Tienerskap kan sekerlik met ‘n tuimeltrein vergelyk word. Op en af, op en af … maak jou sitplekgordel styf vas vir ‘n opwindende avontuur.
Tydens die Professional Minds-konferensie (Teens & Tweens) wat in Mei 2025 aangebied is, het dr. Jenny Rose (kliniese sielkundige wat in kinder- en tienergeestesgesondheid spesialiseer) heelwat insig oor hierdie komplekse fase gebied. Sy noem dat die hedendaagse tiener onder baie meer druk verkeer as ‘n paar dekades terug. Tieners van vandag se stresvlakke is hoog, hulle sukkel met geestesgesondheidsuitdagings en voel dikwels alleen. Onrealistiese verwagtinge (van hulself en gemeenskap) asook te veel blootstelling op ‘n te jong ouderdom, mag redes hiervoor wees.
Dr. Rose lig uit dat ons moet onthou wat tienerskap behels, dat ontwikkeling normaal en ouderdomstoepaslik is. Dit beteken dat tieners tydens hierdie uitgerekte fase op ‘n sekere manier sal optree. Wisselvallige gedrag is die nuwe normaal, aangesien hulle hul ouers nodig het, maar soms nie naby hulle wil toelaat nie. Die primêre rol van tienerskap is om identiteit te ontwikkel. Wat hulle van hulself dink, sosiale aanvaarding en kulturele identiteit is als deel van hierdie ontwikkelingstydperk. Hierdie tydperk word ook as ‘n ontdekkingsfase en fase waartydens selfregulering en die bou van selfvertroue posvat, sodat onafhanklikheid uiteindelik bereik kan word. Onafhanklikheid word eintlik al van baie jongs af ontwikkel. Dink sommer bietjie terug aan jou tweejarige wat ‘self’ wil aantrek en eet. Jy was vreeslik gefrustreerd, aangesien jy saam met jou kind deur hierdie reguleringsfase moes werk. Vanaf elf-/twaalfjarige ouderdom ervaar jou tiener ‘n trek-en-stoot-gevoel, aangesien hulle nou leer om hulself te reguleer. Dis wat die uitdagende gedrag teweegbring. Jy weet ook ewe skielik nie of jy kom of gaan nie, wat verdere verwarring en selfs moedeloosheid by jou mag bring.
Sy noem dat jy gerus moet wees dat jou tiener wel veilig en geliefd by jou voel – al toets hulle die grense, tree wisselvallig en uitdagend op en veroorsaak konflik. Die rede hiervoor is dat jy jou kind onvoorwaardelik aanvaar, terwyl hul portuurgroep en die gemeenskap hulle voorwaardelik aanvaar. Daarom sien hul vriende en onderwysers net die mooi wat jou kind kies om te wys.
Spanning en stressors is ongemaklik en bring sekere gedrag na vore, maar moet toegelaat word om te ervaar, aangesien daar ‘n belangrike rol daarvoor is. Dis dus kardinaal vir ouers om nie voor of agter hul kind te ‘stap’ nie, maar eerder langs hul tiener, sodat jy kan bepaal wanneer ingryping of bestuur van situasies of gedrag noodsaaklik is. Lei eerder jou kind as wat jy alles vir of namens hulle doen of regmaak. Tydens hierdie ongemak bou tieners selfvertroue en veerkragtigheid. Jy wil hulle nie hiervan ontneem nie. Dis ‘n uitdagende fase vir ‘n ouer, daarom is konsekwente grense, roetine en duidelike struktuur ‘n gegewe.
Dr. Rose stipuleer die belangrikheid dat jy nie altyd op alles moet reageer nie; dat jy teenwoordig is en opdaag wanneer hulle ‘n toeskouer of ‘n skouer nodig het. Die manier waarop jy situasies hanteer, sal bepaal of jou tiener jou genoeg vertrou om in die toekoms openlik met jou te gesels. Empatie is broodnodig.
Sy noem dat jy moeite moet doen om met opset (so gereeld moontlik) na jou kind te staar of regtig diep te kyk, sodat hulle ervaar hoe wonderlik jy dink hulle is. Lyftaal spreek boekdele. Dieselfde kan ook van jou tiener se gedrag gesê word. Hulle kommunikeer dikwels deur hul lyftaal/gedrag eerder as met woorde. Tienertaal is gedrag. Hulle wys presies wat hulle dink en hoe hulle voel. Jy moet dus ‘n punt daarvan maak om soms dit waarmee jy besig is, neer te sit en opsetlik te luister, te kyk. Hulle moet weet dat jy daar is – maak nie saak wat gebeur nie.
Grense moet en sal getoets word. Dissipline moet toegepas word, aangesien jy met gesonde dissipline jou kind gereed maak om sukses te behaal. Moet dus nie bang wees om dissipline toe te pas indien nodig nie. Sien gerus verlede week se Zen Den-gesels waar dissipline bespreek word. Drie soorte dissipline om in gedagte te hou:
- Voorkomende dissipline is wanneer duidelike verwagtinge en reëls neergelê word;
- Ondersteunende dissipline word as ‘sagte’ dissipline gesien, aangesien ‘n waarskuwing of herinnering aan die reëls gelig word;
- Tydens korrektiewe dissipline word nagevolge toegepas.
Dr. Rose vertel dat breinontwikkeling prioriteit geniet deur herorganisering en volwassenheid, wat nuwe bane en konneksies in die brein beteken. Ontwikkeling van die prefrontale korteks – wat vir hoërorde-denke en besluitneming benodig word – is besig om te ontwikkel. Tienerjare word gekenmerk deur uiterse sensitiwiteit ten opsigte van sosiale vaardighede en groepsdruk, wat soms ook met riskante gedrag gepaardgaan. Wanneer ‘n tiener se brein nie gereguleer is nie, werk die regterbrein baie harder, wat irrasionele besluitneming en gedrag mag inhou. Die uitvoerende funksies is nog besig om te ontwikkel. Uitvoerende funksies sluit onder andere beplanning, organisering, uitvoering van opdragte, evaluering, ens. in. Dit verduidelik dus waarom jou tiener se kamer en klerekas so deurmekaar is. Dr. Rose gebruik die treffende metafoor dat tieners tans in ‘n halfgeboude huis woon, aangesien die brein nog nie volledig ontwikkel is nie.
Om tieners groot te maak is verseker nie aldag pret nie. Ek glo egter dat ons met genoegsame konneksie en gesonde verhoudings wel mooi volwassenes in die wêreld kan stuur. Deur te sorg dat jou tiener genoeg slaap, streng riglyne oor skermtyd implementeer, lees, oefen en gesond eet, kan jy ‘n goed gebalanseerde en gereguleerde kind in jou huis hê.
Laastens het dr. Rose genoem dat daar drie belangrike geleenthede gedurende die dag is om konneksie met jou tiener te bou. Dit hang natuurlik alles van jou kind se persoonlikheid en temperament af. Probeer om een van hierdie drie geleenthede per dag te gebruik om met jou kind verhouding te bou:
- Eerste ding in die oggend;
- Direk na skool; en
- Laaste ding in die aand.
Wanneer die huisomgewing gestruktureerd, voorspelbaar en warm is, word ‘n spasie geskep waarbinne tieners kan floreer. Hierdeur word hulle beter toegerus om hulself te reguleer, wat beteken dat hulle meer gefokus, doelgerig en gedissiplineerd optree. Dit spoel weer oor in goeie gedrag en skolastiese vordering.
Kom ons poog om elke dag van nuuts af saam met ons tieners aan te pak en te groei deur langs hulle te loop. Kom ons poog om mekaar en ons tieners te ondersteun en uit te reik tydens hierdie baie sensitiewe tuimeltreinjare … ons weet eintlik baie goed hoe dit voel. Dalk is dit weer tyd om jou eie tuimeltreinherinneringe te gaan uithaal en af te stof.
Bron: Dr. Jenny Rose, Kliniese sielkundige wat spesialiseer in kinders en tieners se geestesgesondheid, werksaam te Stellenbosch, gasspreker tydens Professional Minds-konferensie, Mei 2025.
Marinda Brink