Vir die brein om letters in die korrekte volgorde te sien, te prosesseer en dan te verseker dat dit geïnterpreteer word om ‘n woord korrek te lees, uit te spreek en te skryf, is vir sommige mense ‘n ontsettende uitdaging. Om ‘n kind(ers) met disleksie groot te maak in ‘n wêreld waar daar aangeneem word dat almal ewe goed kan lees, skryf en praat is ‘n moeilike berg om uit te klim. Hierdie diagnose kan jou alleen en moedeloos laat voel totdat jy besef dat daar vreeslik baie ouers is wat in dieselfde bootjie sit.
Die idee dat jou kind(ers) nie alleen hierdie reis hoef aan te pak nie, is ‘n gerusstellende gedagte. Kennis en kundigheid word daagliks oor disleksie ingewin en uitgebrei aangesien ons hier by LS JvR besef dat hier heelwat Jannies met disleksie gediagnoseer word. Dis ‘n lewenslange reis wat by ons as skoolgemeenskap begin om ons kinders op te voed om met hulself en hul maats wat moontlik disleksie het, grasie en begrip te hê.
Hierdie diagnose (disleksie), net soos soveel ander, lyk by elke leerder anders. Dis dus baie moeilik om soms agter te kom dat jou kind moontlik simptome van disleksie het. Die brein is ongelooflik en vind maniere om hierdie simptome te omseil en weg te steek daarom blyk dit nie by almal so ooglopend te wees nie. Indien ‘n onderwyser op ‘n dag ‘n assessering by ‘n opvoedkundige sielkundige mag aanbeveel, is dit om jou as ouer, maar meer belangrik die leerder te ondersteun en te lei.
Ons probeer so goed moontlik ‘n leeromgewing vir die leerders skep waarbinne hulle ook kan veilig voel sodat leer kan plaasvind. Alhoewel ons nie ‘n inklusiewe skool is nie, poog ons daagliks om sover moontlik alle leerders te akkommodeer. Hoe gelukkig is die Alpha-generasie (kinders gebore in 2010-2024) nie … hulle is die kinders oor wie ons huidiglik die meeste kennis beskik om leer met meer grasie toe te pas. Ja, ons onderwysers is nie opgelei in al die areas waarin ons as ouers so dikwels ‘n behoefte het nie, maar elkeen probeer op sy of haar manier om elke individu in die klas en op die sportveld so goed moontlik te ondersteun. Ons is uiters bevoorreg om vanaf 2010 ons skool se leersentrum te kon uitbrei met die nodige kundigheid tot waar ons vandag met ‘n spogsentrum leerders, onderwysers asook ouers kan lei en toerus so goed ons kan.
Die wêreld waarbinne leerders met disleksie leef, is dié van intelligensie, kreatiwiteit, ontdekking en soveel meer as net letters en woorde. Gaan loer gerus na die Youtube video wat weer soos verlede week hierdie onderwerp op ‘n praktiese manier verduidelik. Wys gerus vir jou kinders ook.
Kliek hier: SEE DYSLEXIA DIFFERENTLY
Saamgestel deur Marinda Brink