Week 6 het sommer lekker flink afgeskop met ‘n baie besige sportprogram. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien hoe al ons Jannies aktief aan die verskillende sport- en kultuuraktiwiteite by die skool deelneem. Na 2 jaar is die kinders se belangstelling om aan die buitemuurse program deel te neem op ‘n ‘nuwe’ energieke vlak. Dit herinner ons dat ons vir jare die normale funksionering van die samelewing as selfsprekend aanvaar het en groot was die ontnugtering met die koms van ‘n wêreldwye pandemie.

Hierdie afgelope week het ons Jannies aan verskeie krieket- en tenniswestryde asook die subsone atletiekbyeenkoms te Vygieskraal deelgeneem. Ek is so trots om aan te kondig dat van die 37 atlete wat daar op Woensdag, 23 Februarie, deelgeneem het, gaan 15 atlete deur na die distriksbyeenkoms wat op Saterdag, 26 Februarie, te Vygieskraal plaasvind. Ek verwys graag na die res van die nuusbrief. Ons o/13-krieketspanne het die afgelope week twee wedstryde gespeel. Ek wil nie graag leerders uitsonder nie, maar ek sal my van my taak kwyt indien ek nie melding maak van Werner Steyn (Gr. 7) wat op Dinsdag, 22 Februarie, ‘n ongelooflike kolfbeurt tydens ‘n T20-wedstryd weg teen Laerskool Parklands gehad het. Hy het ’n blitsige 102 lopies van slegs 54 balle aangeteken waarop iemand soos AB de Villiers ook baie trots sou wees. Baie geluk aan Adan Eksteen wat ook 57 lopies tydens die wedstryd geslaan het en soos julle kan aflei, het ons met ‘n allemintige 188 lopies gewen. Welgedaan aan meneer Warren en sy span, julle maak ons baie trots! Ons 6 tennispanne het ook die week goed gevaar en gaan van krag-tot-krag. Op Saterdag, 19 Februarie, het ons skaakspelers aan Laerskool Welgemoed se individuele skaaktoernooi deelgeneem. Baie geluk aan Bella Naylor wat die beste dogtersprys gewen het. Ons is baie trots op jou, Bella. Baie geluk aan al ons sportleerders en afrigters wat ons skool so mooi verteenwoordig.

Dinsdag, 22 Februarie 2022, was natuurlik ‘n baie unieke dag, want dit is Palindroomdag. Dit beteken dat die datum presies dieselfde bly al lees jy dit van links na regs of van regs na links. Hierdie 8-syfer Palindroomdae is uiters skaars. In die vorige eeu was daar geen, maar hierdie eeu is daar 29 as jy die datum skryf met eers die dag, dan die maand en dan die jaar.

Ek, juffrou Izel en die leerderraad het die wonderlike voorreg gehad om saam met 9 ander laerskole se leerderrade op Donderdag, 24 Februarie, ‘n heerlike Leierskapontbyt te Hoërskool Jan van Riebeeck by te woon. Die ongelooflike funksie is in die pragtige tuin voor die Welgemeend gehou met die voormalige Springbokkaptein, Corné Krige, as die gasspreker. Sy insiggewende toespraak het oor leierskap gehandel en sy nederigheid het ‘n groot indruk op al die jong leiers en almal teenwoordig gemaak. Hy het ons almal uitgedaag om die beste van jouself elke dag te wees en mense te inspireer dat daar hoop is. Ons land hunker so na hoop en dit maak sy boodskap so treffend. Wees elke dag jouself soos ons leuse sê, maar wees die beste van jouself elke dag – dan gaan ons ‘n groot verskil maak. Baie dankie Karien Zulch en die skoolhoof, mnr. Pieter Rademeyer, vir die uitnodiging en baie geluk met ‘n puik funksie waarop julle baie trots kan wees. Dit was so lekker om ons oud-leerders en verlede jaar se Gr.7-leerders weer in aksie te sien.

Ek doen ‘n beroep op ouers/voogde en au pairs wat kinders agter by die skool vanuit “New Church” kom aflaai en optel, om asseblief so te parkeer dat die ’rooi rybaan’ te alle tye nie geblokkeer word nie. Indien jy vroeg arriveer en daar wil wag tot jou kind opdaag, parkeer asseblief so dat die vloei van verkeer nie belemmer word nie. Ons vra ook dat kinders asseblief vinnig (“drop and go”) afgelaai en opgetel word om die vloei van die verkeer te verseker. Daar is verskeie motorbestuurders wat die afgelope tyd nie hulle samewerking gegee het nie en onnodig ouers/voogde warm om die kraag gemaak het. Baie dankie vir almal se samewerking in die verband.

Op daardie noot wil ek afsluit met die volgende aanhaling deur Jonathan Garcia-Allen oor verdraagsaamheid:

“Verdraagsaamheid is die irriterende gevoel dat ander mense op die ou end reg kan wees.”

Geniet die naweek en sterkte aan almal betrokke by sport oor die naweek!
Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF