Elke middag is vol lag, energie en lekker aktiwiteite. As jy verbyloop, hoor jy hoe die kinders fluister, “Mamma, kan ek nog ‘n rukkie kuier?”
Hoekom verkies die leerders om nasorg by te woon?
Iris, Gr. 2T: “Ek het maatjies by die nasorg en nie by die huis nie, omdat ek nie ‘n boetie of ‘n sussie het nie.”
Reuben Strydom, Gr.1T: “Ek speel lekker LEGO op die nasorg se nuwe LEGO-tafels.”
Eli van Wyk, Gr. 3TB: “As mamma en pappa my nie kom haal nie, weet ek ek kan na julle toe kom. Dit is vir my lekker om huis toe te gaan, want my huiswerk is klaar by die nasorg gedoen.”
Kyle Meissenheimer, Gr.5: “Ek kan enige sport in die middae doen wat ek wil.”
Sofia Jooste, Gr. 5: “Ek het die derde kwartaal by die skool begin en nasorg het my gehelp om meer maats te maak.”
Max Baptista, Gr. 7VR: “Ek is vanaf Gr. 1 by die nasorg en daar was nog niks wat vir my sleg is nie. By die nasorg het ek meer tyd om by my vriende te wees, want pouses by die skool is net te kort.”
Ariana Greyling, Gr. 4C: “Ons kan verf, hula, dans en boeke lees onder die bome.”
Die nasorg skep ‘n plek waar leerders regtig gelukkig en hulself kan wees. Dit is ‘n plek waar die leerders die skool se waardes kan uitleef. Ons skep ‘n omgewing waar leerders veilig voel en ons wil ouers gerus stel dat hul kinders met liefde na omgesien word. Ons as ‘n nasorgspan gee om oor elke leerder en maak elke middag net ‘n bietjie helderder.
Leerders kan met gemak buitemuurse aktiwiteite beoefen. Ons bied huiswerkklasse vir Gr. 1 – Gr. 7 aan en doen allerhande ander aktiwiteite so almal het altyd iets om te doen.
Sosiaal versterk die nasorgomgewing vriendskappe wat ver buite hulle graadgroep strek. Hierdie vriendskappe spoel oor tot op die speelgrond en in die skool se gange. By die nasorg hoef niemand ooit alleen te voel nie.
Die nasorg is onlangs opgeknap en ons het baie planne vorentoe om die nasorg nog meer uit te brei tot voordeel van die leerders.
As jy ‘n plek soek waar jou kind(ers) emosioneel en sosiaal tuis kan voel, dan is ons nasorgsentrum die ideale plek.
Ons het voldag of halfdag opsies, en selfs besoekers kan enige dag by ons aansluit.
Vir navrae, kontak vir Madrie:
nasorg@jvrprim.co.za