Vandag sluit die skole in die land vir ‘n welverdiende vakansie vir die leerders en personeel na ‘n lang en besige akademiese jaar.

Verlede week is die onderskeie prysuitdelings vir elke graad suksesvol afgehandel om erkenning te gee aan ons leerders vir hul harde werk en toewyding. Ons unieke wyse van erkenning, veral vir die akademie, maak my gerus dat ons die regte aanslag het en dat daar ‘n plek vir akademiese erkenning en uitnemendheid is. Ons poog as personeel om vir ons leerders altyd ‘n voorbeeld te stel deur alles wat ons as skool aanpak met uitnemendheid en passie te doen. Baie geluk aan die volgende Top 10 Akademiese Graad 7-leerders vir hulle harde werk en toewyding:

  • Michaan Naylor (Dux-leerder 2024)
  • Hila Hertzog
  • Daniella Boshoff
  • Izzy du Plessis
  • Ané Swanepeol
  • Emma Snijders
  • Ruben Eksteen
  • Leah de Kock
  • Jessica Schincariol
  • Isabella Marais

Graag wil ek ook vir mnr. Leon en sy span hartlik gelukwens met vanjaar se puik kleure-atletiekbyeenkoms wat op Woensdag, 6 Desember (velditems) en Maandag, 9 Desember (baanitems) plaasgevind het. Die atletiekdag, wat as gevolg van gure weer uitgestel is, het reeds Maandagoggend vroeg om 07:15 met die tradisionele optogte om die baan begin. Die onderskeie kleurhuise se areas op die pawiljoen was indrukwekkend versier, en dit alles te danke aan ons graad 7-ouers wat reeds dou voor dag daarmee begin het. Opvallend was die opwindende gees wat reeds met die aanvang van die ongelooflike dag teenwoordig was en die hele dag geheers het. Ons leerders se stemme was behoorlik hees gesing en later het ons lekker musiek gespeel waarop hulle saam met personeel, ouers en voogde gedans het. Ek is vanjaar vier jaar by ons merkwaardige skool betrokke en dit was volgens my die beste atletiekdag sedert ek by die skool aangesluit het. Die meerderheid van leerders en hul ouers/voogde het tot 15:45 na afloop van die prysuitdeling gebly. Baie geluk aan die Huis Blou wat die geesbeker verower het en Huis Oranje wat vanjaar net-net die atletiekbeker gewen het. Baie geluk aan die volgende atlete wat met hul uitsonderlike prestasie tydens die prysuitdeling aangewys is:

  • Victrix Ludorum jnr (o.10 – o.11): Gedeel deur Elize Theron en Lexi Buhrman
  • Victor Ludorum jnr (o.10 – o.11): Willem Viljoen
  • Victrix Ludorum jnr (o.12 – o.13): Ynes Samba-Kabassidi
  • Victor Ludorum jnr (o.12 – o.13): Dane Botha

Baie geluk aan die volgende Graad 6-leerders wat op Dinsdagoggend, 10 Desember, tydens die saalbyeenkoms bekend gemaak is:

  • Rudi Badenhorst
  • Jack Dawes
  • Abigail Fourie
  • Ben Esterhuyse
  • Gusto Hoogendyk
  • Nils le Roux
  • Elisabet Marais
  • Johannes Mouton
  • Dané Olivier
  • Vincent Oosthuizen
  • Stella Pansegrouw
  • Katryn Silvis
  • Amelie van der Walt
  • Annalene Viljoen

Ons neem oor die laaste week stelselmatig afskeid van die Gr. 7-leerders. Ons het vandag (11 Desember) ‘n spesiale afskeidsaal vir die Gr. 7’s saam met hul ouers/voogde gehou. Daarna het hulle tradisioneel met hul skoolklere in die swembad gespring. Hulle finale sokkie het dan ook op Maandagaand om 18:00 na die lang atletiekdag in die saal plaasgevind. Baie geluk aan die Gr. 7’s met jul pragtige 2024 Jaarboek. Dit sluit ‘n spesiale bladsy in van elke Gr. 7-leerder met iets spesiaal oor haar of homself. Kostelik is die babafoto van elke Gr. 7-leerder in vergelyking met hul hedendaagse foto.

Ons beste wense vergesel die Gr. 7’s vir hul nuwe reistog na die hoërskool en mag hulle hul hoërskoolloopbaan net so geniet soos by ons. Onthou my boodskap: “Droom altyd groot en as iemand dit durf waag om te sê dat julle te groot droom, dan moet julle vir hulle sê dat hulle dalk te klein dink.” Julle is ‘n merkwaardige groep leerders met ‘n blink toekoms wat voorlê. Ons gaan julle baie mis. Hou aan om ‘n positiewe verskil in mense se lewens te maak deur net jouself te wees.

Graag wil ek vir Susan Derksen hartlik bedank wat vanaf 2025 die leisels as OOV-Voorsitter by Coreen Scholtz gaan oorneem. Ons beste wense vergesel haar en haar span vir die belangrike rol wat hulle in 2025 gaan speel. Dus wil ek vir Coreen Scholtz ook hartlik bedank wat haar belangrike rol as OOV-Voorsitter so puik uitgevoer het. Baie dankie, Coreen, vir al jou kosbare tyd en puik organiseringsvermoë wat die suksesse van die OOV-funksies wat by die skool die afgelope jaar aangebied is, verseker het. Ek is jou baie dankbaar!

2024 was vir Laerskool Jan van Riebeeck ‘n ongelooflik suksesvolle jaar. Daar was verskeie hoogtepunte, maar ek glo die tweejaarlikse skoolkonsert het beslis die kollig gesteel! Vir ‘n skool om op verskeie areas te presteer, kan slegs gebeur waar leerders veilig voel en skool terdeë geniet, toegewyde personeel met soveel omgee werksaam is, asook ‘n effektiewe skoolbestuur, ondersteunende ouers/voogde en ‘n dinamiese Beheerraad wat betrokke is. Sukses beteken nie noodwendig net prestasies nie, maar ook die karakter en omgeehart van ons skoolgemeenskap wat so prysenswaardig en uniek is. Ek is so trots op ons personeel wat jaar-in en jaar-uit die spreekwoordelike ekstra myl tot voordeel van ons leerders loop. Baie dankie aan die EXCO (skoolbestuur) vir jul leeue-aandeel in die effektiewe bestuur van ons puik skool. Laat my ook toe om my regterhand, naamlik Marinda (adjunkhoof), te bedank vir haar harde werk en lojale ondersteuning die afgelope jaar. Hartlike dank aan die Voorsitter van ons Beheeraad, naamlik Merwe Scholtz, en die res van die Beheerraad wat my so lojaal ondersteun en help om ons skool na nog hoër hoogtes te lei. Lees gerus my jaarverslag vir 2024 wat kortliks reflekteer wat ons as skool oor die afgelope jaar vermag het.

Graag sluit ek dan die jaar af en wens vir julle ‘n welverdiende vakansie toe van lekker rus en ontspan saam met vriende en familie. Mag elkeen van julle ‘n Christusfees vol vreugde, vrede en liefde ervaar saam met al die spesiale mense in jou lewe. Ek wens verder vir ons skoolgemeenskap ‘n voorspoedige 2025 toe vol liefde, vrede, omgee en dankbaarheid!

Reis asseblief veilig, groete vir die kinders en sien julle D.V. Woensdag, 15 Januarie 2025, wanneer die skool weer sy deure vir 2025 oopmaak.

Vriendelike vakansie-groete,

Naas Beets
SKOOLHOOF