Week 10 van die kwartaal kom vandag tot ’n einde soos kwartaal twee se spreekwoordelike uurglas stadig maar seker uitloop. Die eksamens verloop nog klopdisselboom en kom volgende week op Woensdag, 18 Junie, tot ’n einde. Hierdie naweek sluit weereens ’n lekker meevallertjie van ’n langnaweek in met ’n publieke vakansiedag, naamlik Jeugdag, wat op Maandag, 16 Junie, landwyd gevier word.

Jeugdag word jaarliks in ons land op 16 Junie gevier ter nagedagtenis aan die 1976-opstande deur leerders wat hoofsaaklik in Soweto plaasgevind het. Die regering van daardie tyd het slegs Engels en Afrikaans as onderrigtale aanvaar en geen etniese tale is in skole vir onderrig toegelaat nie. Tragies het die gebeure tot die sterftes van meer as 600 leerders tydens die opstande gelei wat landwyd uitgebreek het toe die polisie op die betogende jeugdiges losgebrand het om hulle in toom te hou. Vandag kan ons jeug die voorregte geniet wat deur die jeugdiges in 1976 die weg begin baan het. Mag die tragiese gebeure en diskriminasie nooit weer in ons land herhaal word nie.

Vanaf Maandag, 9 Junie, het die interim buitemuurse sportprogram in skooltyd afgeskop. Dit vind daagliks net na die aflê van die eksamensessie plaas. Die doel om nog steeds met sportoefeninge tydens die eksamentyd voort te gaan, is tweeledig: Eerstens, die leerders geniet dit terdeë om direk ná ’n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug buite te geniet en aktief te wees, wat sommer ook met hul algemene geestelike welsyn tydens eksamen help. Tweedens help die program ook om hulle fiks te hou asook om hul spelpeil langer te handhaaf, veral met ’n welverdiende drie weke vakansie wat voorlê. Daar is die afgelope kwartaal so hard gewerk om fiksheidsvlakke te verbeter, effektiewe spelpatrone te implementeer, en indien ons sportoefeninge vanaf die begin van die eksamen sou stop plus die vakansie wat voorlê, beteken dit dat daar amper sewe weke van geen oefeninge en afrigting sou plaasvind nie. Baie dankie dat julle ook sal help om jul kind(ers) aktief en fiks gedurende die komende vakansie te hou.

Op Saterdagaand, 7 Junie, het ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mount Nelson Hotel, plaasgevind. Al die kaartjies was vir die glans- en fondsinsamelingsgeleentheid uitverkoop. Die tema vir die aand was “Betowerde Tuin” en die gaste was elegant en deftig vir die spesiale geleentheid getooi. MC du Toit, een van ons ouers, het soos in die verlede as afslaer opgetree. Dit was my vyfde veilingsdinee as skoolhoof en MC se tiende keer dat hy as die afslaer optree. Hy het die ongelooflike 42 lotte binne ’n kort tydjie onder groot geesdrif van die gaste verkoop. Baie dankie aan al ons donateurs vir jul ruim skenkings wat die 42 lotte opgemaak het. Die versameling kunswerke wat ons ontvang het, was die beste wat ek nog in my tyd as skoolhoof by die veiling gesien het. MC het soos oudergewoonte hom puik van sy taak gekwyt om die lotte in ’n baie kort tyd van die hand te sit. Dit is dan my eer en voorreg om bekend te maak dat daar tydens die veiling ’n enorme R1,3 miljoen ingesamel is. Dit het weereens al ons verwagtinge oortref, veral met die huidige ekonomiese toestande in ag geneem. Graag wil ek ook van die geleentheid gebruik om al ons gaste, en veral ons ouers wat op die aand ’n ruim finansiële bydrae gemaak het, hartlik te bedank vir hul bydrae om Laerskool Jan van Riebeeck na nog hoër hoogtes te neem. Daar is darem nie net ’n spogveiling gehou nie, maar ook lekker saam gekuier en gedans. Die onthaalsaal van die Mount Nelson was uiters stylvol voorberei en verfraai. Die samesyn was kosbaar en die ‘goeie gevoel’ van die skoolgemeenskap was feitlik tasbaar. Baie dankie aan ons voorsitter van die Opvoedingstrust en die Beheerraad, naamlik Merwe Scholtz, vir sy dinamiese leiding en puik toespraak wat die doel van die spesiale aand mooi in konteks geplaas het. Laat my ook toe om die reëlingskomitee, bestaande uit Anna Blackmore, Marina van der Westhuizen, Martie Viljoen en Herna-Dette Marais, hartlik te bedank en geluk te wens met ’n onvergeetlike glansaand.

Ek sluit dan week 10 af. Mag julle as ’n gesin ’n fantastiese langnaweek geniet. Sterkte met al die studies vir die laaste week van die eksamens.

Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:

“Jakkals trou met wolf se vrou”

Die uitdrukking beteken dit reën terwyl die son skyn. Mag dit gebeur tydens die koue wintermaande!

Vriendelike groete

Naas Beets

SKOOLHOOF