Ons aangepaste huiswerkbeleid sal hierdie jaar op ‘n proefbasis aangebied word. Ons fokus is om huiswerk sover moontlik te beperk, opbouend en interessant te hou en vir vasleggingsdoeleindes te gebruik. Ons wil hierdie jaar poog om Projek Gebaseerde Onderrig in graad 5 – 7 toe te pas. Dit word spesifiek gedurende take gebruik, waartydens verskillende vakke saam werk om ‘n enkele, meer gefokusde en interessante onderwerp te ondersoek. Toetse sal steeds soos in die verlede voortgaan.

In die grondslagfase (graad 1 – 3) sal huiswerk ‘n gemiddelde tydsbeperking per graad hê. Graad 1 en 2 is 30 minute en graad 3 is 45 minute per dag. Al drie grade gee net huiswerk wat ingeskerp moet word en wat reeds in die klas aangeleer is. Al die graad 1-3 klasse gee ook ‘n geleentheid om met huiswerk die laaste 10 minute van die dag te begin.

In die intermediêre fase (graad 4 – 6) sal daar steeds huiswerk in Afrikaans, Engels en Wiskunde bv. mondelinge, voorbereide lees, speltoetse, tafeltoetse, ens. gegee word. Die oefeninge van die onderskeie vakke (taal, letterkunde, somme, ens.) sal verminder/verkort word. Ons fokus is hoofsaaklik op die inhoudsvakke. Huiswerk en take sal sover moontlik gedurende klastyd voltooi word.

Aangesien graad 7’s vir hoërskool voorberei, sal hulle nie deur die huiswerkbeleid geraak word nie. Ons sal wel probeer om onnodige huiswerk te beperk.
Let wel dat huiswerkklasse steeds vir alle leerders beskikbaar is aangesien daar steeds ‘n sekere mate van huiswerk sal wees.