Ouers moet aanvaar dat selfone en ander sosiale netwerke permanent deel is van hul kinders se lewe. Dalk is jou kind en tegnologie reeds onafskeidbaar. Ongelukkig stel dit jou kind bloot aan kuberboelie (“cyberbullying”). Kuberboelie is om deur die kuberruimte herhalend en opsetlik leed aan ‘n ander te doen. In die kuberruimte kan die jong adolessent as’t ware in enige iemand verander. Nie-verbaal kan daar nou ontoepaslike opmerkings gemaak word wat andersins nooit gesê sou word nie. Daar is ook geen direkte straf of gevolge nie.

Wat ‘n mens baie duidelik aan jou kind moet kommunikeer, is dat hierdie tipe kommunikasie byna onmoontlik is om “uit te vee” as dit reeds gestuur is. Enige persoon kan dit nou aflaai en stoor. ‘n Handige toepassing (“app”) om te gebruik, is Google se “ Family Link”. Dit help ouers om sekere digitale reëls vir kinders onder die ouderdom van 13 neer te lê. Daardeur kan jy jou kind lei om verantwoordelik die kuberruimte te verken.

Marike Badenhorst
Opvoedkundige Sielkundige