Baie dankie aan die graad 1-onderwysers wat my genooi het om Vrydagoggend, 17 Februarie 2023, ‘Vlooi se verjaardag’ in die biblioteek by te woon. Ek wens ek kon al die graad 1-ouers nooi om die spesiale geleentheid by te woon. Hierdie geleentheid geskied om die graad 1’s se voltooiing van hul eerste leesboek, naamlik Vlooi se verjaarsdag, te vier. Die graad 1-onderwysers het die interessante koekresep uit Vlooi se boek gevolg en dit aan hulle gedemonstreer. Die graad 1’s het so gelag, want bestanddele soos tamatiesous, sousboontjies, graanvlokkies saam met eiers en melk het ook nie vir hulle sin gemaak nie. Dit was groot pret terwyl hulle gelukkig lekker gesmul het aan hul eie eetgoed wat hul ouers/voogde vir hulle ingepak het. Daar het wel ‘n paar graad 1’s kans gesien om die unieke koekmengsel te proe.

Ons het week 5 van kwartaal 1 afgesluit met mini-krieket by Laerskool Hugo Rust op Vrydagmiddag/aand, 17 Februarie 2023, en op Saterdagoggend vanaf 09:00 –13:00 het ons koorleerders ‘n heerlike koordag onder leiding van juf. Helecia en mnr. Ben by die skool geniet. Hulle het nie net op die dag gesing nie, maar ook aan ander lekker pretaktiwitiete deelgeneem.

Op Dinsdag, 21 Februarie 2023, was die hartseer begrafnis van juf. Raché se man, Calvin. Die gedenkdiens is by Mcpherson’s te Table View gehou. Die pastoor se preek het meer daarop gefokus dat ons Calvin se lewe eerder moet vier as om oor sy dood te treur. Dit was hartverskeurend om Raché en Calvin se ouers na die diens te vertroos. Hulle is verpletterd. Raché en Calvin was maar 10 maande getroud. Hulle was sielsgenote. Ons gedagtes en gebede bly by haar en die familie om vertroosting tydens die moeilike tyd te vind. Baie dankie aan al haar klasouers en ander ouers/voogde wat vanuit die staanspoor uitgereik het om haar te help en te ondersteun. Ons was egter bekommerd oor hoe die personeel en ouers hierdie tipe trauma met leerders/kinders gaan hanteer. Daarom het ons Vrydag. 17 Februarie, gedurende eerste pouse ‘n kort opleidingsessie met dr. Arina Fourie gereël om ouers en personeel in te lig hoe om met kinders oor die verlies en die dood te praat. Dit was uiters insiggewend en almal wat teenwoordig was, is met die nodige kennis toegerus om hierdie tipe situasies met leerders/kinders te bespreek en beter te hanteer. Baie dankie dr. Fourie, ons waardeer jou kosbare tyd!

Ek sien uit om almal later vandag by die klasbraai te Conradieveld vanaf 18:00 te ontvang. Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Our greatest weakness lies in giving up.
The most certain way to succeed is to try one more time!”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF