Met die aanvang van die 2de week van die kwartaal is alle skoolaktiwiteite in volle swang. Laasjaar die tyd was daar nog so ‘n bietjie bekommernisse oor COVID, maar vanjaar is daar nie sprake daarvan nie en kan ons as ‘n skoolgemeenskap weer ‘normaal’ funksioneer.

Op Maandag, 23 Januarie 2023, het die somer buitemuurse program amptelik afgeskop en ons is aangenaam verras met die opkoms van leerders wat aan die verskillende somersportkodes wil deelneem. Baie dankie aan al die ouers/voogde vir julle aandeel om jul kinders te motiveer om vanjaar aktief te wees en aan skoolsport deel te neem deur dit saam met hul maats te geniet.

Graag wil ek al ons ouers/voogde wat die inligtings- en bekendstellingsaand op Dinsdag, 24 Januarie 2023, bygewoon het hartlik bedank en gelukwens met die opkoms. Dit is werklik ‘n riem onder die hart om te sien dat soveel ouers/voogde werklik betrokke by sy/haar kind se skool wil wees en dit koester om deel te wees van ‘n spesiale skoolgemeenskap wat omgee. Laat my toe om ons OOV-voorsitter, Ria Hertzog, en haar span (Esna Boshoff en Elette Symington) vir die puik reëlings en harde werk hartlik te bedank wat die sukses van die aand verseker het. Die samesyn was kosbaar en die positiewe ‘gees’ onder die ouers/voogde was amper tasbaar. Die doel van die aand was natuurlik om inligting oor jou kind/ers se nuwe graad oor te dra, asook om die personeel bekend te stel. Ek dink almal stem saam dat die geleentheid absoluut die regte geleentheid was om die jaar op ‘n hoogtepunt af te skop. Ek glo ouers/voogde het die geleentheid gebruik om mekaar beter te leer ken, veral die graad 1-ouers asook al die nuwe ouers en daardeur nuwe vriendskappe te bewerkstellig.

Die pret vir die week stop egter nie by Dinsdagaand nie, dus glo ek dat ek weer almal môre tydens die ouer- en kindsportdag by die Conradieveld sal sien. Ouers en kinders word op die dag in spanne van 6 lede in gedeel wat bestaan uit 3 volwassenes en 3 kinders. Julle kan aan sokker, mini-krieket, ‘tag-rugby’ en veldnetbal deelneem. Neem gerus deel, geniet die dag saam met jou kind/ers en indien jy bekommerd is oor ‘n ‘ou’ besering, ons gaan spesiaal van professionele noodhulp gebruik maak. Daar sal ook heerlike koffie, eet (Pizza) – en drinkgoed te koop wees. Braaidromme gaan ook uitgepak word indien julle na afloop van die sportdag (vanaf 12:00) wil braai en lekker saam kuier. Bring dus gerus jou smaaklike ‘skaaptjoppies’ en ander verversings saam. By voorbaat dankie dat julle die dag gaan ondersteun. Ek glo dit gaan ‘n jaarlikse instelling word. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes gaan optree asook registrasies en die snoepieverkope gaan hanteer.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid deur Sherman Finesilver en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Don’t worry about failure.
Worry about the chances you miss
When you don’t even try!”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF