het hulle nie net sukses behaal nie, maar hoëvlakprestasie ervaar. Ek glo dat die koorervaring ‘n blywende belewenis vir hulle sal wees en dat hulle besef dat hulle almal belangrike ratte in ‘n masjien is wat seepglad moet loop. Hulle het geleer van spanwerk, samehorigheid en veerkragtigheid wat belangrik is om gemeenskaplike doelwitte te bereik – hierdie is almal groot lewenslesse wat nie sommer binne die vier mure van ‘n klaskamer geleer word nie. Laat my ook toe om juf. Ilse-Marié (Gr. 4-juffrou) hartlik te bedank wat die koortoer vergesel het om te help met toesig en beheer. Laaste, maar nie die minste nie, wil ek my dankbaarheid teenoor die volgende koormammas uitspreek wat ook die koortoer meegemaak het om met toesig en logistieke reëlings te help:
- Joanita du Toit
- Thelma Janse van Rensburg
- Suzanne Jacobsz
- Coreen Scholtz
- Louiza Rademan
- Samantha le Roux
- Cathy Lawson
Baie dankie ook aan Freda Theron, Jenine Boshoff en Barlodien Laubscher wat ook ter voorbereiding hand bygesit het om die sukses van die koortoer te verseker. Dit was beslis ‘n kollektiewe poging deur koorleerders, ouers en personeel – daarvoor is ek baie dankbaar en uiters trots!
Dit mag dalk voorkom of ek net aanhou spog, maar die suksesverhale stop nie net die afgelope naweek by die koor nie, aangesien ons o/10A-netbalspan op Dinsdagmiddag, 12 Augustus, goud tydens die WP-liga finale se uitspeelrondtes te Laerskool Edgemead gewen het. Hulle het teen Laerskole Vishoek, Edgemead en Somerset College gewen om tot die semi-finale teen Curro Durbanville te vorder, wat hulle met 8–5 gewen het. Hulle wen toe 9–3 in ‘n titaniese finale teen Laerskool Labiance, geleë in Bellville. Baie geluk aan die o/10A-netbalspelers en hul afrigters, juff. Lucia en Anika, met jul puik prestasie. Julle maak ons baie trots!
Op Dinsdag, 12 Augustus, is die saalboodskap deur ons 2025-hoofdogter en -hoofseun gelewer. Katryn Silvis en Nils le Roux het met hul eerste amptelike optrede as die nuwe hoofseun en -hoofdogter hul puik van hul taak gekwyt. Baie dankie aan Karlien en Jan Silvis (Katryn se ouers), en Althea en Simon le Roux (Nils se ouers) wat die simboliese aansteek van die hoofleierbalkies behartig het. My beste wense vergesel ons hoofleiers vir die groot taak wat op hulle wag.
Die afgelope week is daar sommer behoorlik gees gevang vir die afskop van die 2025-interskolenaweek wat vandag met hokkie teen Laerskool Dirkie Uys te Moorreesburg begin. Die Geesweek het met groot opwinding op Dinsdag, 12 Augustus, afgeskop met al die leerders wat blou skool toe moes dra en in oranje getooi op Woensdag, 13 Augustus. Ons eerste- en tweede skaakspanne het op Dinsdag, 12 Augustus, met die eerste interskole-wedstryde afgeskop en albei spanne het met die louere weggestap. Baie geluk aan ons skaakspanne en juf. Jua-Marie wat die 2025-interskole op ‘n hoë noot afgeskop het. Die hoogtepunt van die geesvang was natuurlik die ouers se wedstryde (raak-rugby, netbal en hokkie) agter op die nuwe kunsgrasveld teen die onderwysers wat op Woensdag, 13 Augustus, plaasgevind het. Die leerders het luidkeels hul ouers asook die onniespanne aangemoedig, maar dit tog moeilik gevind om te besluit vir watter span hulle nou eintlik moes ondersteun. Dit was groot pret en graag wil ek weer al die ouers hartlik bedank wat die tyd ingeruim het om aan die wedstryde deel te neem en in die proses dit baie spesiaal vir die leerders te maak. Die opwindende “Groot Brag” het op Donderdag, 14 Augustus, plaasgevind en die leerders het die spesiale interskole-video wat die personeel gemaak het, terdeë geniet. Die spesiale interskole-wense via video-boodskappe wat deur bekende sportsterre vir die Jannies gewys is, was nog ‘n groot hoogtepunt. Hulle was aangenaam verras dat sportsterre soos Pieter-Steph du Toit, Cheslin Kolbe, Deon Fourie, Manu Tshituka, Ryan Rickleton, Vincent Tshituka, Steven Kitshoff, Hacjivah Dayimani, Rickey Schreuder en Riley Norten vir hulle spesiale voorspoed toegewens het – die saal se dak het spreekwoordelik gelig toe die video’s gewys is.
Ek sluit dan week 4 af en wens vir julle ‘n voorspoedige interskolenaweek toe. Die Tiere wag vir ons – geniet elke oomblik saam met jou kind/ers in Moorreesburg. Onthou: wen is nie alles nie, maar wanneer ons wedstryde wen, bly ons nederig; en as ons verloor, vat ons dit op die ken, ons leer daaruit en hou aan om te verbeter. Sien baie uit om julle die naweek langs die sportvelde te Laerskool Dirkie Uys te sien en saam met julle die geleentheid te geniet.
Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ‘n bekende Afrikaanse uitdrukking af:
Ons het ‘n voëltjie hoor fluit
Die uitdrukking beteken dat ons ‘n storie of ‘n gerug gehoor het.
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF