Die finale eksamens vir die Gr. 4–7-leerders kom uiteindelik vandag tot ’n einde. Ek glo ons huisgesinne gee vandag ’n groot sug van verligting, want nou kan huishoudings weer ‘normaal’ funksioneer met die eksamen agter die rug en ‘n lekker naweek om na uit te sien. Alhoewel daar nog baie administrasie afgehandel moet word voordat die rapporte gefinaliseer sal word, wil ek vir julle graag die versekering gee dat ons leerders net hul beste tydens hul finale eksamens gedoen het. Ek is tans saam met die vakhoofde besig met moderering en kan getuig van hul goeie punte. Leerders ontvang hul rapporte op 09 Desember, die dag waarop die skool sluit.

Op Dinsdagoggend, 17 November, het ons musiekdepartement die gewilde koffie-en-beskuit-konserte vir die afgelope jaar op ‘n hoogtepunt in die saal afgesluit. Slegs grondslagfase-musiekleerders het ten aanskoue van heelwat ouers en leerders opgetree. Die talent en selfvertroue van ons musiekleerders bly my stomslaan en ek is saam met hul ouers ongelooflik trots op hulle! Ons graad 4- tot 7-leerders kon ongelukkig nie as gevolg van die eksamen deelneem nie. Graag wil ek vir juff. Rolene, Bea, mnr. Ben en die deeltydse musiekonderwysers hartlik gelukwens met die fantastiese inisiatief wat die afgelope jaar van krag-tot-krag gegaan het.

Graag wil ek julle as ouers van laerskoolleerders ernstig versoek, veral met Kersfees om die draai, om eerstens nie sommer ‘n slimfoon/tablet vir jou kind(ers) te koop omdat ander ouers dit doen nie en tweedens, indien jou kind(ers) alreeds ‘n slimfoon/tablet besit, dat julle hul toegang tot sosiale platforms sal heroorweeg of bestuur. Van ons ouers het dit onder my aandag gebring dat van ons leerders mekaar buite skoolure op sosiale platforms boelie. Van hierdie leerders is nog baie jonk en volgens regulasies moet jy 13 jaar en ouer wees om as ‘n WhatsApp-verbruiker te registreer. Ons as volwassenes maak dikwels sosiale blapse op sosiale media – hoe kan ons verwag dat kinders op so ‘n jong ouderdom altyd verantwoordelike gebruik op sosiale platforms sal toepas? Dan is daar selfs ouers wat nie die privaatheid van hul kind(ers) wil skend nie deur glad nie te kyk waarmee hul kind(ers) op slimfone en/of tablette besig is nie. Doen gerus die moeite en maak seker waarmee jou kind(ers) hulself aanlyn besig hou.

Die volgende aspekte is vir my krities wat julle as ouers rakende die gebruik van slimfone en/of tablette deur jou kind(ers), asook die toegang tot sosiale platforms, in gedagte moet hou:

• Blootstelling aan onvanpaste inhoud;
• Die risiko van boeliegedrag;
• Skermverslawing wat lei tot heelwat minder slaap;
• Die kwesbaarheid van jou kind(ers) se selfbeeld en emosionele welstand; en
• Die digitale spoor wat jou kind(ers) kan laat, salig onbewus van toekomstige gevolge.

Wat kan ek as ouer doen om my kind teen kuberveiligheidsrisiko’s en aanlyn boeliegedrag te beskerm:

• Beperk skermtyd – bepaal sekere tye en dan ook onder toesig;
• Monitor jou kind(ers) se aanlyn aktiwiteite;
• Beklemtoon aanlyn privaatheid, m.a.w. dat hulle nie foto’s, adresse, telefoonnommers en identiteitsnommers deel nie;
• Leer jou kind(ers) om te dink voordat hulle inhoud op sosiale platforms plaas en veral om nie op negatiewe plasings te reageer nie;
• Stel ‘n voorbeeld van goeie digitale gewoontes. Kinders hou ons dop en as ons as volwassenes die heeldag besig is op ons slimfone en/of tablette, sal hulle dit slaafs navolg.

Ek glo dat die bogenoemde jul as ouer(s) se verantwoordelikheid is om skermtyd na skoolure te bestuur. Ons as skool het juis die digitale geletterdheidsprogram (Gr. 1–6) geïmplementeer om leerders onder andere oor digitale burgerskap, kuberveiligheid, die gevare van sosiale media, ens. te leer. Daar word ook jaarliks ‘n deskundige ingekry wat in die saal met leerders en ná skool met die ouers praat oor kuberveiligheid, die gevare van sosiale platforms en wat ouers kan doen om hierdie uitdagings te oorbrug.

Ons jaarlikse Gr. 7-inligtingsessie met ons huidige Gr. 6-ouers het op Donderdagaand, 12 November, om 18:00 in die saal plaasgevind. Die doel van die inligtingsessie is om aan die huidige Gr. 6-ouers te verduidelik wat Gr. 7, asook die nuwe fase (senior fase), behels. Dit sluit onder andere die nuwe Gr. 7-vakke, ‘n voorstel aan die graad 7-onderwysers wat die vakke onderrig, asook wat alles vir hul kinders in 2027 voorlê as graad 7-leerders, in. Ek wil graag vir mnr. André Lourens (graadhoof 2027), juf. Marinda, mnr. Leon, mnr. Keenen en die res van die span hartlik bedank vir die uitstekende aanbieding.

Afrikaans bly darem ‘lekker’ op die tong en is eenvoudig net ‘n kosbare taal wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende en/of minder bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind(ers):

‘‘Water uit ‘n klip tap’’

Die uitdrukking beteken om met min die onmoontlike reg te kry. Dit geld wanneer iemand vindingryk, slim of met uiterse deursettingsvermoë optree en sukses onder baie moeilike of skynbaar hopelose omstandighede behaal.

Ek sluit dan week 7 af en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet. Sterkte aan al ons ouers wat môre aan die gewilde ouersportdag deelneem. Onthou asseblief om goed op te warm voordat die spanne mekaar die stryd aansê. Mag die Bokke dan ook môre sonder Rassie die Iere ‘n ding of twee wys!

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF