Ons is baie trots op ons mooi skooldrag. Ons wil poog om hierdie tradisie te laat voortleef.

Verlede jaar het die baie streng waterbeperkings ons verplig om amper daagliks leerders met sportklere te laat skool toe kom. Ons het dit duidelik gekommunikeer dat dit slegs ‘n tydelike reëling was. Aangesien die waterbeperkings nou verlig is, het ons besluit om weer terug te keer na die korrekte skooldrag, maar met ‘n uitsondering dat leerders op LO-dae wel hul korrekte sportdrag mag dra. Ons ondervind dat somerdrag koeler as sportdrag is. Ons was en is ‘n skool wat so ver moontlik akkommodeer, maar ook fokus op netjiese, gedissiplineerde drag. 2019 was die jaar waarop ons die meeste verlore goedere ooit gehad het, afgesien van die sportkleredragtydperk. Een van ons waardes heet verantwoordelikheid en ons wil graag verantwoordelikheid by ons leerders kweek deur die korrekte drag, sak, ens. te bring; om te beplan vir die dag en om hul besittings mooi op te pas.

Die onderwysers is bereid om ons leerders te akkommodeer om wel aan die einde van die dag hul sportdrag vir hul onderskeie sportsoorte te laat aantrek. Leerders (veral gr. 1-3) kry dus gedurende tweede pouse kans om rustig hul kos te eet sodat hulle genoeg energie sal hê vir die buitemuurse aktiwiteite wat voorlê. Onderwysers en leerders weet ook dat sportsakke in die registerklas gebêre kan word totdat die sak(ke) benodig word. Daardeur bied ons ondersteuning sodat leerders nie so swaar dra nie en dat daar meer spasie in die gange is terwyl klasruilings plaasvind.
Ons glo dat hierdie reëling vinnig in plek sal val sodra ‘n vaste roetine geskep word.