Ons maak die naweek weer soos van ouds gereed vir nog ‘n heerlike sportnaweek, maar hierdie keer is dit tuis. Die onlangse sportnaweek in Roberston was net ‘n lekker voorsmakie van gesonde kompeterende wedstryde, heerlike samesyn en sportmanskap.

Hierdie naweek is dit die tradisionele interskole tuis teen Laerskool Dirkie Uys. Ons doen dit in samewerking met Hoërskool Jan van Riebeeck wat al hul fasiliteite aangebied het om die jaarlikse ‘derby’ aan te bied. Daar gaan stalletjies wees om heerlike lekkernye te koop. Ondersteun hulle gerus. Programme is reeds vroeg die week aan alle betrokke partye versprei. By voorbaat dankie dat julle dit saam met jul kinders sal bywoon en ondersteun. Ons moenie vergeet dat die Covid-pandemie ons vir ‘n baie lang tydperk verhoed het om heerlike sportdae en -naweke aan te bied nie.

Vanoggend het ons vir die eerste keer weer ‘n tipe ‘’Groot Brag’’ in die saal gehou om so ‘n bietjie gees te vang en saam as ‘n skool sportdeelname te vier. Ons skool se eerste spanne (o/13A’s) is deur hul onderskeie kapteine in die saal bekendgestel en ek het die wonderlike voorreg gehad om hul eerste span klere te oorhandig. Die opwinding is groot en aansteeklik. Hierdie spesiale geleenthede is juis dit wat kinders van hul laerskooldae omhels en onthou.

Ek wens al ons sportspanne die beste toe en by voorbaat dankie dat julle beleefd teenoor ons opponente gaan optree, hulle baie welkom laat voel en sportmanskap na die volgende vlak sal neem.

Graag deel ek ook met julle dat dat ons skool op Woensdag, 17 Augustus, ‘n ‘’Building Blocks’’ verifikasiebesoek deur die onderwysdepartement ontvang het. In gewone taal is dit ‘n oudit-besoek waartydens ons kurrikulumbestuur, -praktyke, -beplanning en akademiese, – uitslae en -analises geëvalueer word. Dit is dan my trotse voorreg om met julle te deel dat ons dit met vlieënde vaandels geslaag het. Laat my toe om al die opvoeders, vakhoofde, graadhoofde, departementshoofde, die Exco, die Beheerraad en Marinda (Adjunkhoof) te bedank vir al die harde werk en toewyding om seker te maak ons kernbesigheid, naamlik, die akademie, ‘n puik standaard handhaaf tot voordeel van al ons Jannies.

‘n Verdere bewys dat ons skool op akademiese gebied puik presteer, is die feit dat Katia van Wyk, Karlien van der Walt en Liza Hertzog gekeur is om op Saterdag, 20 Augustus 2022, aan die Wes-Kaap se ‘’Spelling BEE’’ deel te neem. Dit is ‘n baie groot prestasie aangesien hulle 1080 woorde, sowel as die definisies, moes leer. Hulle het dus baie ure spandeer om deur al die werk te kom. Die gewilde spelkompetisie wat ‘n vlagskipgeleentheid vir die WKOD is, vind te Rosebank Junior School plaas waar heelwat leerders kompeteer. Liza moes ongelukkig onttrek as gevolg van die interskole en ons beste wense vergesel Katia en Karlien.

Ek wil verder graag met ons dinamiese leerders spog. Ons Gr.7-leerders het vroeër vanjaar aan die Nelson Mandela se jaarlikse MathArt-kompetisie deelgeneem en baie goed presteer. Lees gerus meer hieroor onder die terugvoer-afdeling van die nuusbrief.

Ek sluit dan af met die onderstaande stelling wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n wonderlike sportnaweek toe. Ek sien uit om jou langs die sportvelde te sien.

“No legacy is as rich as honesty.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF