Kategorie: Algemeen
Ons geliefde skoolhoof verjaar eerskomende Sondag, 28 Januarie. Meneer Beets, dankie dat elke liewe Jannie vir jou belangrik is! Jy moet lekker verjaar. ‘n Paar gr. 6’e het die spesiale gedig saamgeflans!
Aan die beste meneer waarvoor enige kind kon vra… Vir meneer Beets op sy verjaarsdag
Meneer Beets is die beste hoof,
hy sal hom altyd vir ons afsloof!
Hy sal vir almal groet,
maak nie saak, stout of soet!
Ons is altyd welkom in sy kantoor,
al voel hy soms goor.
Meneer is BAIE goed in gholf,
maar sy seun verkies ‘n krieketkolf.
Hy loer altyd in,
ons Jannies voel soos een groot gesin!
Meneer is altyd daar vir ons,
selfs wanneer ons ‘n netbalbal bons!
Hy trek altyd netjies aan,
selfs al staan hy op die tennisbaan!
Hy gee altyd wyse woorde in die saal;
daarom sal die gees nooit daal!
Meneer sal vir ons ‘n myl draf,
maar ongelukkig sluit ons nou af.
Ons skryf hierdie brief,
want vir Meneer is ons ongelooflik lief!
Met baie liefde van al die Jannies

Met die aanvang van die 2de week van die nuwe kwartaal is alle skoolaktiwiteite in volle swang.
Op Maandag, 22 Januarie 2023, het die somerbuitemuurse program amptelik afgeskop en ons is baie opgewonde rakende die opkoms van leerders wat aan die verskillende somersportkodes deelneem. Baie dankie aan al die ouers/voogde vir julle aandeel om jul kinders te motiveer om vanjaar weer aktief te wees deur aan skoolsport deel te neem en dit saam met hul maats te geniet.
Baie geluk aan die volgende leerders (alfabeties) wat op Dinsdag, 23 Januarie, tydens die saalbyeenkoms hul leerderraadbalkies ontvang het:
- Delmar Benecke
- Leah de Kock
- Izzy du Plessis
- Ruben Eksteen
- Jeanne Koen
- Anna Louw
- Michaan Naylor
- Karu Rademeyer
- Emma Snijders
- Bailey Thomson
- Frank van der Walt
- Willem Vorster
- Stella Zulch
Baie dankie aan hul trotse ouers wat die spesiale geleentheid bygewoon het om die tradisionele aansteek van hul balkie te behartig. My beste wense vergesel hulle vir die belangrike rol wat hulle as leerderleiers by ons skool gaan speel.
Graag wil ek al ons ouers/voogde wat die gewilde inligtings- en bekendstellingsaand op Dinsdag, 23 Januarie 2024, bygewoon het, hartlik bedank en gelukwens met die opkoms. Dit is werklik ‘n riem onder die hart om te sien dat soveel ouers/voogde werklik betrokke by sy/haar kind se skool wil wees en dit koester om deel van ‘n spesiale skoolgemeenskap wat omgee, te wees. Laat my toe om ons OOV-voorsitter, Coreen Scholtz, en haar span hartlik te bedank vir die puik reëlings en harde werk wat die sukses van die aand verseker het. Die samesyn was kosbaar en die positiewe ‘gees’ onder die ouers/voogde was amper tasbaar. Die doel van die aand was natuurlik om inligting oor jou kind/ers se nuwe graad ouers/voogde oor te dra, asook om die personeel bekend te stel. Ek dink almal stem saam dat die funksie absoluut die regte geleentheid was om die jaar op ‘n hoogtepunt af te skop. Ek glo ouers/voogde het ook die geleentheid gebruik om mekaar beter te leer ken, veral die graad 1-ouers asook al die nuwe ouers en daardeur nuwe vriendskappe te bewerkstellig.
Die pret en samesyn vir die week het egter nie by Dinsdagaand gestop nie, dus glo ek dat ek weer almal môre tydens die Ouer- en Kindsportdag by die Conradieveld sal sien. Laasjaar was dit vir die eerste keer aangebied en dit was ‘n reuse sukses. Ouers/voogde en kinders word op die dag in spanne van 6 lede gedeel wat bestaan uit 3 volwassenes en 3 kinders. Julle kan aan sokker, mini-krieket, ‘tag-rugby’ en veldnetbal deelneem. Neem gerus deel, geniet die dag saam met jou kind/ers en indien jy bekommerd is oor ‘n ‘ou’ besering, ons gaan spesiaal van professionele noodhulp gebruik maak. Daar sal ook heerlike koffie, eet- en drinkgoed te koop wees. By voorbaat dankie dat julle die dag gaan ondersteun. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes gaan optree asook registrasies en die snoepieverkope gaan hanteer.
Baie geluk aan Susan (nasorg) wat vandag verjaar, ons wens vir haar ‘n geseënde nuwe lewensjaar toe!
Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor die lewe en groei-ingesteldheid deur George Bernard Shaw en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:
“Life is not about finding yourself.
Life is about creating yourself”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Jannies vir Jesus vind elke Donderdagoggend van 07:15 – 07:45 in die saal plaas. Ons sing eers lekker saam en dan bring ds Marietjie Steyn van die Groote Kerk of een van die onderwysers ‘n boodskap. Dit is baie van ons Jannies se gunsteling oggend van die week. Alle gr. 1-7-leerders en hul ouers is welkom! ‘n Spesiale dankie aan Isabella en Izzy in gr. 7 wat aangebied het om te help met die tegniese aspek. Ons het ook ‘n Jannies vir Jesus WhatsApp-groep binne die skool se Community gestig waarby ouers kan aansluit en so ook toestemming gee dat hul kind(ers) dit kan bywoon.
“Jy is uniek en spesiaal… Jy kan enige iets bereik as jy regtig wil…”
Bekende woorde vir elke ouer. Maar, ten spyte van hierdie voortdurende pogings van ouers se kant af om hul kinders beter oor hulself te laat voel, word ‘n ouer byna daagliks gekonfronteer met ‘n moedelose, ongelukkige kind wat voel hy of sy is nie goed genoeg nie.
Daar is ongelukkig min bewyse dat hierdie voortdurende gerusstelling deur ‘n ouer enige verskil gaan maak in hoe kinders hulself gaan beleef wanneer hulle – weg van hul ouers – met hindernisse, teleurstellings en uitdagings gekonfronteer word.
Navorsing bevestig dat werklike selfvertroue slegs gekweek kan word wanneer jy jou kind toelaat om sélf oplossings te vind en om sélf hindernisse in die oë te kyk. Dit is híérdie kinders wat uiteindelik (al is die ouers nie daar nie) die wêreld kan trotseer. Soms is dit al manier hoe kinders hul eie persoonlike sterkpunte kan leer ken.
Kinders met selfvertroue weet hulle mag misluk, maar glo ook in hul eie vermoë om “terug te bons” en weer te probeer. Natuurlik geskied hierdie veerkragtigheid binne ‘n raamwerk van betrokke en ondersteunende ouers.
Moedig dus jou kind van kleins af aan om hul omgewings te verken, in hulself te glo en as hulle val, op te staan, knieë af te stof en aan te gaan.
– MARIKE BADENHORST, OPVOEDKUNDIGE SIELKUNDIGE
‘n Hartlike welkom terug by ons trotse skool. Groot opwinding saam met hoë energievlakke het op Woensdagoggend, 17 Januarie 2024, tydens die opening van die skool na die heerlike somervakansie, geheers. Ons graad 1’s is spesiaal met ope arms deur die nuwe leerderraad ontvang en sonder trane na hul onderskeie klaskamers vergesel. Dit was so lekker om ook al ons leerders en ouers/voogde te verwelkom, blad te skud, drukkies te gee en sommer net lekker te gesels oor die wonderlike vakansie asook die opwindende jaar wat voorlê.

Laat my toe om veral ons nuwe leerders en ouers/voogde hartlik by die LS Jan van Riebeeck-familie te verwelkom. Ek weet julle sal sommer vinnig inskakel en deel word van ‘n dinamiese en omgee-skoolgemeenskap. Ons is baie trots om te sê ons het ‘n goeie skool en as nuwe ouers/voogde sal julle dit nou eerstehands ervaar. Vir my is ‘n goeie skool soos ‘n gesonde en ‘n pragtige boom. Soos dit groei, sink dit sy wortels diep in die plaaslike en vrugbare grond; dit pas by die omliggende klimaat en plantegroei aan; sy takke verdik vir ondersteuning en versprei vir maksimum blootstelling aan die son. Dit maak sy eie kos; dit genees sy eie wonde; en op sy tyd bring dit vars blare, bloeisels en vrugte voort. Mag ons spreekwoordelik vir nog baie jare ‘n gesonde boom wees waar ons seker maak die boom kry genoegsame skoon water, voldoende kunsmis en alle dooie takke word sorgvuldig gesnoei sodat daar nuwe en sterk takke sal groei om die skool te ondersteun.
Ek vertrou almal het ‘n heerlike vakansie en ‘n Geseënde Kerstyd saam met familie en vriende geniet. Ek glo almal se spreekwoordelike batterye is ten volle herlaai en slaggereed om die nuwe jaar aan te pak. Sterkte ook met al die nuwe jaar voornemens! Volgens nuttelose statistieke in die verband, volhou slegs 15% van mense aan hul nuwe jaar voornemens, maar dalk bewys ons hulle vanjaar verkeerd.
Dit is dan ‘n riem onder die hart om met julle te deel dat al ons personeel veilig terug is na die lang vakansie, uitgerus en gereed om jul kinders te onderrig en te ondersteun om te verseker dat elke Jannie sy/haar skooljaar terdeë sal geniet. Ons streef daarna dat elke leerder sy/haar volle potensiaal bereik teen die tempo waarteen elke leerder individueel ontwikkel. Laat my ook toe om die volgende nuwe personeel asook waarnemende personeel hartlik by die JvR-familie te verwelkom:
- Rolene van Zyl (Hoof: Kultuur en Musiek)
- Anika le Roux (Gr. 4)
- Mariëtte Herholdt (Gr. 3 – aflos in Michelle Compion se plek)
- Anene Loots (Gr. 2 – aflos in Maricqe Coetzer se plek)
- Lize Terblanche (Gr. 1)
- Michelle Eeken (Gr. 1 – aflos in Nicola Potter se plek)
- Liezel Theron (Gr. R)
- Madri Greyling (Gr. 00 – aflos in Magdel Fourie se plek)
- Carla Basson (Gr. 00)
- Lia-Marié Mudini (Huppelland: Nasorghoof)
Maak asseblief seker dat jy volgende week op Dinsdagaand, 23 Januarie 2024, vanaf 18:00 die bekendstellingsfunksie en inligtingsaand by die skool bywoon sodat julle ook al jul kinders se nuwe opvoeders asook ander nuwe personeel kan ontmoet. Die program vir die aand werk as volg:
- 18:00 – Inligtingsgesprek met klasonderwyser in die klaskamer soos deur opvoeders gereël. Benut assseblief dié geleentheid om jou kind se leeromgewing te sien en die roetines/ stelsels binne-in die klas te verstaan. Ons gaan ook die akademiese verwagtinge vir die graad deurgee. Die opvoeders moet egter direk na afloop van die vergadering in die saal wees vir die bekendstellingsfunksie. Individuele afsprake sal op ‘n latere stadium met ouers gemaak word sodra die basislynassesserings voltooi is.
- 18:45 – Almal verdaag saal toe vir ons algemene inligtings- en bekendstellingsvergadering. Na afloop van die bekendstellingsfunksie sal heerlike etes geniet word. Ek sien baie uit na die heerlike samewyn.
Neem asseblief kennis dat ons vanjaar weer vroeër met ons sportoefeninge begin. Die atletiekspan het alreeds vanaf Woensdag, 17 Januarie, begin oefen ter voorbereiding van die Interskole atletiekbyeenkoms wat op 06 Februarie plaasvind. Die somersport-buitemuurse program skop dan amptelik op Maandag, 22 Januarie 2023, af. Hou asseblief Saterdagoggend, 27 Januarie 2024, oop waartydens ons ‘n informele ouer-kind sportdag by die Conradieveld gaan aanbied. Daar sal ook heerlike verversings te koop wees. Die doel hiervan is om pret saam met jou kind te hê terwyl ouers ook die geleentheid kry om sommer mekaar beter te leer ken en saam die jaar behoorlik af te skop met lekker geesvang en opwinding.
Die musiekprogram skop ook op Maandag, 22 Januarie 2024, onder leiding van juf. Rolene van Zyl, nuwe hoof van Musiek en Kultuur, af. Kontak gerus vir juf. Rolene indien jou kind musiekonderrig wil ontvang of in musiek belangstel. Ons poog om vanjaar aktief die kultuur-spyskaart vir ons leerders uit te brei asook om met Hoërskool Jan van Riebeeck in dié verband saam te werk. Nuwe musiekinstrumente waaraan ons leerders vanaf vanjaar blootgestel gaan word, sluit onder andere die saksofoon in.
Dit is dan ook my voorreg om met julle te deel dat ons beplan om vanjaar ons leerontwikkelingsentrum onder bestuur van juf. Marietjie op te gradeer en uit te brei om ons leerders met spesifieke uitdagings beter te ondersteun en te bemagtig. Dit behels onder andere die sentralisering van ondersteuningsdienste in een gang met meer moderne en goed toegeruste lokale waar ons al die terapeute en leerontwikkelingspersoneel akkommodeer. Stephen Hitchcock (argitek en ouer by ons skool) is tans besig om die planne en kosteberaming te finaliseer.
Deel van die projek behels ook die installering van spesiale tafeltjies en stoeltjies wat op strategiese plekke in die gange geplaas is, waar leerders met toestemming van hul onderskeie opvoeders, kan gaan sit en op hul eie werk of lees. Dus kan ‘n leerder wat op ‘n stadium die klassituasie angstig ervaar daar gaan sit en onder toesig van sy opvoeder voortgaan met sy/haar werk. Hierdie tafels en bankies is dan ook ideaal vir die gebruik deur tutors/fasiliteerders wat gedurende skooltyd leerders akademies ondersteun. Die hele leerderontwikkelingsprojek word moontlik gemaak deur Mari Kushner en haar ma Annalise Basson. Ek wil graag hulle asook Whitey Basson hartlik bedank vir die ruim borgskap asook die passie waarmee hulle help om saam met Stephen die projek te bestuur. Baie dankie Mari en Annalise vir julle kosbare tyd, betrokkenheid en die ongelooflike passie om ‘n verskil in kinders se lewens te maak.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling van deur Ralph Waldo Emerson rakende nuwe jaar voornemens en wens julle ‘n wonderlike en voorspoedige 2024 toe. Geniet saam met jou kind/ers hul nuwe graad en leerervaring. Mag julle ‘n heerlike naweek geniet.
“Always do what you are afraid to do”.
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Dinsdagaand, 23 Januarie, om 18:00 is ons Ouerinligtingsaand.
- Ouers gaan 18:00 by hul kinders se klasse bymekaarkom en beweeg daarna na die saal vir die inligtingsessie.
- Oudergewoonte sal Stan se “Foodtruck” weer na afloop van die inligtingsessie regstaan met voorafbestelde etes en sal daar ook ‘n SnapScan-kroeg beskikbaar wees.
- Kosbestellings sal binnekort op Karri beskikbaar wees en moet ten laaste teen Vrydag, 19 Januarie, geplaas word.
Vandag sluit die skole in die Wes-Kaap vir ‘n welverdiende vakansie vir die leerders na ‘n lang akademiese jaar. Skole sluit egter ‘n dag vroeër as wat geskeduleer is, want dit is te danke aan die Springbokke se geskiedkundige oorwinning oor die All Blacks om die rugbywêreldbeker vir ‘n rekord vierde keer te verower. Die Bokke het ons so trots gemaak en weereens bewys dat daar plek vir uitnemendheid in ons pragtige land is.
Verlede week is al die gr. 4 – 7-prysuitdelings suksesvol afgehandel om erkenning vir ons leerders vir hul harde werk en toewyding te gee. Ons unieke wyse van erkenning gee, veral vir die akademie, maak my gerus dat ons die regte aanslag het en dat daar ‘n plek vir akademiese erkenning en uitnemendheid is. Ons poog as personeel om vir ons leerders ‘n voorbeeld te stel deur alles wat ons as skool aanpak, met uitnemendheid te doen. Baie geluk aan die volgende Top 10 akademiese graad 7-leerders vir hulle harde werk en toewyding:
- Katia van Wyk (Dux leerder 2023)
- Lida-Mari Bosman
- Liza Hertzog
- Karlien van der Walt
- Gemma de Vries
- Stella Lamprecht
- Ruben Oosthuizen
- Mieke Nel
- Jan-Willem Silvis
- Sofia Newton
Graag wil ek ook vir mnr. Leon en sy span hartlik gelukwens met vanjaar se puik kleure-atletiekbyeenkoms wat op Woensdag, 06 Desember, (velditems) en Vrydag, 08 Desember, (Baanitems) plaasgevind het. Die atletiekdag het reeds Vrydagoggend vroeg om 07:15 met die tradisionele optogte om die baan begin. Die onderskeie kleurhuise se areas op die pawiljoen was merkwaardig versier en dit alles te danke aan ons graad 7-ouers wat reeds dou voor dag daarmee begin het. Opvallend was die ‘lekker’ gees wat reeds met die aanvang van die ongelooflike dag teenwoordig was en die hele dag geheers het. Ons leerdes se stemme was hees gesing en later het ons lekker musiek gespeel waarop hulle saam met personeel, ouers/voogde gedans het. Dit was baie spesiaal om te sien hoe ons onderwysers saam met ouers op die ritme van die musiek gedans het. Ek is vanjaar 3 jaar by die merkwaardige skool betrokke en dit was volgens my die beste atletiekdag sedert ek by die skool aangesluit het. Die meerderheid van leerders en hul ouers/voogde het tot 15:45 na afloop van die prysuitdeling gebly. Baie geluk aan die huis van Blou wat die geesbeker verower het en Huis Oranje wat vanjaar die atletiek oorheers het. Baie geluk aan die volgende atlete met hul uitsonderlike prestasie:
- Victrix Ludorum jnr (o.10 – o.11): Cato Terblanche
- Victor Ludorum jnr (o.10 – o.11): Rafa Lamprecht
- Victrix Ludorum jnr (o.12 – o.13): Jana Olivier
- Victor Ludorum jnr (o.12 – o.13): Delmar Benecke wat 3 rekords op die dag verbeter het.

Ons neem oor die laaste week stelselmatig afskeid van die gr. 7-leerders. Ons het op Maandag, 11 Desember, ‘n spesiale afskiedsaal vir die gr. 7’s saam met hul ouers/voogde gehou. Daarna het hul tradisioneel met hul skoolklere in die swembad gespring. Hulle finale sokkie is dan ook op Maandagaand om 18:00 in die saal aangebied. Baie dankie aan al die ouers wat met die opmaak en verfraaiing van die saal vir die spesiale sokkie betrokke was. Baie geluk aan die gr. 7’s met jul pragtige 2023 Jaarboek. Dit sluit ‘n spesiale bladsy in van elke gr. 7-leerder met iets spesiaal oor haar of homself. Kostelik is die babafoto van elke gr. 7-leerder in vergelyking met hul hedendaagse foto. Hierdie pragtige jaarboek is te danke aan Kerala Allewell, Annabel Potgieter, Lida-Mari Bosman, Katia van Wyk, Karlien van der Walt, Mia Smith, Emma Jonker en Gemma de Vries.

Ons beste wense vergesel die gr. 7’s vir hul nuwe reistog na die hoërskool en mag hulle hul hoërskoolloopbaan net so geniet soos by ons. Onthou my boodskap: Droom groot en as iemand dit durf waag om te sê dat julle te groot droom dan moet julle vir hulle sê dat hulle dalk te klein droom. Julle is ‘n merkwaardige groep leerders met ‘n blink toekoms wat voorlê. Ons gaan julle baie mis. Hou aan om ‘n positiewe verskil in mense se lewens te maak deur net jouself te wees.
2023 was ‘n ongelooflike suksesvolle jaar vir Laerskool Jan van Riebeeck. Die hoogtepunte is legio en ons skool het in alle opsigte merkwaardig presteer. Dit kon slegs gebeur met toegewyde leerders, personeel en effektiewe skoolbestuur, ondersteunende ouers/voogde en ‘n dinamiese Beheerraad. Sukses beteken nie net altyd prestasies nie, want die karakter en omgeehart van ons skoolgemeenskap is prysenswaardig en uniek. Ek is baie trots op ons personeel wat jaar-in en jaar-uit die spreekwoordelike ekstra myl tot voordeel van ons leerders loop. Baie dankie aan die EXCO (skoolbestuur) vir jul leeue-aandeel in die effektiewe bestuur van die puik skool. Laat my ook toe om my regterhand, naamlik Marinda (adjunkhoof) te bedank vir haar harde werk en lojale ondersteuning die afgelope jaar.
Lees gerus my jaarverslag vir 2023 wat bondig opsom wat ons as skool die afgelope jaar vermag het.
Graag sluit ek af en wens vir julle’n welverdiende vakansie toe van lekker rus en ontspan saam met vriende en familie. Mag elkeen van julle ‘n Christusfees vol vreugde, vrede en liefde ervaar saam met al die spesiale mense in jou lewe. Mag 2024 voorspoedig wees vol nuwe avonture, vrede en hoop!
Julle moet asseblief veilig reis en sien julle D.V. 17 Januarie 2024 wanneer die skool weer sy deure vir 2024 oopmaak.
Vriendelike Vakansie-groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
- Neem kennis dat ons van vandag af op WhatsApp of e-pos met ouers sal kommunikeer.
- Aangesien leerders gister uitgevind het in wie se klas hulle volgende jaar is, kan julle ook nou by die klasgroepe aansluit.
- Maak asb. seker dat jy voor die skool in Januarie open by die Community aansluit.
- Ten minste een persoon per gesin moet deel van die Community wees.
- Stuur gerus ‘n WhatsApp aan Suzaan se skoolnommer vir die uitnodiging-skakel na die Community: 0674354050
Volg die skakel vir die skoolfooie van 2024.
Hierdie afgelope week was weereens propvol opwindende aktiwiteite wat onder andere prysuitdelings, atletiek, “sing-songs”, “water slides”, klas- en graadpartytjies, ens. ingesluit het.
Hierdie week het die jaarlikse prysuitdelings onderskeidelik vir graad 4 tot 7 plaasgevind. Graag fokus ek eers op die graad 4 en 5-prysuitdelings aangesien die saktyd vir die weeklikse nuusbrief te vroeg in die week is, om ook die prysuitdelings vir graad 6 en 7 in te sluit. Ek sal wel in volgende week se nuusbrief daaroor terugvoering gee. Die graad 4 en 5-prysuitdelings het op ‘n manier informeel, maar tog uiters stylvol plaasgevind. Prysuitdelings is op beste van tye ‘n sensitiewe en kontroversiële onderwerp van bespreking en ek wil julle die waarborg gee dat ons as skoolbestuur baie begrip daarvoor het. Ek glo dat ons skool die erkenningsproses so verfyn het dat ons dit regkry om erkenning aan presteerders te gee sonder om die ander leerders te na te kom. Ons neem dit egter nog ‘n stappie verder en gee vir elke leerder ‘n persoonlike en unieke erkenning in die saal. Ons fokus beslis nie net op ons presteerders nie en wil graag ons leerders te alle tye beskerm, maar ons besef ook dat dit ons plig as ‘n laerskool is om ons leerders te bemagtig vir die hoërskool asook die grootmenswêreld wat voorlê. Daar was baie hoogtepunte tydens die prysuitdelings, maar opvallend was die leerders se toejuiging tydens die bekendmaking van die akademiese presteerders. Baie van die top 10 akademiese leerders was aangenaam verras met die aankondiging van hul name en het dit glad nie verwag nie. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien dat ons leerders mekaar se prestasies vier en dit is so spesiaal wat ons skool op nog ‘n manier uniek maak. Hierdie trotse oomblikke sal ek verewig koester en bevestig net weer dat daar ‘n plek vir akademiese erkenning is op die voorwaarde dat ‘n skool waardegedrewe moet wees en ‘n spesiale etos van omgee en respek omhels.

Op Sondagaand, 04 Desember, om 19:00 het beide ons junior- en senior kore vir die tweede agtereenvolgende naweek tydens kerssangdienste opgetree en die keer in die pragtige NG Kerk, Drieankerbaai. Beide kore het hul puik van hul taak gekwyt en weereens ons ouers/voogde en al die Drieankerbaai kerkgangers betower met die sing van pragtige kersliedere. Baie dankie aan ons mammas wat gehelp het om ons leerders as Josef, Maria, die wyse manne en engele aan te trek wat die aand verder ekstra spesiaal gemaak het.

Op Woensdag, 06 Desember, het die velditems van ons jaarlikse kleure-atletiek by die Hoërskool se velde plaasgevind. Baie dankie aan mnr. Leon vir al die puik reëlings asook ons personeel wat toegewyd hul stasies beman en ons atlete aangemoedig het. Graag wil ek ons ouers/voogde bedank wat tyd by die werk afgeknyp het om die dag te ondersteun en luidkeels hul kind/ers aan te moedig om net hul beste te doen. Die pragtige uitsig vanaf die hoërskool se velde met die ikoniese Tafelberg, Leeukop en Seinheuwel as agtergrond het beslis gehelp om almal se gemoed te lig en die jaar op ‘n hoë noot af te sluit.

Laat my ook toe om Gerhard Conradie hartlik te bedank wat die afgelope week sy span mense gestuur het om die mini-sportveld agter die skool kompos asook ‘n bolaag sand toe te dien. Baie dankie Gerhard, ons het groot waardering.

Volgende week is die laaste skoolweek vir 2023 en sluit die skool op Dinsdag, 12 Oktober, vir almal om 10:30. Ek hoop en vertrou dat almal vandag se kleure-atletiek (baanitems) sal geniet. Ek sien uit om julle daar te sien.
Graag sluit ek af soos oudergewoonte met my bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling deur Roy T. Bennet oor dankbaarheid. Mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin, vriende en/of familie geniet.
“When one has a grateful heart,
Life is so beautiful!’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
- Indien jy sukkel om by die skool se WhatsApp Community aan te sluit d.m.v. die skakel wat in Skooler gestuur is, stuur asb. ‘n WhatsApp aan Suzaan se skool WhatsApp-nommer sodat sy die skakel na die Community direk vir jou kan aanstuur: 0674354050
- Sodra jy by die Community aangesluit het, sal dit in jou WhatsApp chats lê. Jy kan ook die Community in WhatsApp oopmaak deur op die Communities-ikon bo-aan (Android) of onderaan jou skerm (iPhone) te kliek. Die ikon is egter nie in WhatsApp Business beskikbaar nie.
- Android:
- iPhone:

- Android:
- Indien jy graag ‘n boodskap per WhatsApp aan ‘n onderwyser wil stuur, gaan asb. na die groep waarby daardie onderwyser betrokke is en kyk in die groep se besonderhede vir sy/haar nommer. Die onderwysers is die Admins in die relevante groepe. Baie onderwysers het ‘n skool selfoonnommer en verkies om daarop boodskappe vanaf ouers te ontvang eerder as hul privaat WhatApp. Respekteer dit asb. deur eerder die nommer van die onderwyser wat in die Community is, te gebruik.
- Vir verdere riglyne, volg gerus die skakel.
Belangrike Datums
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026
maart 2027
mei 2027



