Beste Ouers en Voogde

Goeie nuus! Ons het goedkeuring gekry by die WKOD (Wes-Kaapse Onderwysdepartement) vir ’n unieke terugkeerplan vir ons skool. Ons is baie opgewonde oor die vooruitsig dat ons leerders eersdaags kan terugkeer skool toe. Die graad 7’s is reeds ten volle by die skool ingeskakel en die kinders geniet dit terdeë om terug te wees.

Wees asseblief verseker dat ‘n hoë akademiese standaard gehandhaaf sal word. Ons wil so gou moontlik ons leerders aan die volledige skoolprogram blootstel deur ons normale skoolrooster te volg.

Deel 1 Covid-oriëntering van leerders

Om terugkeer skool toe te vergemaklik sal elke graad ’n oriënteringsdag bywoon die week voordat die graad ingefaseer word. Die graadvoog/klasonderwyser sal ’n program sirkuleer wat aankoms- en vertrektye, dae van klasbywoning en ander kwessies verduidelik. Die beweging van leerders en kontak tydens pouses word versigtig beplan deur onder andere klasruiling te beperk.

Datums: graad R, 1, 3 en 6 se oriëntering

Week: 22 – 26 Junie 2020 – ORIëNTERING
(Skool begin 29 Junie 2020)

HUPPELLAND
Gr.R – Donderdag, 25 Junie (9:00 – 12:00)

LAERSKOOL
Gr.1 – Maandag, 22 Junie (9:00 – 13:00) – Blou
Gr.1 – Dinsdag, 23 Junie (9:00 – 13:00) – Oranje
Gr.3 – Donderdag, 25 Junie (9:00 – 13:00)
Gr.6 – Vrydag, 26 Junie (7:45 – 14:10)

Datums: graad 00, 0, 2, 4 en 5 se oriëntering

Week: 29 Junie – 3 Julie 2020 – ORIëNTERING
(Skool begin 6 Julie 2020)

HUPPELLAND
Gr.0 – Dinsdag, 30 Junie (9:00 – 12:00)
Gr.00 – Donderdag, 2 Julie (9:00 – 12:00)

LAERSKOOL
Gr.2 – Maandag, 29 Junie (8:00 – 13:00) – Oranje
Gr.2 – Dinsdag, 30 Junie (8:00 – 13:00) – Blou
Gr.4 – Woensdag, 1 Julie (7:45 – 14:10) – Oranje
Gr.4 – Donderdag, 2 Julie (7:45 – 14:10) – Blou
Gr.5 – Vrydag, 3 Julie (7:45 – 14:10)

Deel 2: Terugkeer en hoe dit werk

Die Departement van Basiese Onderwys vereis dat daar slegs 50% van ons leerders per dag in klaskamers mag wees. Ons het derhalwe besluit dat die helfte van elke graad al om die ander dag skool sal bywoon, met ander woorde een helfte van die klas kom Maandag skool toe en die ander helfte Dinsdag ensovoorts. Ons gaan die verdeling op grond van die sportspanne doen – dus blou en oranje (Blou A-L; Oranje M-Z). Dus sal ’n gesin al hul kinders op dieselfde dag skool toe bring al is hulle in verskillende grade. Dit geld ook vir die Graad 7’s.

Bykomend wil ons die stelsel geleidelik en veilig implementeer en die leerders bestuur deur dit oor twee weke te versprei. Hier is elke graadgroep se begindatum.

• Die Graad 7’s kom steeds elke dag skool toe soos dit tans die plan is tot en met 6 Julie. Vandaar af kom hulle ook net elke tweede dag soos die res van die skool.

• 29 Junie 2020 vir graad 1, 3 en 6 se blouspan-leerders; graad R-leerders sal aparte kommunikasie rakende indeling ontvang.

• 30 Junie 2020 vir graad 1, 3 en 6 se oranjespan-leerders; graad R-leerders sal aparte kommunikasie rakende indeling ontvang.

• 6 Julie 2020 vir graad 2, 4, 5 en 7 se oranjespan-leerders

• 7 Julie 2020 vir graad 2, 4, 5 en 7 se blouspan-leerders

Alle leerders volg dan ’n 10-dag rooster waarin hulle skool op afwisselende dae bywoon. Basies beteken dit jy moet jou kind(ers) bring op die dag soos hierbo aangedui en dan net elke tweede dag in ’n tiendag-weekdagsiklus. Dus as julle blou is, sal jou eerste week ‘n Maandag, Woensdag en Vrydag wees en die volgende week ’n Dinsdag en Donderdag.

Verwys na Aanhangsel A hieronder aangeheg vir meer detail hieroor.

Op die dae wat die kinders nie by die skool is nie, gaan daar steeds ’n afstandonderrigprogram gestuur word. Hierdie afstandonderrigprogram gaan aangepas word omdat onderwysers nie meer die hele oggend beskikbaar sal kan wees nie as gevolg van leerders wat in haar/sy klas onderrig moet ontvang. Onderwysers sal wel na afloop van die skooldag tot en met 18:00 vir vrae beskikbaar wees soos op ons kommunikasiebeleid aangedui word.

Graad 00, 0 en R

Vanaf 6 Julie 2020 kom ALLE graad 00, 0 en R leerders skool toe en hulle alterneer nie dae nie. Hulle is dus soos gewoonlik van Maandae tot Vrydae by die skool. Die grade bly op die Huppelland-terrein.

Algemeen

Nasorgklasse sal steeds in die middae beskikbaar wees. Voltooi die Google Form indien daar van nasorg gebruik gemaak sal word. Daar sal geen buitemuurse aktiwiteite aangebied word nie.

Neem asseblief kennis dat hierdie plan aangepas kan en sal word soos wetgewing verander. Kontak ons gerus as julle enige vrae of voorstelle het.

Vriendelike groete,

Die Skoolbestuur

Covid-aksieplan - Infasering van graad 00 - 7