Die eerste week van die kwartaal het op ‘n besondere hoogtepunt geëindig met die vieringe van Ouma- en Oupadag op Vrydag, 14 Oktober 2022.

Oupas en oumas het van heinde ver gekom om die spesiale dag by hul kleinkinders se skool te spandeer. Die vreugde en dankbaarheid om die belangrike rol van ouma en/of oupa te vertolk, was amper tasbaar tydens die dag. Vir ons as skool is dit belangrik dat grootouers ook vir ‘n kort rukkie die skoolomgewing kan ervaar sodat hulle kan sien waar hul kleinkinders soveel tyd met betrekking tot hul opvoeding spandeer. Ek glo dit is belangrik vir die grootouers om te kan sien dat hul kleinkinders gelukkig by die skool is en baie belangrik dat die kinders ook die skoolervaring geniet. Alhoewel ek ongelukkig nie self die dag kon bywoon nie, is ek doodseker dat ons oumas en oupas die bederfdag terdeë geniet het en baie trots op hul kleinkinders is. Die spesiale dag is verder afgerond met ‘n insiggewende boodskap deur die gasspreker, naamlik Helen Zille. Helen Zille is ‘n formidabele vrou en ‘n dinamiese ouma met ‘n pragtige kleinkind by Huppelland. Baie dankie ook aan ons Beheerrraad-Voorsitter, Merwe Scholtz, vir sy pragtige boodskap tydens die geleentheid. Graag wil ek al die oumas en oupas hartlik bedank wat al die moeite gedoen het om ‘n dag tydens skooltyd deel te wees van hul kleinkinders se lewens. Dit is baie spesiaal vir die kinders en oumas en oupas moet nooit vergeet die belangrike rol wat julle in jul kleinkinders se lewens speel nie. Julle mag maar aanhou om hulle lekker te bederf! Laat my ook toe om Marinda en haar span hartlik te bedank wat die suksesvolle dag gereël en georganiseer het.

Week 2 het kenmerkend met die somersport se buitemuurse program afgeskop. Ons leerders het dadelik met somersportoefeninge begin en selfs die afgelope week aan ‘n aflos-swemgala te Laerskool Kenridge deelgeneem en ‘n algehele 5de plek uit 8 behaal. Die opgegradeerde sportveld aan die agterkant van die skool is onmiddellik vir liggaamlike opvoeding, die afrigting van mini-kriket asook vir speelarea voor skool en tydens pouses aangewend. Ons leerders en opvoeders geniet die nuwe spasie en onder die wakende oog van Seinheuwel word daar lekker rond gehardloop en gespeel soos kinders behoort te doen.

Die heining (“clearview fencing”) om die agterste sportveldjie is opgerig. Die heining rond nie net die sportveldjie esteties af nie, maar dien ook as ‘n veiligheidsmeganisme om te keer dat leerders agter balle aan en voor voertuie in die parkeerarea sal hardloop. Ons beplan ook om wedstryde op die nuwe sportveldjie te speel. Verder beplan ons ook om later aanwysings (verkeer en glybane) asook die parkeerareas op die teer- en plaveiselareas aan te bring. Vir die interim periode versoek ek julle vriendelik om tydens die af- en oplaai van jul kinders asseblief die “drop and go / fetch and leave”-beginsel toe te pas. Moet asseblief nie so stop dat jou voertuig die verkeer belemmer nie. Indien ouers/voogde wel uit hul voertuie wil klim, moet hulle asseblief hul voertuie in die parkeerareas parkeer sodat die vloei van verkeer nog steeds so effektief as moontlik kan plaasvind. Baie dankie vir almal se samewerking in die verband.


Die Opgradering van die Vierkant: Die projek vorder baie goed en ek is baie beïndruk met die vakmanskap wat deur die kontrakteur en bouers aan die dag gelê word. Hierdie projek maak ons baie opgewonde en ons kan nie wag om die opgegradeerde vierkant en spasie vir funksies aan te wend nie.


Laat my ook toe om Huppelland geluk te wens met hul puik kunsuitstalling wat jaarliks as ‘n fondsinsameling dien. Dit het hierdie week in die klubhuis plaasgevind. Die tema van die jaar se kunswerke is Suid-Afrikaanse Kunstenaars. Elke ouderdomsgroep se kunswerk is deur ‘n ander kunstenaar soos volg geïnspireer:

  • Gr. 00 – Christo Coetzee
  • Gr. 0 – Maggie Laubser
  • Gr. R – Chris Spies

Die besondere ‘Onthouboekies’ van elke klassie is ook tydens die onderskeie geleenthede onthul. Baie geluk aan Louise Neser en haar dinamiese Huppellandspan. Julle maak ons baie trots!

Ek sluit af met die volgende woorde wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Respek en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“6 + 3 = 9, maar so ook 5 + 4 = 9″
Die manier hoe jy iets doen, is nie altyd die enigste manier nie. Respekteer dus ook ander mense se manier van dink.

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF