Die Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996, maak pertinent voorsieing vir demokratiese strukture asook vir ‘n demokratiese proses waardeur verteenwoordigers van alle belanghebbendes (ouers, opvoeders en nie-opvoeders) in skoolbeheerrade (BR) verkies word. Dus is skole tans landswyd hard aan die werk om die 2021 Beheerraadverkiesings vir die tydperk 2021 – 2024 af te handel. Die BR-verkiesing stel ouers in staat om ‘n sê te hê in wie in die beheerraad moet dien om belangrike strategiese besluite oor hul kinders se opvoeding te neem. Ons is in die bevoorregte posisie dat ons skool oor die jare vaardige, kundige en toegewyde beheerrade opgelewer het. Dus wil ek baie geluk sê en die volgende genomineerde ouerkandidate (alfabetiese volgorde), wat gisteraand om 19:00 deur ons verkiesingsbeampte, mnr. Chris Storey (Skoolhoof van LS Kampsbaai) tydens die benoemingsvergadering amptelik bekragtig is, asook hulle hartlik bedank vir hul bereidwilligheid om te staan as ‘n moontlike beheerraadslid:

1. Marie Cruywagen
2. Jan-Jurie Fourie
3. Jaco Greeff-Cronjé
4. Wilhelm Hertzog
5. Esri Marais (huidige BR-Lid vir regsake)
6. Henk Oosthuizen
7. Merwe Scholtz (huidige BR-Voorsitter)
8. Barry van Zyl
9. Izelle Venter (huidige BR-Ondervoorsitter)
10. Andries Viljoen
11. Danelle Welgemoed

Ons BR-verkiesing vir die ouerkomponent geskied op Dinsdag, 30 Maart 2021, en vanaf volgende week sal julle as ouers die bogenoemde kandidate se verkorte CV’s vergesel met ‘n motivering waarom hul in die beheerraad wil dien, asook ‘n foto van elk ontvang.

Die verkiesing van die opvoeders en nie-opvoeders het op Donderdag, 18 Maart 2021, geskied. Volgens die SA Skolewet kan opvoeders 2 kandidate verkies en die nie-opvoeders een. Dit is my voorreg om die volgende personeel wat in die 2021 – 2024 BR gaan dien, hartlik geluk te wens en sterkte toe te wens vir die groot taak:

● Lucia de Jager (Opvoeder verteenwoordiger)
● Ischke Felix (Opvoeder verteenwoordiger)
● Hannes Muller (Nie-opvoeder verteenwoordiger)

Graag wil ek die personeel wat by die swemgalas op Donderdag, 18 Maart (Grondslagfase) en op Vrydag, 19 Maart (Intersenfase) betrokke was, hartlik bedank vir hulle toegewydheid. Dit was verblywend om te sien hoe die personeel die swemgala saam met die leerders geniet het. Net om weer te kon deelneem aan ‘n skoolaktiwtiteit het ons leerders baie opgewonde gemaak en hulle was soos visse in die water. Om eerlik te wees, ek het ook amper aan die pret deelgeneem. Met die ikoniese Tafelberg teen die agtergrond en ‘n amper tasbare atmosfeer van entoesiasme het ons beslis die ouers se teenwoordigheid en aanmoediging gemis. Hopelik gaan die pandemie spoedig verby sodat ons weer die ouers, oumas en oupas by ons aktiwiteite kan betrek.

Ons neem graag afskeid en dink vandag aan ons onderwysdistrik se direkteur, Me. Sanette Nowers, wat na ‘n kort siekbed onverwags oorlede is. Nog ‘n groot seder wat in die onderwyssektor val en ons gaan haar kundigheid geweldig mis. Haar gedenkdiens geskied vandag en ons gebede is met haar familie gedurende hierdie moeilike tyd.

Graag wens ek vir julle ‘n lekker ontspanne langnaweek toe aangesien daar op Sondag, 21 Maart, Menseregtedag gevier word en ons op Maandag, 22 Maart, ‘n lekker meevallertjie as ‘n openbare vakansiedag ontvang. Laat ons nooit die betekenis van Menseregtedag in die Suid-Afrikaanse konteks vergeet nie, want dit verwys na die basiese regte en vryhede waarop alle Suid-Afrikaners geregtig is wat die reg tot lewe en vryheid, vryheid van denke en uitdrukking insluit. Ek sluit af met ‘n bekende stelling van Nelson Mandela: “To deny people their human rights is to challenge their very humanity”.