So bereik ons die einde van die mooiste, mooiste maand met November wat sy afwagting wil maak. In die Moederstadkonteks is die koms van November eintlik soos die aanbreek van die langverwagte Lente. Die weer is besig om te verander met heerlike sonskyndae wat gekomplimenteer word met betowerende blomme- en fynbosgeure.

Hierdie naweek is dan ook ‘n ‘onbeplande’ langnaweek met die Suid-Afrikaanse munisipale verkiesing wat op Maandag, 1 November, geskied. Dus is Maandag, 1 November 2021, in die Staatskoerant as ‘n publieke vakansiedag gepubliseer. Gaan maak gerus jou kruisie om ‘n verskil te maak.

Verlede Saterdag is die tennis te Ceres noodgedwonge uitgestel na die Sondag as gevolg van die ongure weer wat die tennispret op Saterdag kom bederf het. Ons o/13 seuns- en dogterspan is na Ceres vergesel deur ouers, naamlik Ria Hertzog en Karien Zulch, en het hul puik van hulle taak as spanbestuurders gekwyt. Ons dogterspan het brons tydens die toernooi verower deur Laerskool Gene Louw vir 3de en 4de plek te klop. Welgedaan dogters en baie dankie Ria en Karien vir julle waardevolle leiding.

Verlede Vrydag het ons ook ons skool se nuwe unieke sosiale platform, naamlik JvR-Kiek, bekend gestel. Baie dankie aan Marié Cruywagen, die meesterbrein en skepper van die spesiale platform. Opvoeders gaan foto’s en/of video’s van wat alles op ‘n daaglikse basis by die skool plaasvind, daarop plaas. Toegang is net vir JvR-ouers/voogde en daarom nooi ek julle uit om dit daagliks te besoek sodat julle ook kan deel in die daaglikse opwinding. Volg gerus die volgende skakel en word deel van die betowerende JvR-skoolwêreld.

Op Dinsdag, 26 Oktober 2021, het ek as skoolhoof die wonderlike voorreg gehad om vir die eerste keer sedert my aanstelling met die hele Grondslagfase (Gr. 1 – 3 leerders en opvoeders) ‘n formele saalbyeenkoms te hou. Ons leerderraad het ‘n pragtige boodskap rakende ons waarde van die maand, naamlik eerlikheid, deur middel van rolspel aangebied. Die hoogtepunt van die saal was natuurlik die junior koor wat opgetree het met die sing van onder andere ons pragtige Feeslied. Dit was vir ons almal in die saal so ‘n trotse en kosbare oomblik wat ons vir ‘n lang tyd sal omarm. Baie dankie Helecia en Ben wat so mooi na ons kore omsien!

Graag deel ek met julle die wonderlike nuus wat die nuutste Staatskoerant aandui dat die skoolhoofde persone nou amptelik vir bepaalde geleenthede of aktiwiteite op die skoolterrein kan toelaat. Dit moet egter nog steeds onder streng Covid-19 veiligheidsmaatreëls geskied. Die goeie nuus behels dat julle as ouers/voogde nou weer sportoefeninge, wedstryde, sportbyeenkomste en kultuuroptredes as toeskouers kan bywoon. Dinsdagmiddag het ons o/13-krieketspan weg teen Laerskool Kampsbaai gespeel. Ongelukkig het ons verloor, maar waardevolle lesse is geleer. ‘n Mens leer ongelukkig baie meer as jy verloor en ek weet dit is nie altyd lekker nie, maar partykeer moet ‘n mens eers verloor om te verbeter. Dit was egter lekker om weer opgewonde ouers langs die krieketveld te sien en lekker om met hulle te kon gesels. Terwyl ek met Alet Loubser en Myrtle Joubert op die pawiljoen gesels en verduidelik wat met my enkel gebeur het, slaan ‘n speler van Laerskool Kampsbaai ‘n massiewe ses lopies in ons rigting. Die bal tref ongelukkig vir Myrtle op haar kuit en sy neem een vir die span of sal ek sê een vir die skoolhoof aangesien die krieketballe my die laaste tyd onwillekeurig volg. Sterkte Myrtle, ek hoop dit is nie meer pynlik nie! Baie geluk aan ons o/11-krieketspan wat hul wedstryd weg teen Laerskool Van Riebeeckstrand met 5 paaltjies gewen het. Baie dankie juffrounes, Ischké en Razelle, wat hulle vergesel het.

Op Woensdag, 27 Oktober 2021, het die gewilde Spelfees in die saal plaasgevind. Ek het probeer om by elke graad in te sit. Ek was so verras en beïndruk met veral die Graad 3’s se spelvernuf. Die spelfees werk d.m.v. uitklopbasis en die beoordeelaars het amper uit woordopsies gehardloop om die finale wenner te bepaal. Die Gr. 3-wenner is na ‘n lang strydbyl tussen Katryn Silvis en Amelie van der Walt beslis met Amelie wat as die wenner uit die stryd getree het. Wees verseker ons Jannies sal ons as volwassenes heel moontlik op ons neuse laat kyk wanneer dit kom by spelling van ons kosbare taal.

Vanaf Maandag, 25 Oktober, mag ons Jannies soggens voor skool in hul somerdrag weer buite op die skoolterrein speel sodra hulle eerste ding klaar hul Covid-sifting in hul onderskeie klaskamers gehad het. Ek glo hulle geniet terdeë die nuwe reëling, want hulle mag nou na ‘n baie lang tyd weer buite op die skoolperseel speel. Soggens klink dit beslis weer soos ‘n tipiese skoologgend voor Covid. Luidkeelse stemme wat al die maatjies verwelkom en sommer om net lekker te jubel, kind te wees, saam te kom speel en mekaar se verbeelding te stimuleer terwyl hulle die vars oggendlug buite geniet. Ons probeer om skool toe te kom weer vir hulle lekker te maak.

Soos julle bewus is, kan kinders en tieners tussen die ouderdom van 12 en 17 jaar oud teen Covid-19 ingeënt word en het hulle nie die toestemming van hul ouers/voogde nodig om die entstof te ontvang nie. Ek kan julle verseker dat die proses nie deur die skole van stapel gestuur is nie. Ek is bewus dat dit ‘n baie omstrede saak is en JvR gaan beslis nie ‘n opinie hieroor uitspreek nie. Dit is elke ouer en gesin se prerogatief om te besluit wat die beste vir hulle is en dankie dat almal dit sal respekteer.

Laat my ook toe om al die 2021 matrikulante namens ons skoolgemeenskap sterkte en voorspoed vir die matriekeksamen toe te wens. Altesaam 73 866 kandidate is vanjaar vir die nasionale seniorsertifikaateksamen in die Wes-Kaap ingeskryf. Ons beste wense vergesel hulle vir die belangrikste eksamen van hul skoolloopbaan.

Graag sluit ek dan met die volgende aanhaling deur Maya Angelou af en ek wens julle ‘n wonderlike langnaweek toe:

“I’ve learned that people will forget what you said,
People will forget what you did,
but people will never forget how you made them feel.”