Die eerste week van die eksamen vir die graad 7’s is agter die rug terwyl die graad 4 – 6-leerders op Woensdag, 11 November, met hulle eksamens afgeskop het. Ons besef dat eksamenstres ‘n realiteit vir ons leerders is. Sommige hanteer dit makliker as ander, terwyl die meeste leerders ‘n groot vrees vir teleurstellende resultate het.
Ek weet ook dat die eksamentydperk vir julle as ouers ook stresvol is, maar dit is belangrik dat julle jul kind(ers) sal aanmoedig om net hulle beste te probeer. Baie dankie dat julle nie hul waarde aan punte sal koppel nie, maar eerder aan die poging wat jou kind(ers) aanwend. Baie dankie dat julle saam met ons as onderwysers ons leerders sal ondersteun sodat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen hoef te stap nie. Ek weet ook dat sommige van julle bekommerd is dat jou kind(ers) nie goed in die komende eksamens sal vaar nie. Daarom wil ek graag uitwys dat dit net ‘n laerskooleksamen is en nie ‘n kompetisie nie!
Indien jou kind(ers) spogpunte behaal, is dit wonderlik en julle as ouer(s) is baie geseënd, maar ongelukkig is dit nie vir almal beskore nie. Maak gerus seker dat jou kind(ers) verstaan dat dit belangrik is om vir die eksamen voor te berei, maar ook dat die uitslae nie hul as ‘n leerder definieer of bepaal watter tipe persoon hy/sy is nie. Nie almal kan goed in Wiskunde presteer nie; dalk is jou kind eendag ‘n talentvolle kunstenaar of akteur en maak Wiskunde dalk nie saak nie, of dalk word hy/sy eendag ‘n suksesvolle entrepreneur en maak Geografie- en Taalpunte dalk nie eers saak nie. As eksamenpunte so belangrik is en ons glo dit sal tot geluk lei, dan sal onder andere alle dokters, ingenieurs, geöktrooieerde rekenmeesters en aktuarisse mos die enigste gelukkige mense in die wêreld wees.
Dit is jammer dat eksamenpunte nie ook karakter, omgee, empatie en kreatiwiteit meet nie. Onthou dat elke kind teen sy/haar eie tempo ontwikkel. Ons sien jaar-in en jaar-uit hoe oud-Jannies wat in hul graad 7-jaar by ons nie eers die Top 10 akademiese posisies beklee het nie, maar vanaf graad 8 begin uitskiet het en teen matriek as akademiese uitblinkers uitstaan. Dus moet asseblief nie jou kind(ers) op laerskoolvlak onnodig vir uitmuntende punte druk nie, net omdat jy dit dalk op laerskoolvlak behaal het.
Ons onderwysers het die hele jaar uit hul pad gegaan om die leerders so goed moontlik vir eksamens voor te berei. Ons het betyds die eksamenrooster aan ouers/voogde versprei om genoeg tyd vir voorbereiding te gee. Ek sien dat eksamens as ‘n belangrike tydperk van groei en ontwikkeling (aanleer van spesifieke vaardighede) vir leerders dien en nie ‘n tydperk van prestasie en angs nie – daarvoor het ek julle as ouers se begrip nodig. Kom ons ondersteun ons kinders. Julle kinders is soos my eie kinders – moedig hulle net aan om hul beste te doen, vir ander om te gee en te weet dat ons nog steeds vir hulle lief is, ongeag die uitslae.
Op Maandagoggend, 09 November, het die graad 1-klasse hul mondelingopdragte, huise wat hulle vir hul assesserings gebou het, in die vierkant uitgestal vir almal om te bewonder. Hulle was so trots op hul spogwerke en ek was sprakeloos oor al die fyn besonderhede terwyl hulle vir my presies vertel het hoe hulle dit gebou het. Baie geluk, graad 1’s, julle maak ons so trots!

Op Donderdagoggend, 05 November, het ons ‘n spesiale Opedag vir ons 2027-gr. 1’s gehou om hulle by die skool te verwelkom en vroegtydig te oriënteer sodat die transisie vanaf gr. R na gr. 1 soomloos kan geskied, sonder onnodige trane. Hulle is dan ook aan hulle nuwe juffrouens vir 2027 voorgestel en hulle het ook die geleentheid gehad om die skool se nuwe gelukbringer, BRUL-JANt, in die nasorgparkie te ontmoet, wat tot groot opwinding gelei het. Op dieselfde aand het ons ‘n inligtingsessie aan hul ouers in die saal aangebied. Baie dankie aan juf. Nicola (graadhoof) en haar span vir die puik aanbieding en reëlings.
Ons jaarlikse gr. 4-inligtingsessie met ons huidige gr. 3-ouers het op Dinsdagaand, 10 November, om 18:00 in die saal geskied. Die doel van die inligtingsessie is om aan die huidige gr. 3-ouers te verduidelik wat gr. 4 asook die nuwe fase (intermediêre fase) behels. Dit sluit onder andere die nuwe gr. 4-vakke in, die voorstelling aan die verskillende onderwysers wat die vakke onderrig, die volg van ‘n ruilrooster vanaf 2027, die gebruik van MS Teams, eksamens asook om hul voor te berei vir hul kind(ers) se oorgang na gr. 4. Ouers is dikwels meer angstig as hul kind(ers) wat na ‘n volgende fase beweeg. Ek wil graag vir juf. Ilse-Marié (graadhoof 2027) en haar span hartlik bedank vir die puik en insiggewende aanbieding.
Dan het ons die inligtingsgeleenthede aan ouers met die graad 7-2027 ouers afgesluit waartydens ons lig op die senior fase geplaas het. Hierdie gesprek het op Donderdagaand, 12 November, in die skoolsaal plaasvind. Baie dankie aan mnr. André (graadhoof 2027) en sy span wat ‘n vinnige blik oor die opwindende graad 7-jaar en tienerdinge gegee. Ons leerders presteer goed aangesien julle as hul ouers so betrokke is!
Afrikaans bly darem ‘lekker’ op die tong en is eenvoudig net ‘n kosbare taal wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is, daarom hou ek aan om nog bekende en/of minder bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind(ers):
“Iemand dra sy hart op sy mou”
Die uitdrukking beteken dat iemand maklik sy/haar gevoelens (emosies) wys, of dit nou blydskap, hartseer, frustrasie of liefde is.
Ek sluit dan week 6 af en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet. Sterkte aan ons mini-krieketspanne wat vanmiddag by Curro Durbanville aan ‘n toernooi deelneem. Mag die Bokke vanaand die Franse hane se stertvere behoorlik pluk!
Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF