Liewe Ouer/Voog

Die terug-skool-toe-seisoen het aangebreek, en ons wil julle hartlik verwelkom! Lapa-uitgewers gee hierdie oulike wenke vir huiswerk aangesien hulle ons leerders inspireer om tuis ‘n liefde vir leer te kweek. Hulle is gereed om julle te ondersteun op hierdie reis …

Hallo, grootskool!

  • Laat jou kind elke dag dieselfde tyd op dieselfde plek in dieselfde volgorde huiswerk doen – dit skep sekuriteit wat hulle laat ontspan en makliker leer.
  • Moenie huiswerk tussen kosmaak en ander aktiwiteite doen nie. Eerder ’n halfuur van jou volle aandag as ’n uur se verdeelde frustrasie.
  • Die onderwyser is jou en jou kind se vennoot. Hulle gaan baie makliker leer en vinniger vorder as hul weet julle drie werk as ’n span saam.
  • Reageer stiptelik op boodskappe of versoeke van die skool af. Dit gee jou kind ekstra sekuriteit en wys dat jy werklik in hom/haar belangstel. Dit bring ook mee dat hulle hul samewerking wil gee en hul bes wil doen.
  • Kontak gereeld die onderwyser en vind uit hoe jou kind vorder en of daar iets is wat jy tuis kan doen om sy/haar vordering in die klas te vergemaklik.
  • As jy nie met die onderwyser saamstem nie, bespreek dit met hom/haar. Moenie jou kind se onderwyser voor hulle kritiseer nie. Dit veroorsaak dat hy/sy gespanne is in die klas.
  • Wees geduldig. Jou kind ontwikkel nog. Wat jou kind vandag nie kan doen nie, draf hy/sy dalk oor ’n maand kaf. Elke kind ontwikkel fisiek, emosioneel en intellektueel teen hul eie tempo. Ons vergeet dit so maklik en breek in die proses ’n kind se selfvertroue, liefde vir hul medemens en hul begrip van die groot wêreld daarbuite af, wat weer sy vordering benadeel.