Ek glo dat almal ‘n heerlike en geseënde tyd saam met familie en vriende oor die afgelope Paasnaweek geniet het. Ek is baie dankbaar dat almal veilig terug is na die Paasnaweek, veral gegewe die feit dat die paaie gedurende dié tyd van die jaar buitengewoon besig is en tragies genoeg dikwels kosbare lewens eis as gevolg van motorongelukke.

Ek wil graag vir Hoërskool Jan van Riebeeck se ‘Paashase’ bedank wat verlede week op Donderdag, 17 April, vir die Grondslagfase-leerders paaseiers kom uitdeel het. Ons graad 1-leerders was in ekstase om die sogenaamde Paashase in ‘lewende lywe’ te ontmoet en vir hulle drukkies te kon gee. Baie dankie aan die leerderraad van die hoërskool vir die wonderlike bederf – ons waardeer dit opreg!

Neem asseblief kennis dat volgende week (Week 4: 28 April – 2 Mei) ‘n volledige week van skoolvakansie is. Hierdie welkome blaaskans sluit twee openbare vakansiedae en drie skoolvakansiedae in. Dit is belangrik dat ons nie die betekenis van die twee openbare vakansiedae miskyk nie.

Op 27 April vier ons jaarliks Vryheidsdag in Suid-Afrika – ‘n baie belangrike dag in ons land se geskiedenis. Dit is ‘n geleentheid om ons leerders bewus te maak van die waarde van hierdie dag. Vryheidsdag is ingestel om die eerste post-apartheidverkiesings te herdenk – ‘n mylpaal op 27 April 1994, toe alle Suid-Afrikaners bo die ouderdom van 18, ongeag ras, vir die eerste keer kon stem. Dit was ‘n waterskeidingsmoment in die geskiedenis van ons reënboognasie.

Verder vier ons jaarliks op 1 Mei Werkersdag, ‘n openbare vakansiedag ter ere van die harde werk van ons land se werkers, asook hul stryd vir regverdige indiensneming en menswaardigheid in die werkplek. Die oorsprong van Werkersdag lê in die internasionale vakbondbewegings se soeke na solidariteit en regverdigheid. Ek wil van die geleentheid gebruik maak om al ons personeel en gemeenskapslede te salueer vir hul toewyding en harde werk. Julle dra daagliks by tot onderwys én tot die ekonomie – wat help om werksgeleenthede vir ander te skep.

Dit is hartseer om te sien hoe baie haweloses daagliks in ons moederstad sukkel om te oorleef. Die toename in armoede en mense wat op straat bedel, plaas ons bevoorregte lewenshandel in perspektief. Mag ons almal meer gereeld die spreekwoordelike “dankbaarheidsbril” opsit.

Baie dankie aan al die ouers/voogde wat op 15 en 22 April die ouerafsprake met hul kind(ers) se onderwysers bygewoon het. Ons waardeer julle tyd en betrokkenheid in jul kind(ers) se akademiese reis. Ons glo sterk aan spanwerk – betrokke ouers/voogde + toegewyde opvoeders = gelukkige en suksesvolle leerders. Navorsing bevestig dat ouerbetrokkenheid ‘n positiewe impak het op skoolbywoning, prestasie, sosiale vaardighede en algemene gedrag.

Wêreld Boekedag is op Dinsdag, 23 April, met groot entoesiasme by ons skool gevier. Leerders het soos hul gunstelingboekkarakters aangetrek en die dag was ‘n kleurryke fees van kreatiwiteit. Leerders het van vroeg af hul kostuums met trots in my kantoor kom wys. Baie geluk aan die volgende leerders wat as beste boekkarakters aangewys is:

  • Gr. 1 – Ariella Meinking
  • Gr. 2 – Maya van den Berg
  • Gr. 3 – Leah Verhoeven
  • Gr. 4 – Dirkie van Eeden
  • Gr. 5 – Antjie Samuel
  • Gr. 6 – Lukas van der Westhuizen
  • Gr. 7 – Jayden Henning

Baie dankie aan al ons ouers/voogde met die hulp van  die kostuums – die boekkarakters het letterlik lewendig geword! Graad 1 – 5-leerders het ook deelgeneem aan ‘n virtuele skrywersbesoek met Jaco Jacobs – ‘n opwindende Zoom-ervaring wat vir baie leersaamheid gesorg het. Dankie aan juf. Marecia van Zyl met die uitstekende reëlings en uitvoering van hierdie dag.

Ek is ook verheug om te rapporteer dat die kunsgrasprojek op die mini-sportveld op Dinsdag, 22 April, afgeskop het. Die bestaande gras word tans verskuif en hervestig. Baie dankie aan Gerhard Conradie vir sy groot bydrae om die projek te realiseer.

So sluit ons Week 3 af. Mag julle ‘n heerlike naweek en volgende week se kort vakansie as gesin ten volle geniet. Ek gaan voort om ons pragtige taal te bevorder en sluit graag met ‘n bekende Afrikaanse uitdrukking af:

‘Iets te berde bring’

Hierdie uitdrukking beteken om iets ter sprake te bring of op die tafel te plaas vir bespreking.

Vriendelike groete,

Naas Beets

Skoolhoof