Ons somersportbuitemuurse program is in volle swang met leerders wat aan verskeie wedstryde en toernooie deelneem. Ongelukkig is die buitemuurse aktiwiteite vir kwartaal 4 van korte duur aangesien daar die laaste kwartaal van die jaar heelwat tyd aan die finale assesserings afgestaan word. Novembermaand het so stilletjies sy vriendelike opwagting gemaak en dit is onvermydelik om te dink dat die somervakansie en Kersfees net om die draai lê terwyl die wêreld stadig maar seker vir 2023 gereedmaak.

Soos genoem in verlede week se nuusbrief het ons o.11-tennisspelers tydens die naweek van 21 – 22 Oktober 2022 puik in die Ceres-Tennistoernooi presteer. Die afgelope naweek was dit die o.13-seuns en -dogters se beurt. Hulle het glad nie op hulle laat wag nie en in die spreekwoordelike voetspore van die o.11’s gevolg met die seuns- en dogterspanne wat beide silwer medaljes tydens die gewilde tennistoernooi verower het. Dit is duidelik dat ons tennis by die skool baie ‘gesond’ is en kan ons teen heelwat groter skole kompeterend meeding. Baie geluk aan die volgende o.13-dogters en -seuns met hul puik prestasie. Ons is baie trots op julle:

Dogters: 
Stella Lamprecht
Katia van Wyk
Liza Hertzog 
Cara Swanepoel

Seuns:
Dawid-Wiese Viljoen
Gustav Pansegrouw
Johan Symington
Pierre-Jaque Smit

Baie dankie aan Andri en Maricqe wat die bogenoemde o.13-tennisspelers oor die naweek vergesel het. Ons is ook baie dankbaar vir al die ouers wat die leerders so mooi tydens die toernooi ondersteun en aangemoedig het.

Op Woensdagmiddag, 1 November, het ons vir die eerste keer op die ‘nuwe’ sportveld agter die skool o.9 mini-krieketwedstryde teen Laerskool Kampsbaai aangebied. Dit was heerlik om saam met ons ouers agter op die veld onder die skadu van die bome ons spanne te ondersteun. Hoe bevoorreg is ons nie, met die ikoniese Tafelberg in die agtergrond, Leeukop en Sienheuwel wat ‘glimlag’ terwyl ons saam met die Kampsbaai-ouers die mini-krieketwedstryde kon geniet. Ons beplan om heelwat somer- en wintersportwedstryde op die nuwe sportveld aan te bied. Ons bespaar soveel tyd deurdat ons nie meer ons Grondslagleerders heen-en-weer tussen die skool en die Conradieveld hoef te vervoer nie. Ek kan nie anders as om weer vir Gerhard Conradie hartlik te bedank vir sy leeue-aandeel in die verbetering van die skoolfasiliteite nie!

Ons atlete het op Vrydag, 28 Oktober, aan Laerskool Bredasdorp se Top 10 atletiekbyeenkoms gaan deelneem. Ons atlete het goed gevaar en baie dankie aan Leon en André wat ons atlete vergesel het. Baie dankie aan die volgende netbalafrigters wat die naweek van 28 – 29 Oktober te Drie Susters aan ‘n afrigtingskamp aangebied deur Patrys van der Merwe en Elize Kotze bygewoon het: Ischké, Shahneé, Sharon, Razelle, Michelle, Heidré, Naomi en Liezel. Ons glo dat hul heelwat nuwe afrigtingstegnieke oor die naweek aangeleer het om te verseker dat ons netbal van krag-tot-krag gaan.

Ons waarde vir die kwartaal is respek. Hierde afgelope week tydens die saalbyeenkoms het juffrou Liezel vir ons ‘n baie mooi boodskap rakende respek gebring. Graag versoek ons ouers en voogde om ons as opvoeders te help om vir ons leerders die belangrikheid van respek vir mense, diere en eiendom vas te lê. Vir my is dit so belangrik dat ons leerders verstaan dat hulle ander mense moet behandel soos hulle self behandel wil word. Deesdae is dit algemeen dat mense mekaar openlik en blatant sonder respek behandel. Dit is ‘n kollektiewe proses waar personeel en ouers/voogde ons leerders moet help om te leer dat alle mense met waardigheid behandel moet word. Ons brose samelewing roep uit vir respek en medemenslikheid.

Graag herinner ek ons ouers/voogde aan die 2023 begrotingsvergadering op Maandag, 07 November 2022, om 18:00 in die biblioteek. Tydens die vergadering word die verhoging van die 2023 skoolfooie goedgekeur.

Ek sluit af met die volgende anonieme aanhaling wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Respek en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Treat people the way you want to be treated,
Talk to people the way you want to be talked to,
Everyone deserves respect’’

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF