Ons o.12 en o.13-netbaloefengroep het die naweek van 4-6 November 2022 by Patrys van der Merwe se plaas, Elandsrus, buite Drie Susters gaan kuier. Gedurende die naweek het hulle hul netbalvaardighede en kennis opgeskerp. Hier volg van hulle terugvoer oor die naweek:

Wat ‘n voorreg! Die opwinding het begin toe ons vroeg Vrydagoggend die skool verlaat het. Almal was so opgewonde oor die toer. Ons almal was reg, met ons nekkussings wat om ons nekke hang en al ons groot, swaar sakke. Toe ons by die plaas kom, het ons al ons sakke in die gastehuis neergesit. Die eerste baansessie het begin. Ons het heerlike kos daardie aand geëet! Daai aand kon ons nie regtig so laat wakker bly nie, want die volgende dag sou ‘n baie lang dag vir ons wees. Saterdag het ons die dag met ‘n baansessie afgeskop. Raai wie was ons afrigter… ‘n oud-Protea Netbalspeler, Tannie Patrys. Ons het drie baansessies gehad, maar tussendeur het ons die lekkerste aktiwiteite gedoen. Ons het in ‘n plaasdam geswem, in die spanne opvoerings gedoen en teiken gaan skiet. Almal het gesê ons gaan veldfokus gaan doen en dat daar mooi blomme gaan wees. Saterdagaand het ons ons konserte opgevoer en ander lekker speletjies gespeel. Daardie aand het ons lekker laat gaan slaap, want op Sondag het ons net een baansessie gehad. Sondag was dit die prysuitdeling. Daarna het ons die plaas verlaat en baie mense het vir Tannie Patrys gevra om hulle keppies en tekkies te teken. Baie interessante, snaakse goed het op pad terug gebeur, maar ek los dit vir iemand anders om te vertel! Ons sê baie dankie aan al die juffrouens wat daar was!

Deur Daniella Boshoff

Daar was groot opwinding oo die netbaltoer wat van 4-6 November plaasgevind het. Dit het ons omtrent 7 ure geneem om by die plaas naby Drie Susters te kom. Ons het baie lekker geëet, geslaap en natuurlik baie lekker netbal gespeel. Ons was in 3 groepe verdeel en in daardie groepe moes ons ‘n musiek geïnspireerde optrede en ‘n drama-opvoering op die planke bring. Ons het met ‘n .22 na verskillende teikens geskiet. Ons terug rit was vol opwinding, van ‘n poets in 4 Sheep tot ‘n vragmotor vol rys wat leeggesteel word. Dit was ‘n onvergeetlike naweek en ons het almal baie geleer. Ek is baie dankbaar vir elke juffrou wat hulle naweek opgeoffer het vir ons besige o.11’s en o.12’s.

Deur Hila Hertzog

Jannies se o.12 en o.11-netbalspanne het die afgelope naweek na Elandrus naby Drie Susters getoer vir ’n opwindende netbalkliniek. Ons het definitief baie nuwe tegnieke geleer en sal dit altyd onthou. Tannie Patrys van der Merwe wat ons afgerig het, het vir ons ’n klomp nuwe maniere van speel gewys wat ons op die baan gaan help in die jaar wat voorlê. Daar was vier onderwysers saam op die toer wat ook baie gehelp en ondersteun het. Ons Jannies kan baie dankbaar wees dat ons so bevoorreg is om juffrouens te hê wat altyd omgee en daar vir ons is. Ons het ook baie kompetisies gehou en ons het lekker toneel gespeel. As ons nie besig was op die bane nie, was ons besig om te eet, gesels, stap of ons toneelspel te oefen. Al wat ek weet, is dat ons almal dit baie geniet het! Dankie aan al die juffrouens wat saam met ons gaan toer het en ook aan mnr. Beets vir al die geleenthede wat meneer aan ons gee.

Deur Karu Rademeyer

Die naweek saam met die 0.11- en 0.12-netbalspan was net absolute pret! Ons het geleer om beter in ‘n span te werk, ons het geswem en ons het baie nuwe tegnieke en vaardighede aangeleer. Ons was ook baie verras toe hulle vir ons die geleentheid bied om teikens te skiet! Almal het tog ‘n bietjie geskrik toe dit verlede Vrydagaand in Beaufort-Wes begin donderweer! Ons is baie dankbaar vir die onderwysers en afrigters wat dit gereël het, Patrys wat vir ons afgerig het en baie welkom laat voel het en ons ouers wat ons altyd ondersteun.

Deur Stella Lamprecht en Katia van Wyk