Ek hoop en vertrou almal het die heerlike wintervakansie terdeë geniet en jul spreekwoordelike batterye is ten volle gelaai, slaggereed om die nuwe kwartaal saam met jul kinders aan te pak.

Dit is altyd ‘n wonderlike voorreg om die leerders, ouers, voogde en personeel terug by die skool na ‘n vakansie te verwelkom. Daar heers groot opwinding onder die leerders om weer terug by die skool en tussen hul maats te wees, want hierdie kwartaal is weer propvol sport- en kultuuraktiwiteite en moenie vergeet van ons gewilde konsert wat aan die einde van die kwartaal plaasvind nie.

Die buitemuurse program het sommer op dag een van die nuwe kwartaal in volle swang afgeskop, want ons wil ernstig voorberei vir die belangrike sportnaweek (29/30 Julie) te Laerskool Robertson. Verskeie ander skole gaan ook aan die spesifieke sportnaweek deelneem en ek glo julle sien ook saam met jul kinders en hul afrigters uit om ‘n heerlike naweek in die pragtige platteland of sal ek eerder sê Wynland te spandeer. Die plattelandse gasvryheid en samesyn is altyd kosbaar en ek hoop om julle almal daar te sien. Graag versoek ek dat ons as Laerskool Jan van Riebeeckers sommer in massas sal opruk na Robertson.

Laat my asseblief toe om vir juf. Claudia hartlik geluk te wens met haar onlangse verlowing. Ons wens vir haar en Marshall net ‘n blink en belowende toekoms toe. Graag wil ek verder met die volgende prestasies van ons personeel spog:

  • Juf. Ischké het gedurende die vakansie die interprovinsiale netbaltoernooi saam met Sophia Liebenberg as skeidsregter te Boksburg bygewoon. Sy het na afloop van die toernooi haar SASN-gradering ontvang.
  • Juf. Shahneé het gedurende die vakansie met haar Doves 0/11-netbalspan aan die Wes-Kaap Interdistrikte Netbaltoernooi te Wellington deelgeneem en haar span het ‘n 2de plek behaal en dus silwer medaljes ontvang.
  • Juf. Sharon het ook aan die bogenomede netbaltoernooi deelgeneem en haar Dolphins o/13-netbalspan het die toernooi gewen en goud ontvang!
  • Juf. Madri (nasorghoof) het haar NGOS met cum laude geslaag en sy het nou amptelike onderwyserstatus.

Baie geluk aan die bogenoemde personeellede met jul puik prestasies. Julle maak ons baie trots.

Op Dinsdag, 19 Julie, het ons die kwartaal amptelik met ‘n saalbyeenkoms begin om vir al ons Jannies terug by die skool te verwelkom. Liza Hitge en Owen Wiese het onderskeidelik as die hoofseun en hoofdogter van 2022 ‘n pragtige boodskap gelewer. Hul ouers het ook die saalbyeenkoms bygewoon om hul hoofleierbalkies aan te steek. Baie geluk aan die trotse ouers en ons beste wense vergesel ons hoofleiers met die belangrike leierskaprol wat hulle saam met die leerderraad die res van die jaar gaan vervul.

Ek glo dat julle ook opgelet het dat ons hekke vanaf 19 Julie (Maandae tot Vrydae vanaf 06:00 -18:00) deur PPA se sekuritietswagte beman word. Verder het die installasie van ‘n effektiewe kringtelevisie-kamerastelsel wat die hekke en heinings/mure van die skool 24/7 gaan beman, reeds die eerste week van die vakansie begin en behoort die projek binnekort voltooi te wees. Weereens hartlike dank aan ons Opvoedingstrust wat die bogenoemde sekuriteitsinisiatiewe befonds om die veiligheid van leerders, ouers, voogde en personeel te verseker.

Môre (Saterdag, 23 Julie) hou ons in samewerking met die WKOD vanaf 08:00 – 15:00 ‘n spesiale “Change Mindset” opleidingsessie vir al ons terrein- en administratiewe personeel (die laerskool en Huppelland) in ons skoolsaal. Die formaat is ‘n werkswinkel wat fokus op “Personal Mastery” wat deur Alexis Andraos (Sielkundige by WKOD) aangebied word. Hierdie opleiding maak my baie opgewonde en ek wil vir Jodene hartlik bedank vir hierdie wonderlike inisiatief, want ons terreinpersoneel word dikwels afgeskeep wanneer dit by opleiding kom waarby hulle ook persoonlik kan baat.
Verder beoog ons om ‘n elektroniese tellingbord wat vir rugby-, hokkie- en krieketwedstryde aangewend kan word, by die Conradievelde op te rig. Ons benodig egter fondse en ek neem die vrymoedigheid om julle te versoek dat indien jy sou belangstel om ‘n finansiële bydrae te maak, my gerus by skoolhoof@jvrprim.co.za te kontak.

Ek is vandag verder opgewonde om die volgende besluit van die Beheerraad te deel: Ons skool skakel binnekort vanaf die Google platform na Microsoft Education oor om ons leer en onderrig verder te komplimenteer. Meer volledige inligting sal binnekort gekommunikeer word.

Ek sluit dan af met die onderstaande stelling wat fokus op ons waarde vir die kwartaal, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n wonderlike en geseënde naweek toe.

“The naked truth is always better than the best-dressed lie”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF