So kom ons aan die einde van week 7 van kwartaal 3. Week 6 is spesiaal afgesluit met vrolike Loslitdagvieringe. Loslitdag word jaarliks gehou op die eerste Vrydag van September en dit is lekker om deel van ‘n klomp Suid-Afrikaners te wees wat wil bewys dat ‘n klein gebaar van welwillendheid ‘n groot verskil in die lewe van mense met gestremdhede kan maak. Die tema vir 2021 is ‘Durf en Deernis’ en dit is spesifiek geïnspireer deur Disney se onlangse bekendstelling van The Ultimate Disney Princess Celebration wat dan die eienskappe vervat van die treffende tema. Ons Jannies kon hul ondersteuning toon deur geklee as Disney-karakters na die skool te kom. Die spesiale dag het ‘n wonderlike gees van kameraderie en lighartigheid by die skool geskep. Baie dankie aan al ons ouers/voogde wat die dag en mense in nood ondersteun het deur die spesiale loslitdag-plakkers te koop. Ons opvoeders het behoorlik die dag met pragtige kostuums uitgehang en was instrumenteel om die gees van welwillenheid te ontsluit.

Op Saterdag, 4 September, het Meneer Leon en Juffrou Andri die jaarliks Wiskundekamp vir Gr. 6- en 7-leerders vanaf 08:00 tot 17:00 in die saal onder streng Covid-protokol aangebied. Ons is baie dankbaar vir die twee opvoeders se opoffering en passie om Wiskunde by Laerskool Jan van Riebeeck te promoveer en na hoër hoogtes te lei. Hierdie inisiatief is een van die redes waarom ons Jannies juis so puik tydens Wiskunde-olimpiades of kompetisies vaar en ons leerders hulself van ander laerskoolleerders kan onderskei as dit by wiskundige vermoëns kom. Ek glo almal sal saam stem dat Wiskunde beslis kritiese denke en probleemoplossingsvaardighede ontwikkel, het praktiese toepassings en kan amper as die taal van die heelal gesien word. Ons kry dit beslis by ons skool reg om die opwinding in Wiskunde as vak te ontsluit. Die formule is eintlik maar eenvoudig, naamlik passievolle en toegewyde opvoeders wat die vak terdeë saam met hul onderskeie leerders geniet en elke dag na geleenthede soek om nog iets te leer, en in die proses vlerke aan ons Jannies se toekoms te gee. Mag ons almal daarna streef om lewenslange leerders te word en sodoende ‘n leerkultuur in ons skoolgemeenskap te skep.

Opvallend is die opwinding wat die afgelope 3 weke onder die leerders en afrigters heers weens die feit dat ons vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd wintersportwedstryde teen ander skole en/of sportklubs kon speel. Kosbaar is die stralende gesiggies op die sportveld veral toe ons dogtershokkiespanne by St. Cyprians hulle voete vir die eerste keer op Astro-oppervlakte kon sit. Wen of verloor is vir ons leerders irrelevant, net om te kan kompeteer is vir hulle die beste ding ooit. Nie net het ons skool die ekstra myl geloop om sportoefeninge en wedstryde te verseker nie, maar ook terselfde tyd het die koor, redenaars en Eisteddfod voortgegaan met verskeie uitdagings wat deur die pandemie na ons kant gegooi is. Ek is baie dankbaar vir ons passievolle personeel en afrigters wat verstaan dat kinders aan buitemuurse aktiwiteite moet en wil deelneem. Ons poog regtig om iets ‘normaal’ vir ons leerders te skep en min laerskole kan in terme hiervan saam met ons praat. Welgedaan, Personeel! Ek is baie trots op julle. Hartlike dank aan ons beheerraad vir hul ondersteuning in die verband.

Vandag en môre sluit ons dan wintersport af met ons interne wedstryde. Ek weet die Jannies gaan dit baie geniet! Ons o/13A-netbalspan neem ook môre aan die Wes-Kaap Top Skole Netbaltoernooi te Laerskool Bastion deel asook ons o/12-span wat te Paarl Gimnasium aan ‘n o/12-Netbaltoernooi deelneem. Sterkte en geniet hierdie wonderlike geleenthede!

Ek is ongelukkig nie vandag by die skool nie, aangesien my Pa se troosdiens vandag te Oudtshoorn plaasvind. Ons moes dit as gevolg van Covid al twee keer uitstel.

Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet, wees veilig en graag sluit ek af met die volgende aanhaling deur die bekende Mahatma Gandhi:

“Happiness is when
what you think,
what you say,
and what you do
are in harmony.”