Februarie-maand het gister skielik sy onverwagse opwagting gemaak, want die aanbreek van 01 Januarie 2024 voel vir my soos gister. Seker soos ‘n mens bietje ouer word, kom ek weereens tot die besef dat tyd besonders vinnig verby vlieg en vir niemand wag nie. Dus indien jy vanjaar beplan om nog iets spesiaal te doen, moenie wag nie liewe vriende, doen dit sommer onmiddellik!

Graag wil ek almal hartlik bedank vir al die mooi verjaardagwense wat ek sedert Vrydag, 26 Januarie ontvang het. Ek het op Sondag, 28 Januarie verjaar, maar is reeds vanaf Vrydag, 26 Januarie, tot in die spreekwoordelike afgrond deur die leerders en personeel bederf. Ek wens julle as ouers/voogde kon die spesiale dag by die skool saam met my beleef. Dit was so kosbaar. Die leerders se opregte omgee en kreatiewe verjaarsdagwense, sal ek verewig koester.

Op Saterdag, 27 Januarie, is die tweede Ouer- en kindsportdag vanaf 07:30 by die Conradieveld aangebied. Ek kon ongelukkig eers vanaf 11:00 by die spesiale sportdag aansluit aangesien ek, Marinda en Raché vanaf 08:00 die oggend by die Oude Molen Tegniese Skool departementele opleiding moes ontvang. Dit was wonderlik om te sien dat selfs teen 11:00 die oggend, hoeveel ouers/voogde saam met hul kinders nog steeds aktief aan die sportdag deelgeneem het. Alhoewel dit sommer lekker warm was, het ons ouers/voogde en leerders met hope entoesiasme deelgeneem. Die opgewondenheid en gees was aansteeklik en almal het hul gate uit geniet. Dit is die ideale geleentheid vir leerders, ouers en personeel om sommer lekker gees te vang en die jaar op ‘n hoogtepunt af te skop. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes en spelers opgetree asook registrasies en die snoepieverkope behartig het.

Die opwinding was groot toe ons die skool se 103de bestaansjaar op Woensdag, 31 Januarie, kon vier. Leerders het smullekker roomyse op die warm dag ontvang. Die stigting van ons trotse skool is alles te danke aan Japie Louw. Hierdie jongeheer het meer as ‘n eeu gelede net eenvoudig geweier om in Engels skool te gaan en dit het tot die stigting van Laerskool Jan van Riebeeck gelei. Soos Japie en nog menigte wat na hom gevolg het, het hy vinnig ontdek dat hierdie besondere skool baie meer as net geleerdheid bied. Hier ontdek jy jouself! Hier leer jy wat dit beteken om net jouself binne ‘n veilige omgewing met gekoesterde waardes te wees. Mag Laerskool Jan van Riebeeck vir nog ‘n eeu voortbou op sy suksesse en altyd ‘n waardegedrewe omgewing koester waar ‘n kind nog kind kan wees.

Die afgelope week het ons ook met tenniswedstryde begin. Vanmiddag neem ons aan ‘n swemgala by die Duitse Skool deel asook aan mini-krieketwedstryde by Laerskool Kampsbaai. Môre neem ons o.13A-tennispanne (seuns en dogters) aan ‘n tennistoernooi te Laerskool Kenridge deel. Die sportprogram en –wedstryde is dus in volle swang en my beste wense vergesel al ons leerders en afrigters.

Op Dinsdag, 06 Februarie 2024, geskied die interskole atletiek by Hoërskool Jan van Riebeeck se velde. Sterkte aan al ons atlete en afrigters. Baie dankie aan Leon Hanekom wat jaar-in en -uit aan die stuur van sake by die interskole staan.

Laat my ook toe om die skoolhoof van Hoërskool Jan van Riebeeck, Pieter Rademeyer, en sy personeel hartlik geluk te wens met hul puik matriekuitslae van 2023. Hoërskool Jan van Riebeeck is weer uitgenooi na die nasionale merietetoekennings van SOS op 09 Februarie in Pretoria. Nie net haal hulle vir die tweede agtereenvolgende jaar die gesogte lys nie, maar vier van hulle vakke haal die Top 20-lys van alle skole in die land naamlik:

  • Wiskunde: 13de in SA (2de van Afrikaanse skole)
  • Ingenieursgrafika en Ontwerp: 13de in SA (6de van Afrikaanse skole)
  • Afrikaanse Huistaal: 16de in SA
  • Fisiese Wetenskap: 17de in SA (4de van Afrikaanse skole)

Mag julle voortbou op al julle suksesse!

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor die lewe en groei-ingesteldheid deur Mahatma Ghandi en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“You must be the change that you want to see in the world!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF