Hierdie kwartaal in Digitale Geletterdheid het ons oor ‘n paar interessante aspekte van rekenaars en digitale toestelle gepraat. Een van die temas wat die meeste uitgestaan het, was die Graad 5’s se gebruike van die internet. Hier het die leerders geleer wat die voordele van die internet is, hoe om veilig te wees wanneer jy aanlyn werk en ook wat die gevare van aanlyn speletjies en toepassings is.
Ons het nie net teorie geleer nie, maar ook prakties op die tablette gewerk. Een van die lesse wat uitgestaan het, was toe die Graad 3’s ‘n tikvaardigheid-aktiwiteit gedoen het. Dit was so mooi om te sien hoe hulle mekaar gehelp het, as een sukkel om ‘n spesifieke letter te vind. Hulle het baie hard gekonsentreer om op die sleutelbord te tik en seker te maak hul tik met die regte vingers op die regte knoppies.
Ons sien uit na nog ‘n klomp lekker temas vir Kwartaal 2 in Digitale Geletterdheid.
