Ons het verlede week gepraat oor die frustrasie wat ons as ouers ervaar as elke opdrag of versoek in ‘n onaangename baklei-sessie ontaard. Om daardie rede is ons soms geneig om hierdie situasies te vermy  deur “gemak” bo “tydelike ongemak” te kies. Maar is dit die beste vir my kind?

 Kom ons begin by wat dissipline is. Dissipline is om te onderrig, te korrigeer, asook om jou kind met geduld in ‘n rigting te stuur om – sonder jou –  te doen dít wat goed en reg is. Ons motivering vir enige dissipline is om ons verantwoordelikheid as ouer of volwassene na te kom. Indien jy jou kind toelaat om te doen wát hulle wil wánneer hulle wil, gaan daar waarskynlik twee goed gebeur. Eerstens: hulle gaan verwag dat die lewe daar buite sonder enige struikelblokke gaan wees. Tweedens is dit amper ‘n gegewe dat hulle  diegene rondom hulle sonder respek en empatie gaan hanteer. Onthou: jou kind is nie gereed om besluite te neem op grond van wat vir hulle goed is nie, hulle neem besluite op grond van wat hulle wil hê.  Jou taak is dus as’t ware om jou kind soms van homself/ haarself red!

Kom ons neem skermtyd en die tyd wat jou kind voor die televisie spandeer as ‘n voorbeeld. Jy weet dit laat jou kind ontspan en hy/sy geniet dit.  Wanneer ons hulle skermtyd wil beperk, doen ons dit nie om hulle te ontneem van wat vir hulle lekker of ontspanne is nie. Indien dít ons rede is, gaan ons kinders nooit die geleentheid kry om te “oefen” om dít wat vir hom of haar lekker is met selfdissipline te bestuur nie. Ons moet ‘n balans vind. Ons beperk skermtyd om verskillende redes en elke gesin het daar hul eie unieke ritme en reëls. Wat ons egter weet, is indien ons níé skermtyd gaan beperk nie, dit ons kind op verskillende maniere negatief gaan benadeel. Dit is buiten dat ons sien hy/sy is besig om ‘n slegte gewoonte te ontwikkel. Konflik kan terselfdertyd as ‘n leerskool gebruik word. Ons gebruik daardie oomblikke van ongehoorsaamheid om ons kinders  te leer om korrek op te tree, in plaas daarvan om hulle net na hulle kamer toe te stuur. Die hoop is dat jou reaksie uiteindelik hulle disrespekvolle manier van terug praat sal omskep tot iets wat tot voordeel van almal is. Ek wil my kind leer om met respek te verskil, met respek te vra “hoekom”, maar ook om “goeie” outoriteit te respekteer.

Kom ons neem die volgende praktiese voorbeeld:

Jy vra jou kind om die televisie af te sit en te gaan slaap.

Jou kind antwoord in ‘n onaangename stemtoon: ”Wát? Hoekom? Daar is nog net 10 minute oor van die fliek! Daar is ook net reëls, reëls, reëls in hierdie huis!”

Ouer: “Ek wonder of jy dit op ‘n ander en gawer manier  kan sê, dán kan jy vra hoekom. Wil jy weer probeer?

Kind: “Okay, Ma, is dit okay as ek die fliek klaar kyk, want daar is net ‘n kort stukkie oor…”(Dit is ‘n geldige rede en miskien sou jy dit oorweeg het as hy/sy nie die vorige aand ook laat gaan slaap het nie).

Ouer: “Ek is jammer dat jy dit nie kan klaar kyk nie, maar jy het gisteraand ook baie laat gaan slaap en hoe meer rus jy vannag kry, hoe beter… Dit is môre skool.”

Baie ouers sou dalk nie kans sien vir  hierdie “omslagtige” aanslag nie en net toegee. Maar wat leer ek vir my kind? Dat hy/sy die reëls in die huis maak? Jy is in hulle lewe geplaas om hulle te leer van reg en verkeerd.  Om hulle te beskerm. Dus, dalk kan ons hierdie strategie probeer. Hier is ‘n paar praktiese voorbeelde wat jy kan gebruik om hierdie konfliksituasies anders te hanteer:

“Ek gee nie om dat jy vra “hoekom” nie, maar ek hou nie van die maníér waarop jy dit vra nie.  Probeer weer, maar sê dit nou op ‘n manier soos ons gewoonlik  met mekaar in ons huis praat.”

“Ek is heeltemal bereid om jou kant te hoor. Kan jy dit op ‘n ander manier sê?”

“Ek is nie jou vyand nie en ek sal graag wil hoor wat jy wil sê.  Hoekom wag ons nie ‘n rukkie nie en dan praat ons hieroor as jy beter voel?”

“Hierdie is ongelukkig ononderhandelbaar. Kom ons bespreek die hoekom as ons al twee rustiger is.”

“Ek hoor jou. Kom ons praat later hieroor wanneer ons al twee kalm is en saam ‘n oplossing  hiervoor kan kry.”

Of die uiklophou: “Oortuig my met goeie redes hoekom jy dit nie hoef te doen nie?”

Kom ons probeer. En onthou: “Only dead fish swim with the stream” – Malcolm Muggeridge

Marike Badenhorst | Opvoedkundige Sielkundige