Ons was so bevoorreg om Dinsdag, 22 Oktober, in die geselskap van die kundige op sosiale media gebied te kon wees. Carla de Beer het omtrent baie inligting en kennis aan ons oorgedra. Soos sy belowe het, plaas ons die wenke en inligting soos sy aan ons gestuur het hier.
 
Ons skool het die nodige maatreëls in plek. Gaan lees gerus die slimfoon en -horlosie gebruiksbeleid vir leerders deur.  
 
Slimfoon en -horlosie gebruiksbeleid vir leerders
 
Volgens departementele riglyne moet alle leerders se selfone tydens skoolure en op die skoolterrein (skoolgronde) afgeskakel wees.
Leerders bring hul selfone op eie risiko skool toe en die skool aanvaar geen verantwoordelikheid vir verlies of beskadiging daarvan nie.
Leerders moet soggens sodra die eerste periode begin hul fone by hul registeronderwyser inhandig sodat die onderwyser die selfone in die klas se kluis kan bewaar totdat die skooldag verby is.
Geen oproepe/boodskappe mag tydens klastyd of op die skoolterrein ontvang of gemaak word nie.  Indien daar ‘n krisis ontstaan, sal leerders wel toestemming ontvang om hul ouers te kontak, maar dan moet die oproep in die teenwoordigheid van die onderwyser (bv. net buite die klaskamer, in die gang) gemaak word.  Indien leerders wel ‘n dringende oproep aan hul ouers wil of moet maak, gaan gerus na ontvangs om die skool se telefoon te gebruik.
Indien leerders hul selfone tydens skoolure of op die skoolterrein sonder toestemming gebruik, sal dit gekonfiskeer word. Indien dit ‘n tweede keer of herhaaldelik gebeur sal die foon vir ‘n langer tydperk afgeneem word en leerders sal dit eers ‘n week later of aan die einde van die skoolkwartaal ontvang.  Ouers van die spesifieke leerder sal hiervan in kennis gestel word.
In die geval waar ‘n leerder sy/haar selfoon by die registeronderwyser vergeet, sal die onderwyser die die foon in die kluis bewaar totdat die leerder die foon kom afhaal.
Tydens kampe/uitstappies word leerders verbied om hul selfone saam te neem.  Die onderwysers wat die leerders op die kampe/uitstappies vergesel, moet hul selfoonnommer beskikbaar stel indien dit nodig sou wees om die ouer van ‘n insident of krisis in kennis te stel. 
Indien ‘n vermoede bestaan dat leerders ongerymdhede/pornografie op hul selfone kyk/stuur, behou die skool die reg in die beste belang van alle leerders van Laerskool Jan van Riebeeck om op te tree deur onmiddellik die selfoon te konfiskeer en die polisie in kennis te stel.  Ouers sal telefonies verwittig word dat die polisie in kennis gestel is.  Die polisie het die reg om leerders se selfone te ondersoek indien daar ‘n vermoede is dat daar pornografiese materiaal / video’s op sy/haar selfoon is.  Indien ‘n finale bevinding gemaak is dat ‘n leerder na ongerymdhede/pornografie op sy/haar selfoon gekyk of aangestuur het, sal die betrokke leerder se ouers skriftelik in kennis gestel word dat hy/sy voortaan nie toegelaat sal word om ‘n selfoon skool toe te bring nie.
*Dieselfde reëls geld vir slimhorlosies.  Horlosies moet afgeskakel wees om geen boodskappe of oproep te ontvang of te maak nie.  Tydens formele assesserings word hierdie horlosies ingeneem.