Kunsmatige Intelligensie (KI) is besig om ’n alledaagse hulpmiddel in ons lewens te word en baie ouers moedig hul kinders aan om KI te gebruik om hul huiswerk of take mee te voltooi. Met net ’n paar klikke kan kinders komplekse vrae beantwoord, opstelle skryf en selfs wiskundeprobleme oplos. Is hierdie tegnologiese vooruitgang ’n waardevolle hulpmiddel of hou dit ook ’n risiko vir werklike leer en breinontwikkeling in?

Konteks

Terwyl Kunsmatige Intelligensie (KI) groot potensiaal het om onderrig en leer te ondersteun, is daar groeiende kommer dat jong kinders afhanklik kan raak van hierdie kragtige hulpmiddel, eerder as om hul eie denkvaardighede, probleemoplossing en kreatiwiteit te ontwikkel. As ouers en opvoeders moet ons vra: help KI ons kinders om slimmer te leer, of leer hulle net hoe om vinniger antwoorde te kry?

Ons skool verstaan die uitdagings wat kinders se gebruik van KI-hulpmiddels vir hul leerervaring en ontwikkeling meebring. Ons is tans besig om ‘n aksieplan en riglyne te formuleer, wat geskoei is op navorsing, internasionale tendense en die opinies van opvoedkundige kenners, ten einde ‘n verantwoordelike, etiese en gebalanseerde benadering tot KI te implementeer.

In ons reeks DInK-slim artikels, gaan ons die uitdagings wat kinders se gebruik van KI bring, bespreek asook die impak daarvan op kritiese denkvaardighede en hoe ouers hul kinders kan help om tegnologie verantwoordelik te gebruik.

Hoe vind leer plaas?

Voor ons oor die KI-dilemma gesels, is dit belangrik om te verstaan hoe leer plaasvind. Leer behels die verwerking van nuwe inligting, die bou van begrip en die toepassing van kennis in verskillende kontekste. Leer is ‘n komplekse en dinamiese proses wat deur kinders se ervarings, waarneming, oefening en sosiale interaksie oor ‘n tydperk plaasvind. Kinders is nog besig om vaardighede en kapasiteit vir kritiese denke, gefokusde aandag, refleksie en toepassing te ontwikkel en die ouerhuis en skool is grotendeels die omgewing waar hierdie vaardighede aangeleer en ontwikkel word.

Die KI-dilemma in die Onderwys

Die gebruik van kunsmatige intelligensie in die onderwys bring waardevolle geleenthede, maar ook ‘n reeks uitdagings wat in wese kinders se leerproses kan skaad. Hier is ‘n paar belangrike kwessies wat ouers en opvoeders in gedagte moet hou:

  1. Verminderde Kritiese Denkvaardighede

Wanneer kinders afhanklik raak van KI om huiswerk te voltooi, omseil hulle die noodsaaklike denkprosesse wat juis nodig is om leer te versterk. Dit kan lei tot:

  • Gebrekkige vaardighede in probleemoplossing en kreatiewe denke;
  • ‘n swakker begrip van konsepte;
  • ’n neiging om antwoorde te kopieer sonder om dit werklik te verstaan of daaroor te reflekteer;
  • ‘n onvermoë om kennis in verskillende kontekste toe te pas en te gebruik; en
  • verminderde blootstelling aan diverse opinies.
  1. Gebrek aan Eie Inspanning

KI kan vinnig vrae beantwoord en opstelle genereer, maar as kinders bloot op hierdie hulpmiddel staatmaak, ontwikkel hulle nie die vaardighede wat nodig is om op hul eie te werk nie. Dit kan beteken dat hulle nie leer hoe om te volhard nie en gebrekkige analitiese denkvaardighede toon wanneer hulle uitdagings aanpak.

  1. Eerlikheid en Plagiaat

Etiese probleme ontstaan omdat KI so maklik antwoorde kan genereer:

  • Plagiaat: Kinders kan KI-geïnspireerde inhoud gebruik sonder om hul eie oorspronklike idees te ontwikkel;
  • Gebrek aan akademiese eerlikheid: Hulle kan werk as hul eie voorhou sonder om self die werk te doen; en
  • Ontoereikende evaluering: Onderwysers sukkel om te bepaal of kinders die werk werklik verstaan.
  1. Gebrek aan Verantwoordelike KI-gebruik

Kinders besef dalk nie die beperkings van KI nie en aanvaar foutiewe inligting as feite. Dit is belangrik dat kinders leer hoe om:

  • KI as ’n ondersteunende hulpmiddel te gebruik en nie as ’n kortpad vir leer nie;
  • feite te verifieer eerder as om bloot KI-gegenereerde inligting te aanvaar en te kopieer; en
  • KI eties en verantwoordelik te gebruik.
  1. Impak op Sosiale Vaardighede

Interaksie met onderwysers en medeleerlinge is krities vir die ontwikkeling van kommunikasie- en saamwerkvaardighede. As kinders hulle gereeld eerder tot KI wend om huiswerk of take te voltooi, word hul kapasiteit vir sinvolle deelname aan klasgesprekke en groepwerk verminder en kan dit die ontwikkeling van hul sosialevaardighede benadeel.

Advies aan Ouers

Om te beoordeel of die gebruik van KI vir ‘n taak of vir huiswerk ‘n hulpmiddel of ‘n kortpad is,  kan ouers hulself die volgende vrae afvra:

  • Gaan my kind die konsep(te) verstaan, selfs sonder KI se hulp?
  • Gebruik hulle KI om idees te genereer en insigte te kry, of net om ‘n volledige antwoord te kry?
  • Sal die gebruik van KI help met kritiese denke en probleemoplossing, of maak dit die taak te maklik?
  • Watter alternatief kan ek bied om my kind te help om selfstandig te leer?

Die sleutel is om KI strategies te gebruik, sodat dit leer ondersteun en nie vervang nie. Ouers kan kinders aanmoedig om eers self oor ‘n taak te dink, en KI te gebruik as ‘n hulpmiddel vir uitbreiding van kennis, maar nie vir klaargemaakte antwoorde nie.

Hier is ‘n paar riglyne vir hoe ouers ‘n balans kan vind tussen KI en tradisionele leer, sodat leer in die proses ondersteun en nie vervang word nie:

  1. Moedig Eie Inspanning aan

Ouers kan kinders leer dat hulle eers self moet probeer voordat hulle KI gebruik. Voorbeelde:

  • Laat hulle hul eie gedagtes neerskryf voor hulle ‘n KI-hulpmiddel raadpleeg;
  • vra hulle om hul eie uitleg of oplossing te gee, en dan te kyk hoe KI daarvan verskil of verbeter; en
  • stel ‘n reël: KI mag nie eerste gebruik word nie – eers hul eie idees!
  1. Gebruik KI as ‘n Leerhulpmiddel, Nie ‘n Antwoordverskaffer

KI moet leer aanvul, nie vervang nie:

  • Moedig hulle aan om KI te gebruik vir breë navorsing, en nie om net ‘n direkte antwoord te kry nie;
  • leer hulle hoe om KI se inligting te evalueer, eerder as om dit blindelings te aanvaar; en
  • as hulle KI vir huiswerk gebruik, vra hulle om te verduidelik wat hulle daaruit geleer het.
  1. Help Kinders om Kritiese Denkvaardighede te Ontwikkel
  • Laat hulle vrae oor KI se antwoorde vra — moedig skeptisisme aan;
  • stel uitdagings waar hulle KI se antwoord moet verduidelik en self verbeter; en
  • leer hulle hoe om betroubare inligting te identifiseer en te gebruik.
  1. Stel Duidelike Riglyne oor Wanneer KI Gebruik Mag Word
  • Mag gebruik vir breë navorsing, kreatiewe idees, en begrip van konsepte;
  • mag nie gebruik word om antwoorde net so oor te neem, sonder eie reflektering en inspanning nie; en
  • maak dit ‘n familiegesprek — leer saam oor hoe KI reg gebruik kan word!
  1. Bou ‘n Gesonde Leermentaliteit

Help kinders verstaan dat leer ’n proses is, nie net ‘n resultaat nie:

  • Vier hulle eie denke en kreatiewe oplossings;
  • moedig hulle aan om vrae te vra en self nuuskierig te wees; en
  • help hulle om te sien dat leervaardighede meer waardevol is as net vinnige antwoorde.

Met hierdie benadering word KI ‘n hulpmiddel, eerder as ‘n kortpad wat leer ondermyn.

Ouers speel ‘n sleutelrol in die vorming van verantwoordelike en DInK-slim leerders!

Kyk gerus na hierdie insiggewende potgooi video van Tristan Harris en Daniel Barcay van die Center for Humane Technology. Hulle gesels met die kognitiewe neurowetenskaplike, Maryanne Wolf, en opvoedkundige kenner, Rebecca Winthrop, oor die dilemma van KI in die onderwys.