Hartlike welkom terug by die skool na die heerlike kort Oktober-vakansie. Ek glo almal het die ruskansie terdeë geniet en hul ‘batterye’ herlaai sodat ons as skoolgemeenskap die laaste kwartaal spreekwoordelik die bul by die horings kan pak. My beste wense vergesel almal vir die kwartaal.

Sedert ons laaste nuusbrief van 01 Oktober 2021 het die regering die nasionale grendelstatus na vlak 1 verlaag en wag ons op meer spesifieke direktiewe vanaf die nasionale onderwysdepartement asook die WKOD rakende onder andere die bestuur van buitemuurse programme en die bywoning van toeskouers tydens wedstryde, oefeninge asook binnehuise optredes. Ons sal julle op hoogte hou sodra ons amptelike inligting ontvang. Ons glo dat met die geleidelike afskaling van die inperking ons binnekort positiewe nuus sal ontvang sodat ons meer geleenthede kan skep vir leerders en ouers om skoolaktiwiteite die laaste kwartaal van die jaar te kan bywoon.

Graag deel ek met julle die nuus dat die Grondslagfase se seunsbadkamers ook gedurende die Oktober-vakansie suksesvol opgegradeer is. Ons is baie trots dat al die badkamers in die skool vanjaar opgegradeer is. Dit is vir ons uiters belangrik dat alles moontlik gedoen moet word om die Jannies se persoonlike veiligheid en privaatheid tydens die gebruik van die badkamers te verseker. Laat my asseblief toe om veral ons Beheerliggaam te bedank wat die projekte ondersteun en goedgekeur het. Weereens baie dankie aan Ria Hertzog en Stephanie le Roux, die inisieerders van die projekte. Sodra die skool vir ouers meer toeganklik word, sal ons dit graag vir julle wil wys.

Weens die feit dat die nasionale inperking na vlak 1 aangepas is, het ek die wonderlike voorreg gehad om op Dinsdag, 12 Oktober 2021, vir die eerste keer sedert my aanstelling as Skoolhoof by JvR al die Graad 4 – 7-leerders saam in die saal toe te spreek. My boodskap het gehandel oor die kernwaardes van die skool, naamlik respek, eerlikheid, verantwoordelikheid en omgee. Die doel van die boodskap is om vir ons Jannies perspektief te gee dat waardes die boustene van ‘n gesonde samelewing is. Na afloop van my boodskap het ek ook die Gr. 7’s se Top 10 akademiese presteerders vir kwartaal 3 aangekondig. Die Top 10-leerders het elk ‘n spesiale sertifikaat ontvang om erkenning vir hul harde werk en pligsgetrouheid te gee. Ons glo dat dit ook die res van ons Jannies sal inspireer om skouer aan die wiel te sit en verantwoordelikheid vir hul eie leer te neem. Hiermee dan die Graad 7’s se Top 10 akademiese presteerders (alfabetiese volgorde) soos einde kwartaal 3:

Mieke Hertzog
Jan Karsten
Danny Newton
Elle Nortjé
Cala Snijders
Katrien Stimie
Héloïse Strauss
Mia Symington
Taniel Webber
Luca Zulch

Baie geluk aan die bogenoemde akademiese presteerders asook hul trotse ouers en grootouers. Baie dankie aan al die opvoeders wat reeds van Huppelland se dae instrumenteel was om ons leerders te bemagtig, te motiveer en te inspireer tot hoër hoogtes. Ons kernbesigheid is akademie en ons is trots op die akademiese standaard en kwaliteit van onderrig en leer by Laerskool Jan van Riebeeck waar uniekheid en kindwees van elke Jannie omarm word. Ons het nie net op akademiese gebied presteer nie, maar ook op kulturele gebied. Dus wil ek al die Jannies wat medaljes by die Eisteddfod gewen het, hartlik gelukwens met hul puik prestasies. Julle maak ons so trots!

Laat my ook toe om Khanyiso te bedank vir die diens wat sy koffiestalletjie by Huppelland en die laerskool bied. Sy kwaliteit boeretroos en professionele diens help beslis om die dag op die regte noot te begin. Let wel op dat ons sy koffiestalletjie vanaf kwartaal 4 geskuif het en hy bedryf dit nou vanuit die motorhuis langs die herwinningsarea wat sy dienste meer toeganklik en prakties maak. By voorbaat dankie dat julle sy dienste ondersteun. Soos hulle sê: “‘n Slegte dag met koffie is beter as ‘n goeie dag daarsonder”.

Laaste, maar nie die minste nie wil ek spesiaal ons Hoof van die Grondslagfase, Benita Smit, hartlik terug verwelkom by die skool na ‘n kwartaallange siekteverlof en wonderbaarlik na afloop van ‘n roetine-operasie wat skeef geloop het, herstel het. Haar klas is in hulle noppies om hul gunsteling juffrou weer terug aan hulle sy te hê.

Vanmiddag moet ek my tennisvaardighede tydens die langverwagte wedstryd teen die Hoërskool se Skoolhoof, Pieter Rademeyer, ten toon stel. Hierdie vertoonwedstryde dien as ‘n fondsinsamelingsprojek en die fondse geïn word deur die twee skole gedeel. Sien julle vanmiddag by die wedstryd en ek hoop nie ek stel julle teleur nie.

Geniet ‘n heerlike naweek en graag sluit ek met die volgende aanhaling wat na waardes verwys, af:

“Values are like lighthouses,
they are
signals giving
us direction, meaning and purpose”