Ons Kaperjolle het darem nét sy eie sjarme en nie eens gure weer kon op die dag die kosbare samesyn van ons skoolgemeenskap demper nie. Die heerlike kuier en samesyn is nog steeds op almal se lippe. Hierdie jaarlikse en gewilde pretdag het op Saterdag, 12 April, plaasgevind en is onomwonde die hoogtepunt op die skoolgemeenskap se sosiale kalender, veral vir ons leerders. Kaperjolle bied soveel aktiwiteite en pret vir oud en jonk. Die leerders het hulle gate uit geniet en hulle glad nie aan die reënbuie gesteur nie. Volgens die leerders was die besoek aan die spookhuis die gewildste aktiwiteit om te doen. Nie eers ’n skrikwekkende foto van die skoolhoof of gerugte dat spoke in die gange rondloop, het die leerders afgeskrik nie. Volgens die leerders was my ‘gedramatiseerder’ foto blykbaar nie vreesaanjaend genoeg nie en daarom was hulle dus nie bang nie. Leerders het in lang rye tougestaan om die opwinding te ervaar, veral as daar ’n kans is dat ’n sogenaamde spook aan jou been kan vat. Ek glo dat die spookhuis se gewildheid sal nooit oor die jare taan nie en sal vir geslagte nog, ons leerders en selfs volwassenes, fasineer. Baie geluk en ook groot dankie aan ons ouers wat die smaaklikste disse by hul onderskeie stalletjies opgedis het vir ieder en elk om te proe. Die fraai versierde kosstalletjies het die geleentheid perfek afgerond. Die verskeidenheid disse om te proe was hemels en die kompetisie was baie sterk. Baie geluk aan René (stalletjie nr. 6) se span wat op die dag met die louere weggestap het.

Die van julle wat my goed ken, weet dat ek ’n groot gholfliefhebber is, en toe ek vir Mathias Ackerman (Gr. 1) op Saterdag tydens die Kaperjolle sien met sy ‘Stinger’-gewaad, het dit beslis my dag gemaak. Die Stingers bestaan uit vier Suid-Afrikaanse professionele gholfspelers, naamlik Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel, Brendan Grace en Dean Burmester, wat aan die nuwe LIV Gholfreeks deelneem. Baie dankie, Mathias, dat ek saam met jou die mooi foto kon neem!

Die opkoms van ouers en leerders tydens Kaperjolle was verstommend en spreek weer boekdele van die karakter van ons skoolgemeenskap wanneer dit by die ondersteuning van skoolaktiwiteite kom. Die weer het sy bes gedoen om ons pret te probeer bederf, maar met kosstalletjies sonder einde, feestelike agtergrondmusiek, ’n groot markiestent met gemaklike sitplekke en tafels om die heerlike kos, bier en wyn te geniet, het almal egter die dag terdeë geniet. Hierdie kombinasie, saam met omgee-mense, maak die perfekte resep vir ’n onvergeetlike ervaring. Ek is so trots en dankbaar dat ons ouers/voogde die skool in alle opsigte ondersteun. Dit dra onder andere kollektief by dat ons skool net van krag tot krag gaan. Graag wil ek ons OOV-voorsitter, Susan Derksen, en haar span, asook al die ouers, voogde en personeel wat so hard gewerk het om die sukses van die Kaperjolle te verseker, hartlik bedank.

Verskeie sportwedstryde en -toernooie het in week 1 van die nuwe kwartaal plaasgevind en die Jannies het hulself weer puik van hul taak gekwyt. Laerskool Jan Cilliers, ’n onafhanklike privaatskool geleë in Parkview, Johannesburg, het met hul o/13A-netbal- en -rugbyspanne na Kaapstad getoer en op Woensdag, 09 April, teen ons gespeel. Ons o/13A-netbalspan het puik gevaar en met 18–12 gewen, terwyl ons o/13-rugbyspan net-net met 22–27 verloor het. Verder was ons netbalspanne op Woensdag, 09 April, tuis hopeloos te sterk vir Laerskool Sentinel, wat in Houtbaai geleë is.

Die komende naweek is een van vele langnaweke wat tydens April-maand plaasvind. Hierdie komende naweek vier Christene regoor die wêreld Paasfees. Tydens Paasfees word die kruisiging en opstanding van Christus prominent gevier.

Ek sluit dan week 2 af. Mag julle as gesin en/of saam met familie en vriende ’n baie geseënde Paasfees geniet. Wees veilig op die paaie! Graag gaan ek voort om ons pragtige taal verder te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:

‘Uie tap’

As iemand ’n grap so goed vertel dat hy of sy die gehoor wat daarna luister nie net laat lê van die lag nie, maar laat huil van die lag, kan van so ’n grapjas gesê word dat hy of sy weet hoe om ’n ui te tap.

Vriendelike groete,

Naas Beets

Skoolhoof