Ons moedig graag ons ouers/voogde aan om hul kinders by die nasorg in te skryf. Die nasorg, onder leiding van Madri Greyling, bied ‘n veilige plek vir leerders om hul skooldag af te sluit.  Die nasorgaktiwiteite is uitgebrei om dit nog lekkerder vir leerders te maak.

Die nasorgspan ken elke leerder op die naam en koördineer daagliks leerders om hul sport- en buitemuurse aktiwiteite betyds by te woon.  Daar is Maandag tot Donderdag aparte huiswerkklasse vir graad 1, graad 2 en dan vir graad 3 – 7-leerders sodat die druk op ouers en leerders laatmiddag/vroegaand minder is. Ouers kan net by die huis seker maak dat hul kind/ers die werk verstaan. Ons is ook baie trots op Madri aangesien sy aan die einde van laasjaar die finale vakke vir haar B.Ed (Grondslagfase) graad geskryf het en binnekort haar onderwysgraad sal ontvang. Sy inkorporeer nou groot- en fynmotoriese beweging en ander opvoedkundige metodes om huiswerk meer interessant te maak asook om die vaslegging van werk te verseker.

Die nasorgspan maak elke dag vir leerders ‘n toebroodjie en van hierdie jaar af is elke dag se broodjie anders. Op hierdie stadium geniet die kinders die toebroodjies so baie, dat van hulle skoon vies raak as mamma of pappa hulle voor hulle ham- en kaasbroodjie kom haal!

Daar is aan die begin van die jaar nuwe speelgoed aangekoop en die leerders het nou baie “hula hoops” en balle om buite mee te speel. Daar is ook verf en ander kunsprodukte aangekoop en leerders doen een keer ‘n week ‘n kunsaktiwiteit. Een van ons ouers, Ronel Allewell, bied elke Vrydagmiddag vir ons nasorgleerders ‘n jogaklas aan. Die kinders geniet dit ongelooflik baie en ons wil sommer van die geleentheid gebruik maak om haar vir haar tyd te bedank. 

Indien jy jou kind vir nasorg wil inskryf, kontak gerus vir Madri Greyling by nasorg@jvrprim.co.za. Sien ook HIER die nasorgblad op ons webtuiste.