Die tweede laaste week van die akademiese jaar is op Vrydag, 09 Desember 2022, met ‘n suksesvolle kleure-atletiekbyeenkoms (Baanitems) te HS Kampsbaai afgesluit. Die weer het wonderlik saam gespeel en met die pragtige Atlantiese Oseaan in die agtergrond kon ons atlete nie anders as om hul beste te lewer nie. Die kleurhuise het hul onderskeie gedeeltes van die pawiljoen pragtig verfraai en die gees het hoog geloop met die dirigente wat hul huise se energievlakke en vokale teenwoordigheid luidkeels aangemoedig het. Verblywend was die deelname aan vanjaar se byeenkoms en volgens rekords, was dit die hoogste deelname in ‘n baie lang tyd. Baie dankie aan al die ouers/voogde wat gehelp het met die voorbereiding van die pawiljoene asook almal wat die dag tot aan die einde ondersteun het. Baie geluk aan die Blouspan wat vanjaar as wenners aangekondig is. Hulle het as die super trotse span weggestap deur ook die geesbeker te verower. Geluk aan die Oranjespan wat die aflosbeker gewen het. Baie dankie aan ons atletiese ouers wat aan die gewilde aflositem deelgeneem het, maar (on)gelukkig was die onderwyserspan weer die dag op hul stukke. Gelukkig was daar geen beserings na afloop van die item nie. Baie geluk aan die volgende atlete wat die spesifieke trofees verwerf het:

  • Junior Victrix Ludorum: Cato Terblanché
  • Junior Victor Ludorum: Rafa Lamprecht
  • Senior Victrix Ludorum: Klara Steyn
  • Senior Victor Ludorum: Dawid-Wiese Viljoen

Gister het ons ook ‘n informele swemgala vir al ons swemmers wat deur die jaar ons swemoefeninge getrou bygewoon het, aangebied. Die swemmers het dit terdeë geniet en dit was heerlik om tydens skooltyd tyd in die swembad deur te bring. Baie dankie aan Razelle en Bibi vir hul puik reëlings.

Vandag sluit die skole na ‘n baie besig jaar propvol lekker aktiwiteite. Ons het ook vanoggend die leerderraad vir 2023 bekend gemaak. Baie geluk aan die volgende leerders (alfabeties) en sterkte met die belangrike rol wat julle volgende jaar moet vervul:

Agter v.l.n.r.: Liza Hertzog, Carmen Barnard, Jan-Willem Silvis, Liam Joubert, Dawid-Wiese Viljoen en Katia van Wyk. Voor v.l.n.r.: Gemma de Vries, Kerala Allewell, Mieke Huysamen, Stella Lamprecht, Johan Symington, Ruben Oosthuizen en Karlien van der Walt

So kom die gr. 7’s se laerskoolloopbaan vandag ongelukkig tot ‘n hartseer einde en lê daar ‘n baie opwindende tyd met die aanvang van hul hoërskoolloopbaan volgende jaar voor. Om afskeid te neem en totsiens te sê is nie maklik nie, maar soos hulle sê, is elke einde die voorloper van ‘n nuwe begin. Ek hoop en vertrou dat hulle hul laerskoollewensreis by ons terdeë geniet het. Mag hulle al die goeie en opwindende tye saam met kosbare maats, wat hulle oor ‘n tydperk van sewe jaar gemaak het, onthou asook die personeel wat ‘n groot rol in hul lewe gespeel het. Dit was ‘n wonderlike voorreg om hulle die laaste 2 jaar te leer ken en te sien ontwikkel. Hulle is merkwaardige en selfstandige leerders met baie empatie, eerlikheid, verantwoordelikheid, omgee, integriteit en mooi maniere. Ek is werklik trots op hulle en ek weet hulle is slaggereed om die hoërskool-arena met selfvertroue te betree. Ons Jannies sal altyd uitstaan, maak nie saak waar hulle hulself bevind nie en onthou om altyd hulself te wees. My beste wense vergesel hulle en mag hulle voortbou op hul sukses, hou aan groot droom en gaan uit om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak.

Op hierdie noot groet ek ook die onderwysers van wie ons vandag afskeid neem: Juf. Bibi, juf. Nadia en juf. Razelle. Julle het oneindige diep voetspore op verskillende maniere in ons skoolgemeenskap getrap. Dankie vir jou aandeel aan ons skool se sukses!

Laat my ook toe om ons hele personeel hartlik te bedank vir hul harde werk en toewyding die afgelope jaar om seker te maak dat ons leerders hul volle potensiaal kan bereik.

Ons is baie dankbaar vir Ria Hertzog wat bereid is om vir die eerste kwartaal in die nuwe jaar nog die OOV-voorsitter rol te vervul totdat Coreen Scholtz in die tweede kwartaal by haar oorneem. Dankie dan ook aan Coreen vir haar bereidwilligheid, ons is baie dankbaar en sien uit om saam met haar ‘n pad te stap!

Graag sluit ek af en wens julle ‘n welverdiende vakansie en geseënde Kerstyd saam met familie en vriende toe. Reis asseblief veilig en geniet die vakansie saam met jul kosbare kinders. Baie dankie vir jul lojale ondersteuning die afgelope jaar en mag 2023 vir ons almal baie voorspoedig wees met ‘n beker van dankbaarheid wat oorloop.

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF