Groot opgewondenheid heers onder die personeel om Maandag, 15 Februarie 2021, ons Jannies te verwelkom. Baie welkom ook aan al ons nuwe ouers by Huppelland en die Laerskool. Wees verseker julle het die beste keuse vir jul kind gemaak en my beste wense vergesel julle vir die nuwe reis.

Alhoewel die aanvang van 2021 ook vreemd is, is ons skool bevoorreg om teen 100% kapasiteit te open, onderhewig aan streng Covid-19 protokol. Ons almal se wens is dat ons so spoedig moontlik kan terugkeer na ‘n tipe normaal, want die buitengewone omstandighede bring dikwels vreemde uitdagings. Daarom wil ek graag Helen Keller aanhaal: ‘’Keep your face to the sunshine and you cannot see a shadow’’. Ek nooi dus die ouers en skoolgemeenskap uit om saam met ons as personeel nie deur die pandemie ontmoedig te word nie. Ons moet eerder mekaar inspireer en onderskraag om uitdagings op ‘n kreatiewe wyse te bowe te kom. Ons moet voortbou en uitreik na gemeenskappe wat swaar deur die pandemie getref is.

Ek is vanaf 1 Januarie in die stoel, voel baie tuis en alles verloop klopdisselboom. Ek was bevoorreg om reeds in die kort tydjie heelwat ouers en leerders te ontmoet en beter te leer ken. Baie dankie vir jul ondersteuning die afgelope tyd en dat julle jul kind/ers aan die skool toevertrou. Wees verseker dat ons alles in ons vermoë doen om die leerders en personeel veilig te hou.

Die 100ste bestaansjaarvieringe het stil-stil begin, maar dit is besig om momentum te kry. Vanaf verlede jaar is daar baie moeite gedoen om die sigbaarheid van die 100ste verjaardag duidelik te maak (sien foto 1, 2 & 3). ‘n Groot dankie word aan Rentia (kunsjuffrou) oorgedra vir die manier hoe sy met ons leerders se pragtige kuns die skool verfraai asook die trotse LS JvR 100-embleem wat sy op ‘n besondere manier in die skoolgange laat pryk.

Helecia Groenewald (musiekdepartement) het vir ons kore die volgende inspirerende Eeufeeslied geskryf en getoonset.

Soos Tafelberg uitkyk oor Kaapstad
So pronk ons skool fors en fier
Soos hy vasstaan in sy fondamente
So eer ons die eeu wat ons vier.

Jan van Riebeeck die beste skool
Jan van Riebeeck bo!
Jan van Riebeeck die mooiste skool
Jan van Riebeeck ONS skool!

Baie dankie Helecia, jy maak ons so trots!

Ter voorbereiding vir die jaar het ons opvoeders insiggewende opleiding (sien foto 4) rakende die volgende onderwerpe ontvang:

● Dispraksia/apraksia
● Inentings vir kinders en volwassenes

Ons doel is om voortdurende gefokusde opleiding aan ons personeel te bied om te verseker dat die standaard en kwaliteit van onderrig uitmuntend bly.

Graag wil ek ook vir Helpende Hand hartlik bedank wat die afgelope week 15 skoolrompies vir ons behoeftige leerders geskenk het (sien foto 5).

Baie dankie aan Huppelland en sy personeel wat op Maandag, 8 Februarie 2021, hul deure oopgemaak het. Sake verloop vlot en die kinders geniet hulle gate uit.

Neem asseblief kennis van die volgende:

1. COVID-regulasies en protokol:

Skooltye:

Skool begin:

Oranjespan kan tussen 07:15 – 07:30 skool toe kom en die blouspan tussen 07:30 – 07:45.

Uitkomtye:

● Graad 1 – 13:00
● Graad 2 – 13:15
● Graad 3 – 13:30
● Graad 4 & 5 – 14:00
● Graad 6 & 7 – 14:10

Siftingstasies:

● Graad 1 – 3 leerders word by hul klasse gesif.
● Graad 4 & 6: Snoepie
● Graad 5 & 7: Buite juf. Storm (gr. 7) se klas

Kleredrag en klerebank:

● Drie dae per week – skooluniform
● Een dag – LO-drag
● Vrydae- LS JvR 100-hempie

*die dae sal deur klasonderwyser bepaal word afhangend van dag waarop klas LO het.
Klerebanktye:

● Maandae- & Woensdaeoggende: 07:15 – 08:00
● Dinsdag- & Donderdagmiddae: 13:00 – 14:20

*Indien jou kind dringend voor Maandag, 15 Februarie 2021 skoolklere benodig, sal die klerebank op Saterdag, 13 Februarie 2021 vanaf 09:00 – 10:30 oop wees.

2. Skoolkwartale 2021

Nuwe skoolkwartale is reeds gekommunikeer.

3. Algemene Vervoervrywaring

Voltooi asseblief die algemene vervoervrywaringsvorm soos deur die klasonderwyser/graadhoof gegee. Hierdie vrywaringsvorm dien slegs in gevalle waar leerders direk na skool na die Conradieveld en/of HS JvR-veld direk na skool vervoer moet word om aan onderskeie sportoefeninge deel te neem. Sodra daar wegwedstryde, uitstappies, kampe, ens. plaasvind, sal ‘n spesifieke vrywaringsvorm met die vervoer duidelik uiteengesit, gestuur word.

4. Klasverteenwoordigers /OOV

Tradisioneel verkies ons klasverteenwoordigers, een per klas, tydens die inligtingsaand aan die begin van elke jaar. Weens die pandemie moet ons egter vanjaar die proses anders hanteer. Gedurende die jaar sal die klasverteenwoordigers betrokke wees by die volgende aksies:
● Fondsinsamelingsprojekte en funksies;
● Organisering van ouerhulp tydens skoolfunksies en byeenkomste
● Direkte kommunikasielyn met ouers in die spesifieke klasgroepe

Indien jy bereid is om as ‘n 2021-klasverteenwoordiger te dien, stuur asseblief ‘n e-pos met die volgende inligting vir Ria Hertzog (OOV Voorsitter) by oov@jvrprim.co.za:

● Jou naam en van
● Jou kind se naam en van asook sy/haar klas
● Jou selfoonnommer
● Jou e-posadres

Baie dankie vir jul bereidwilligheid.

5. Buitemuurse program:

Begin die week van 22 Februarie 2021.

Sport:
Program volg vir nie-kontaksportsoorte.

Kultuur:
Kooroefening met maskers sal in graadverband geskied. Program en indeling volg.

Geniet ‘n wonderlike naweek en ek is so opgewonde om die leerders Maandag te verwelkom.

Vriendelike groete

Naas Beets
Skoolhoof