Ek glo almal het die besondere meevallertjie van ‘n lekker langnaweek vanaf 18 – 21 Maart 2023 terdeë geniet en die tyd gebruik om kwaliteit tyd saam met jul gesin en/of familie te spandeer.

Dinsdag, 21 Maart, was natuurlik die vieringe van Menseregtedag in Suid-Afrika. Dit is hartseer dat so min mense hulle eintlik aan die betekenis van die dag steur. Hierdie besondere dag was juis ingestel ter nagegedagtenis aan ‘n groot gebeurtenis in ons land se geskiedenis. Die dag verwys na die afgryslike gebeure wat op 21 Maart 1960 in Sharpville afgespeel het. Duisende swart mense het op die dag betoog teen die destydse paswette. Die skare is egter uitmekaar gejaag terwyl daar op hulle geskiet is en 69 mense noodlottig gewond is. Sedert 1994 word die dag gevier om die slagoffers se tragiese dood te herdenk en seker te maak dat so iets nooit weer in ons land sal gebeur nie. Ek glo dat die herdenking van die spesiale dag ‘n waardevolle bydrae lewer dat mense met waardigheid, gelykheid, geregtigheid en in vrede in ons land kan leef.

Hierdie week mag dalk kort wees, maar dit is propvol aktiwiteite met die volgende uitstappies wat sedert Woensdag, 22 Maart, geskied het:

  • Gr. 1-uitstappie na Tafelberg op 23 Maart. Die dag is ongelukkig uitgestel na Maandag, 27 Maart, as gevolg van sterk winde kon die kabelkarretjie nie gebruik word nie. Die teleurstelling was baie groot, maar die juffrouens het vinnig ‘n lekker piekniek gereël om die gemoedere weer positief te kry.
  • Gr. 2-uitstappie na Checkers op 22 Maart.
  • Gr. 3-uitstappie op die rooi bus na die World of Birds (blou roete) op 22 Maart.

Die tipe uitstappies is vir ons leerders ‘n groot bederf en maak hulle baie opgewonde. Uitstappies hou ons leerders gemotiveerd en skep wonderlike geleenthede buite die klaskamer om te leer. Uitstappies en/of toere is juis die goed wat die meeste kinders van hul laerskoolloopbaan onthou.

Donderdagaand, 23 Maart, het die skool die jaarlikse gr. 5 – 7-sokkie aangebied. Hierdie was nie sommer jou gewone sokkie nie, maar die glansgeleentheid vir die senior leerders by die skool. Ons leerders het omtrent deftig en elegant gelyk, slaggereed om ‘n indruk te maak.

As skoolhoof het ek elke dag die wonderlike voorreg om baie interessante gesprekke in my kantoor met ons leerders te voer. Hierdie gesprekke word deur leerders self geïnisieer m.a.w. hulle kom beslis nie na die skoolhoof se kantoor omdat hulle in die moeilikheid is nie. Inteendeel ons leerders het die vrymoedigheid om by my kantoor in te loer net om te hoor hoe dit met my gaan. Dit is so spesiaal en kosbaar en maak elke keer my dag. Gister was ek juis bevoorreg toe Jean-Jacques Rossouw, ‘n graad 1-leerder, gou by my kom inloer het net om uit te vind wat ek as skoolhoof elke dag doen. Hy het darem bevestig dat ek wel my werk doen soos ‘n goeie skoolhoof behoort te doen asook die feit dat hy en sy pa saamstem dat ons met die beste private skole in die land kan kompeteer en dit teen ‘n fraksie van die skoolfooie. Baie dankie, Jean-Jacques, vir jou besondere wysheid op hierdie jeugdige ouderdom.

Geniet die komende naweek met die laaste week van die kwartaal wat voorlê. Graag sluit ek af met die volgende aanhaling deur Carol Dweck oor groei-ingesteldheid en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Love challenges, be intrigued by mistakes,
enjoy the effort and keep on learning.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF