Met herfs in volle swang begin die winter stadig, maar seker haar merk maak met fyn motreën asook koue en mistige toestande wat die afgelope tyd in die Moederstad voorkom. Die winter het sy eie bekoring en wanneer die koue windjie soggens vroeg aan die blare roer, sou ons seker eerder verkies om ‘n bietjie langer in die bed te bly. Ek glo julle stem saam alhoewel die oggend lug ‘n mens laat bibber, maak die winterreuk daarvoor op veral om die verfrissende koue lug in te asem. Vroegoggend met ‘n heerlike warm koppie boeretroos is die perfekte tonikum om ‘n mens se wintersdag aan die gang te kry, veral op ‘n Saterdagoggend as daar ‘n opwindende sportdag vir die Jannies voorlê.

Graag wil ek die week met jul ‘n netelige kwessie bespreek, naamlik die gevare wat sosiale media vir kinders inhou. Ek besef die gebruik van selfone en/of ander toestelle en natuurlik die gepaardgaande tegnologie is vandag deel van ons kinders se verwysingsraamwerk. Ek moet egter gereeld optree rakende kuberboelie via sosiale platforms wat hoofsaaklik na skoolure plaasvind. Die vraag wat by julle mag opkom, is die volgende: ‘Dit vind buite skoolure plaas en het jy as skoolhoof enige sê daarin?’ My antwoord is heel eenvoudig, ek dink nie ouers besef dat boelie deesdae méér aanlyn as op die skoolgronde gebeur nie. Dit is juis hier waar ek betrokke wil raak, want ons moet saam met julle die kinders leer om in die eerste plek nie die boelie te wees nie. Ek kom al hoe meer agter hoe min ouers/voogde bewus is van hul kind/ers se doen en late op die internet. Selfs volwassenes verstaan nie altyd dat die digitale spoor wat hulle deur die gebruik van die internet los, vir ewig daar gaan bly nie. Wanneer jy ‘n flater begaan, is daar selde iets wat jy kan doen om die saak te verbeter. Onthou die kritiek wat ouers/voogde nie te lank gelede ontvang het nie toe hulle die televisie as kinderoppasser ingespan het om net ‘n bietjie later te kan slaap of ‘n Sondagmiddagslapie te geniet. Dit is egter kinderspeletjies in vergelyking met vandag se situasie.

Verder is daar geen handleiding vir die gebruik van sosiale platform toepassings aan ouers/voogde en kinders beskikbaar nie. Leerders deel dikwels met ons dat van hulle volle toegang tot Instagram, Tik Tok, SnapChat, Facebook en WhatsApp het. Ek dink ook as ouers/voogde moet ons ernstig nadink hoekom ons kinders op sosiale media moet wees en waarom hulle gedurig iets van hulself of ander kinders daarop moet plaas. Indien jou kind/ers ‘n slimfoon besit of toegang d.m.v. ander toestelle tot die internet het, rig ek ‘n dringende versoek om gereeld die gebruik daarvan te ondersoek en/of te reguleer. Baie dankie vir julle ondersteuning in die verband.

Ek glo baie van julle het gewonder wanneer ek iets oor die kontroversiële BELAB-wetgewing gaan noem. Hiermee dan in ‘n neutedop terugvoering rakende die nuwe BELAB-wetgewing wat onlangs deur die Nasionale Raad van Provinsies se verkose komitee oor Onderwys, Tegnologie en Sport goedgekeur is. Die Uitvoerende Hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole), dr. Jaco Deacon, som dit soos volg op: die aanvanklike wysigings rakende taal- en toelatingsbeleid, wat die besluitnemingsmag na die onderwyshoof sou skuif, is tot so ’n mate aangepas dat dit steeds ’n funksie van ’n skoolbeheerraad bly. “Dit gee wel beperkte oorsigkapasiteit aan onderwyshoofde, maar met duidelike riglyne oor hoe dit moet gebeur.” Gelukkig vir ons is die voorgestelde wysigings nou van so ’n aard dat openbare skole steeds openbare skole bly wat deur skoolbeheerliggame (beheerrade) beheer word. In die jongste wysigings bepaal die beheerraad nog steeds die toelatings- en taalbeleid sonder dat dit deur ’n onderwyshoof goedgekeur hoef te word. Waar ’n onderwyshoof wel ’n finale besluit oor toelating moet neem, moet die skool se beleid gebruik word. Dit moet in oorleg met die beheerraad geneem word en die administratiewe besluit moet redelik, regmatig en prosedureel billik wees. Dit gee darem vir ons ‘n bietje meer gemoedsrus sodat ons onverpoos met die puik werk by ons skool kan voortgaan tot voordeel van ons leerders.

Graag sluit ek af deur steeds my dankbaarheidsjoernaal te deel. Hiermee wens ek vir elkeen ‘n wonderlike naweek toe:

“Thankfulness is the beginning of gratitude.
Gratitude is the completion of thankfulness.
Thankfulness may consist merely of words.
Gratitude is shown in acts.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF