Ons glo dat almal ‘n heerlike wintervakansie geniet het en dat dit instrumenteel was om die spreekwoordelike batterye te herlaai sodat ons die nuwe kwartaal met geesdrif en ywer kan aanpak. Die opwinding was groot om al ons Jannies op Maandag, 26 Julie, terug by die skool te verwelkom. Vrolike kinderstemme het die aanbreek van die nuwe kwartaal luidkeels in die stadskom aangekondig met Seinheuwel wat ons van ouds dophou. Ek wens al ons Jannies, ouers/voogde en personeel ‘n wonderlike en voorspoedige kwartaal 3 toe.

Die afgelope drie weke skoolvakansie het gepaard gegaan met ongekende gebeurtenisse soos:

  • die skielike instelling van vlak 4-inperking wat verskeie besighede finaal lam gelê het;
  • die vroeër sluiting van skole, asook die verlenging van die vakansie tydens die vakansie waaroor die meeste mense nie gekla het nie;
  • politieke insidente soos onder andere die minagting van die hof wat skokkende plundery tot gevolg gehad het;
  • onbeplande beurtkrag wat die reeds kwesbare ekonomie verder op sy knieë het;
  • sinnelose taxi-geweld in die Wes-Kaap
  • geweldige toename in Covid-19 verwante sterftes as gevolg van die Delta-variant.

Die bogenoemde skets ‘n geweldige negatiewe prentjie, maar die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van die Suid-Afrikaner om menigte krisisse te oorwin en veral die omgee en kreatiwiteit van ons skoolgemeenskap laat hom nie onderkry nie en skep ongelooflike hoop! Ons het weer eens nie toegelaat dat die Covid-19 pandemie ons vrese verteenwoordig nie, maar eerder ons uitsonderlike vermoë om krisisse te oorwin.

Groot was die skok vir ons skoolgemeenskap met die aanvang van die vakansie toe ons te hore kom dat ons Hoof van die Grondslagfase, Benita Smit, letterlik by die dood omgedraai het nadat ernstige komplikasies na afloop van ‘n roetine operasie ingetree het. Ons is vas oortuig dat die krag van gebed tot ‘n wonderwerk gelei het. Menigte het vir haar gebid en die personeel het 2 keer tydens ‘n virtuele gebedsgroep met geloof gebid, want haar prognose was nie goed nie. Benita het egter deur die genade van Bo wonderbaarlik herstel en die nuwe prognose is dat sy volkome oor tyd sal herstel en daarvoor is ons so dankbaar. Sy het selfs die skoolbestuurvergadering op Donderdag, 22 Julie, bygewoon. Benita is egter deur heelwat trauma en daarom is sy vir die hele kwartaal medies afgeboek sodat sy volkome kan herstel. Juffrou Anja gaan haar klas die kwartaal waarneem. Ons wens Benita ‘n spoedige en volkome herstel toe.

Dit is vir my verblywend om ook aan te kondig dat die opgradering van die seuns- en dogtersbadkamers suksesvol tydens die vakansie afgehandel is. Sien gerus ingeslote foto’s en graag wil ek weer vir Stephanie le Roux en Ria Hertzog hartlik bedank wat die projek geïnisieer het asook fondse daarvoor bekom het. Ons is baie dankbaar en trots op die nuwe geriewe.

Verder is ‘n dit vir my ‘n voorreg om met julle te deel dat Jan Karsten die SA-Span (JIMCOBSA) verteenwoordig op 29 Julie 2021 deur aan ‘n internasionale aanlyn-wiskundetoernooi deel te neem waarvan Indonesië die gasheer sal wees. Jan, ons hou vir jou duimvas! Jy maak ons so trots!

Graag sluit ek af en wil ek graag almal bedank wat hul medelye betoon het met die afsterwe van my Pa op Sondag, 25 Julie 2021. Ek is baie dankbaar vir almal se oproepe, ondersteuning en gebede die afgelope week en dit spreek boekdele van ons omgee skoolgemeenskap. Die hartseer is dat beide my ouers nou oorlede is en dit laat ‘n mens baie kwesbaar voel. Ek besef onmiddellik dat ek nie meer die telefoon net eenvoudig kan optel en net gou vinnig hallo sê nie of sommer net gou weer ‘n bietjie raad vra nie of net lekker gesels nie. Indien jou ouer(s) nog leef, doen die ekstra moeite om meer as gereeld hulle te besoek of te kontak, want daar kom ‘n dag wat jy nie meer sal kan nie, en dan wil ‘n mens nie enige verwyte hê nie. Dus sluit ek af met die volgende aanhaling: “Love your parents. We are so busy growing up, we often forget they are also growing old.”.