Ons is baie opgewonde om op Dinsdag, 8 Februarie 2022, weer aan ons jaarlikse Interskole Atletiekbyeenkoms te kan deelneem. In 2020 kon van ons laaste byeenkomste van die seisoen nie plaasvind nie en in 2021 kon ons geen byeenkomste aanbied nie. COVID het beslis vir heelwat aanpassings en veranderinge gesorg. Alhoewel heelwat van die maatreëls verslap is, is nie alles afgeskaf nie en moet ons nog daarvolgens werk.

Aan die einde van 2021 was daar nog geen duidelikheid watter impak die 4de vlaag op ons atletiekseisoen aan die begin van 2022 sal hê nie. Ons het egter voortgegaan met die hoop dat ons iets sal kan doen en het ons die Kleuresportbyeenkoms aangebied. Ongelukkig kon al ons leerders nie die dag bywoon nie, maar ons het voortgegaan en dit was ‘n heerlike dag. Ons het die O/10 – O/13-leerders wat nie in 2021 kon deelneem nie, gevra om te registreer om moontlik in die Interskolespan te kom.

Tussen die 9 skole wat aan die Interskole deelneem, maak ons beurte om die geleentheid aan te bied. Die onderwysers van JvR stap egter die ekstra myl en help steeds met baie van die admin om hierdie dag moontlik te maak.  Ons help dan ook om ‘n baan vir die dag te kry al is dit nie ons beurt om die byeenkoms aan te bied nie. Om ‘n atletiekbaan soos Groenpunt te bespreek, moet ons deur sekere kanale werk asook met alle hoër- en laerskole in die Metropoolstreek om beskikbaarheid kompeteer. Ongelukkig is die fasiliteite baie vinnig bespreek en is ander bane in die omgewing nie beskikbaar nie. Na onderhandeling met Hoërskool Kampsbaai het hulle ingestem om ons die dag te help en het vir die Duitse Schule (hulle organiseer die byeenkoms die jaar) toestemming gegee om die veld te kan gebruik met ‘n paar voorwaardes:

Ons moet steeds by die maksimum van 2000 mense vir ‘n buitelugfunksie bly en ons is nie die enigste groep op die dag nie. ‘n Gedeelte van Hoërskool Kampsbaai se velde word deur ‘n filmspan gebruik en die skool funksioneer op die dag met hul normale akademiese program. Dit is ongelukkig waarom ons nie enige toeskouers die dag sal toelaat nie asook nie enige van die O/7 – O/9-atlete die jaar laat deelneem nie. Die O/7 – O/9-atlete gaan nie verder na enige van die volgende rondes nie, dit is slegs vir O/10 – O/13 atlete.

Leerders wat aangedui het dat hulle graag vir die Interskolespan wil kwalifiseer, maar die byeenkoms in 2021 gemis het, is deur die week geëvalueer en saam met die res van die span in kennis gestel waaraan hulle kan deelneem. WP-atletiek se vereistes vir meer as ‘n dekade is dat atlete nie aan meer as 3 items mag deelneem nie en daarom help ons van ons sterker atlete om hul beste 3 items vir die dag te kies. Dit gee dan ook weer vir ander atlete die geleentheid om deel te neem.

Ons kan ouers verseker dat ons ALTYD AL ons atlete se beste belange op die hart dra en vir hulle soveel moontlik geleenthede probeer skep.

Ons besef dat ouers en familie baie graag die Interskole wil bywoon, maar vir hierdie ronde is dit buite ons beheer en kan ons dit nie doen nie. Die parkering is baie beperk om die skool en ons vra dat atlete die oggend om 07:30 by Laerskool Jan van Riebeeck moet aanmeld sodat die span met die bus na Hoërskool Kampsbaai vervoer kan word. Ons sien baie uit na die geleentheid en wens al ons onderwysers wat die dag as beamptes optree alle sterkte toe.