Ek glo julle sal saamstem dat kwartaal 2 tot op datum ‘n baie bedrywige, maar tog lekker kwartaal was. Dit is veral gekenmerk met verskeie sportwedstryde en -toernooie, kultuuraktiwiteite soos Eisteddfod, redenaars, kooroptredes en musiekkonserte, staptogte deur die Dapper Stappers en heerlike samesyn geleenthede soos die Kaperjolle en klasbraaie. Dit bring ons dan natuurlik by die assesseringsweke vir Grondslagfase en kontroletoetse (eksamen vir gr. 4 – 7) aan die einde van kwartaal 2 wat die week vir die gr. 1-3’s en 7’s afgeskop het en ons leerders moet egter weer agter die boeke inskuif.

Graag versoek ek julle om as ons opvoeders kollektief te help om die eksamenstres onder jul kind/ers te beperk en dit eerder as ‘n positiewe uitdaging onder jou kind/ers te promoveer. Ons samelewing en sosiale media het veroorsaak dat die druk om te presteer al groter en groter word. Kom ons wees eerlik, daar is bittermin mense wat uitsien na ‘n eksamen. Ek glo ook julle ken daai ‘hol’ gevoel op die maag voor jy ‘n eksamen gaan aflê. Ek besef ook dat jul as ouers saam met jul kind/ers ook moontlik eksamenstres kan ervaar. Dus deel ek ‘n paar handige wenke om te verhoed dat eksamenstres moontlik in jul huishouding kan handuit ruk:

  • Moet asseblief nie jou kind/ers vir eksamens bang maak nie. Deur hulle byvoorbeeld te dreig dat indien hulle nie nou harder gaan leer nie, hulle sal druip. Dit werk nie, inteendeel dit maak kinders net meer angstig.
  • Stel belang in jou kind/ers se voorbereiding en maak seker hulle berei betyds voor om angstigheid te vermy.
  • Maak seker jou kind/ers leer by ‘n lessenaar en asseblief nie in of bo-op die bed nie.
  • Navorsing toon dat veral laerskoolkinders nie te lank aaneen moet studeer nie, 20 – 30 minute op ‘n slag is ideaal. Dit is ook belangrik om gereeld blaaskanse te vat om die brein ruskans te gee om al die inhoud te verwerk.
  • Maak seker dat jou kind/ers genoeg slaap kry, anders gaan hulle beslis nie optimaal in die eksamen funksioneer nie.

Verder wil ek ook noem dat die skoolbestuur besluit het dat ons leerders tydens die eksamen (Maandae tot Donderdae) in skooltyd (11:45 – 12:45) sal voortgaan met sportoefeninge. ‘n Volledige program ( 6 – 15 Junie) sal volg. Ek glo julle sal met my saamstem dat leerders na afloop van hul daaglikse eksamen ‘n bietjie oefening buite in die vars lug sal verwelkom. Leerders is dikwels angstig tydens eksamens en ek glo dat deur voort te gaan met sportoefeninge dit hulle sal help om die stresvlakke tydens eksamens te verlaag. Dit sal ook verder help om hul konstante aandag aan studies en eksamen tydelike weg te neem deur op iets anders te fokus.

Op Dinsdag, 31 Mei 2022, het ons seniorkoor tydens die saalbyeenkoms onder leiding van juf. Helecia en mnr. Ben opgetree. Hulle het twee liedere naamlik: “As jy staan op die maan” en “When Africa smiles” gesing. “When Africa smiles” is ‘n pragtige lied deur Jakkie Louw geskryf en Lara Basson het die trom gespeel. “As jy staan op die maan” is deur ‘n vriend van juf. Helecia geskryf. Sy naam is Alastair van Huyssteen. Juf. Helecia het dit verwerk, mnr. Ben het begelei en Adéle Holtshauzen het die viool gespeel. Alastair is ‘n prokureur van beroep, baie lief vir motors en skryf natuurlik liedjies. Hy het self die saalbyeenkoms bygewoon en sommer tussen die leerders gaan sit om die kooroptrede van sy liedjie te ervaar. Hy het ook na afloop van die saal met die seniorkoor gesels, hulle geloof vir die puik optrede en ook ‘n pragtige boodskap vir hulle gebring. Baie geluk en baie dankie aan ons seniorkoor wat ons so trots maak.

Op Woensdag, 1 Junie, het juffrouens Charlene en Mardry van die Engelse Huistaal departement my genooi om te kom luister na die Gr. 6’e se voordrag van gedigte uit die “Cats Musical”. Dit is nie sommer jou gewone Engelse gedigte nie, maar moeilike en komplekse gedigte wat geskryf is deur die bekende Engelse digter T.S. Elliot. Dit was ‘n ongelooflike ervaring en ek wens ek kon die hele skoolgemeenskap uitnooi om saam met my die ervaring in die saal te deel. Ek klink dalk soos ‘n platespeler wat vasgehak het, maar ons leerders is uiters talentvol in soveel opsigte en met die ondersteuning van passievolle opvoeders kan ons leerders nie anders as om hul volle potensiaal te bereik nie.

Saterdagaand, 4 Junie 2022, geskied ons skool se veiling by Mount Nelson Hotel nadat die pandemie dit vir 2 jaar onderskep het. Dit gaan my eerste ‘veiling-ervaring’ by die skool wees en ek en my vrou kan nie wag vir die spesiale geleentheid nie. Graag wil ek vir Coreen Scholtz, Esna Boshoff en hul span hartlik bedank wat hard agter die skerms gewerk het om die veiling moontlik te maak. Baie dankie aan al ons borge, donateurs en ouers vir al die ruim skenkings en donasies. Die fondse wat tydens die geleentheid geïn word, sal terug geploeg word in die opgradering van die skool se vierkant.

Dankbaarheid is nog steeds deel van my tema en daarmee sluit ek dan af met die volgende bekende aanhaling: “Omsoom jou seëninge met soveel dankbaarheid dat dit nie uitrafel nie”.

Geniet ‘n wonderlike naweek en sterkte aan al ons leerders en ouers vir die eksamentydperk.

Naas Beets
SKOOLHOOF