Tyd staan beslis vir niemand stil nie, aangesien nóg ’n nuwe maand skielik sy verskyning op die kalender gemaak het. Die eerste semester van die jaar staan einde se kant toe, met die eksamen wat voor die deur staan en ’n welverdiende wintervakansie wat op ons wag.

Die eksamens vir die graad 7’s het op Dinsdag, 3 Junie, met Wiskunde afgeskop. Die eksamenmoraal is goed, leerders is gemotiveerd en die eksamenprogram verloop klopdisselboom. Vandag begin die eksamens ook vir die graad 4- tot 6-leerders en dit eindig vir almal op Woensdag, 18 Junie.

Die assesserings vir die graad 1- tot 3-leerders is ook die afgelope week afgehandel. Ek glo die grondslagfase-leerders is verlig en kan nou skaars wag vir die lekker wintervakansie. Graag wil ek die grondslagfasepersoneel komplimenteer en bedank vir hul toewyding — dat hulle selfs voor en ná die assesseringsessies hul leerders buitentoe geneem het om eers bietjie rond te hardloop en speletjies (soos leer om te huppel, kruiwastoot, ens.) in die vierkant te speel. Hierdie speletjies het beslis gehelp om die assesseringsangs te verlig. Die kinders het dit baie geniet en was sommer lekker jolig, wat gehelp het om die assesserings stresloos af te lê. Moderering van die grondslagfase se antwoordstelle geskied tans, voordat die finale punte vir die rapporte gefinaliseer word.

Sportdae en –wedstryde vir die intersen-leerders (graad 4 – 7) vir hierdie kwartaal het reeds geëindig. Die laaste sporttoernooie vir die grondslagfase-leerders vind vanmiddag en oor die naweek plaas — indien die weer dit toelaat. Sportwedstryde, veral rugby, hou altyd ’n risiko vir beserings in omdat dit ’n kontaksport is.

Saterdag, 31 Mei, was ’n hartseerdag vir ons skool. Arme Stephan Brink, ons o.13A-vleuel, het sy femur gebreek as gevolg van ’n harde duikslag tydens ’n wedstryd. Dit was ’n fratsongeluk wat baie emosies ontlok het. Die aard van sy besering was uiters traumaties — vir hom, sy ouers, spanmaats, afrigters en toeskouers. Die goeie nuus is dat Stephan ’n baie suksesvolle operasie ondergaan het. Hy is reeds op Maandagaand, 2 Junie, uit die hospitaal ontslaan en is tans tuis besig om aan te sterk.

Stephan is ’n optimis wat altyd die positiewe raaksien, en met sy uitkyk op die lewe glo ek hy gaan volkome en spoedig herstel. Ons kan beslis by hom leer dat elke donker wolk ’n silwer randjie het.

Ek besef dat die dag vir almal uiters traumaties was en beslis nie die manier waarop ons die sportkwartaal sou wou afsluit nie. Maar daar het iets besonders tydens die wagperiode, voordat Stephan in die ambulans gelaai is, afgespeel. Dit is moeilik om in woorde vas te vang, maar wat vir my uitgestaan het, is weereens die ongelooflike omgee-karakter van ons skoolgemeenskap.

Ouers van die opponerende skool het ná die tyd vir my gesê dat hulle nog nooit so iets beleef het nie. Die diepgewortelde omgee van ouers, leerders en personeel is ’n kosbare “advertensie” vir ons skool. Hulle kon sien dat die tipe ondersteuning en omgee deur dik en dun geskied — wat ’n pluimpie!

Stephan se rugbymaats was baie emosioneel, en ek wil graag vir Simon le Roux hartlik bedank wat Stephan, en ons almal, in dié moeilike situasie bygestaan het. Baie dankie, Simon, dat jy so mooi aan die span verduidelik het wat die aard van Stephan se besering was, asook die moontlike prognose.

Dankie aan al die ouers wat saam met ons in ’n kring gestaan en vir Stephan gebid het. Ek glo dit was ook ’n groot leerskool vir ons seuns en afrigters om te leer hoe om moeilike en uitdagende situasies te hanteer en te verwerk.

My beste wense vergesel Stephan en die hele Brink-gesin. Ek weet hulle is uiters dankbaar en oorweldig deur al die ondersteuning en omgee wat hulle van heinde en verre ontvang het.

Môreaand vind die Opvoedingstrust se jaarlikse veilingsdinee by die Mount Nelson Hotel plaas, waartydens fondse ingesamel word ten bate van die laerskool. Sterkte aan Anna Blackmore en haar span wat die reëlings vir een van die gewildste sosiale geleenthede op ons skool se kalender hanteer.

Ek sluit week 9 dan hiermee af. Mag julle as ’n gesin ’n wonderlike naweek geniet. Sterkte met die studies vir die eksamens.

Ek gaan graag voort om ons pragtige moedertaal te bevorder, en sluit af met die bekende Afrikaanse uitdrukking:

“Die son trek water”

Hierdie uitdrukking beteken: Dit raak laat.

Vriendelike groete

Naas Beets

Skoolhoof