Dis wonderlik hoe die Zen Den besig is om stadig die stigma omtrent angs en oorweldiging van emosies af te breek.  Leerders kry die geleentheid om hulself te reguleer en in die proses beter op hul skoolwerk te fokus. Hulle ontvlug vir enkele minute of sommer ‘n hele pouse na hierdie ruimte waartydens die kalm ruimte wanbalans herstel sodat hulle weer klasuitdagings in die gesig kan staar.
 
Ons poog om weekliks ‘n skrywe in die nuusbrief te plaas wat volgens verskillende temas sal handel.  Ons het met boelie begin aangesien daar navrae in die ouermeningspeiling hieroor was. Ons voel ook dat ons ‘n opvoedingsplig vanuit die Zen Den het sodat almal so goed moontlik ingelig oor ‘n verskeidenheid onderwerpe kan wees.  Opleiding is tog ons kernbesigheid.
 
Hierdie week se Jannie-gesprek vanuit die Zen Den, geskryf deur Marike Badenhorst:
 
Moontlike ouerskapsfoute wat ons mag maak
  1. Ouers probeer dikwels hul kinders ongemak spaar
Terwyl ons probeer om aan ons kinders die heel beste te bied, skep ons dikwels vir hulle ‘n “mini ideale wêreld” – iets wat ons weet nie bestaan nie. In ‘n gegewe dag ervaar ons kinders deesdae min ongemak: fisies of emosioneel. As hulle verveeld is, gee ons vir hulle ‘n selfoon om hulle besig te hou. As hulle verloor, beloon ons hulle met hul eie “trofee” – hetsy iets wat hulle graag wil hê of ‘n uitstappie om die gevoel van teleurstelling “sagter” te maak.  As hulle moeg is, hoef hulle nie hulle gewone huistake te doen nie. As hulle sleg doen in ‘n toets, kontak ons die onderwyser.  Ons probeer elke spreekwoordelike klip wat ‘n struikelblok kan wees uit hul pad haal voordat ons hulle die geleentheid gee om self eers ‘n plan te maak om die probleem op te los.
Al is dit hóé moeilik, móét ons soms opsy staan en aan ons kind die geleentheid gee om te misluk of om ongemak en teleurstelling te ervaar.  As ons dit níé doen nie, gaan hulle moeilik ‘n krisis later in hulle lewe kan hanteer wanneer ons as ouers nie by is nie.
Ook wat tydsbesteding betref: wanneer ons kind permanent besig is om hom/haar van een aktiwiteit na ‘n ander te haas, mag daar in die proses nie genoeg tyd wees vir ongestruktureerde spel, ontspanning en sommer net kind-wees nie. Soms is dit goed vir ‘n kind om genoeg tyd te hê om wél verveeld te wees en sélf ‘n plan te maak wat om volgende te doen!
  1. Kinders leer nie meer “regte-wêreld” vaardighede aan nie
Al klink dit voor die handliggend, ontneem  ons deesdae dikwels ons kinders om alledaagse roetine-take aan te leer:  om iets wat by die huis stukkend is, reg te maak; om jou te help om die plante in die huis te versorg; om saam met jou eenvoudige disse te maak. As ons nie hierdie belangrike vaardighede vir óns geslag kinders aanleer nie, gaan ‘n volgende geslag nie ouers hê by wie hulle dit kan leer nie.
  1. Ons fokus op die resultaat en nie die proses nie
Daar word vertel dat Thomas Edison 1000 keer misluk het in sy poging om die gloeilamp uit te vind.  Toe daar aan hom gevra is hoe dit voel om 1000 keer te misluk voordat hy sukses behaal het, was sy antwoord: “Ek het nie 1000 keer misluk nie, die uitvindsel van die gloeilamp het net 1000 stappe geneem.”
As ons vir ons kinders so ‘n ingesteldheid kan aanleer, leer ons hulle deursettingsvermoë (“grit”). Indien my kind kan leer om vir homself/haarself erkenning te gee vir die moeite en vasbyt vir die poging – al was die eindresultaat anders as wat hulle verwag het – leer ons hulle deursettingsvermoë en ook die moed om weer te probeer.  
  1. Ouers moedig nie aanspreeklikheid aan nie
Meeste kinders sal enige iets doen om nie te erken wanneer hulle ‘n fout gemaak het nie. Tog is dit nodig om ons kinders te leer om verantwoordelikheid vir ‘n situasie te aanvaar wat hulle ongemaklik laat voel en waar hulle verkeerd was.  Leer hulle om “ek-frases” te begin gebruik.   In plaas daarvan om jou kind toe te laat om te sê: “Die toets was te moeilik, die onderwyser het wéér nie alles verduidelik nie”, help hom/haar om op ‘n punt te kom waar hy/sy kan sê: “Ek het nie al die vrae in die toets verstaan nie. Ek moes vooraf vir my onderwyser gevra het om my te help.”  Deur die skuld op iemand anders te plaas, hoop jou kind hy/sy gaan nie gestraf word of die negatiewe gevolge in die oë hoef te kyk nie. Leer jou kind dat almal foute maak, jy ook. En lei jou kind om te kan sê: “Ek is jammer, ek het ‘n fout gemaak. Ek gaan probeer om dit reg te maak.”
 
In ons poging om goedaangepaste kinders met baie selfvertroue groot te maak, moet ons daarteen waak om nie oorsensitiewe, selfgesentreerde  kinders groot te maak nie . Leer jou kind nederigheid en ‘n begrip vir die talente en prestasies van ander. Deur hul eie beperkings te erken en terselfdertyd erkenning te gee aan ander, leer hulle om diversiteit te omarm en aanpasbaar binne verhoudings te wees.
 
Marike Badenhorst                          Opvoedkundige Sielkundige