November-maand het amper ongesiens sy verskyning gemaak en skielik besef ‘n mens dat Kersfees om die draai is, terwyl daar nog so baie take en/of projekte afgehandel moet word. Ek glo ook dat almal hul burgerlike reg op Woensdag, 04 November, uitgeoefen het deur hul kruisie tydens die plaaslike verkiesing te maak. Ons skool het ook as ‘n stemlokaal gedien en verrigtinge het op die dag goed afgeloop met rye wat darem nie te lank was nie.

Dit gaan klopdisselboom met die grondslagfase se finale assesserings en dit kom vandag tot ‘n einde. Op Maandag, 09 November, begin die finale eksamen vir die gr. 7’s en op Woensdag, 11 November, vir die gr. 4- tot 6-leerders. My beste wense vergesel hulle en baie dankie dat julle as ouers ons gaan help om jul kind(ers) aan te moedig om net hul beste te gee sonder om te veel druk oor resultate op hulle te plaas. Verduidelik gerus vir hulle dat dit die heel laaste bietjie harde werk vir die jaar is om af te handel voor ‘n welverdiende somervakansie aanbreek en dit is belangrik om nie nou slap te lê nie.

Graag deel ek die volgende wonderlike nuus rakende die kodering- en robotikaprogram wat die skool aanbied. Vanaf 28–29 Oktober het juf. Suné en ses graad 6-leerders (Stef Nel, Helené de Kock, Antjie Samuel, Gert van der Linde, Kent Chimukuyu en Mia Laubscher) aan die Kuunda Standard Bank STEAM Projek se finaal vir die Wes-Kaap te Laerskool Habibia deelgeneem. Agtien skole het gekwalifiseer en ons tree as gesamentlike wenners met twee ander skole uit die stryd. Hulle wen vir ons skool ‘n indrukwekkende 3D-drukker en ek glo julle sal saamstem dat hierdie weereens ‘n merkwaardige prestasie is, veral as ons in ag neem dat juf. Suné se graad 7-span ook bronsmedaljes vanjaar tydens die World Robotics Olimpiade in Pretoria verower het! Ons skool se akademiese visie omhels die feit dat kodering en robotika ‘n aansienlik groter rol in die wêreld gaan speel en hier is weereens ‘n bewys dat ons ons leerders vir die veranderende wêreld daar buite wil voorberei deur hulle met 21ste-eeuse vaardighede (kritiese denke, kreatiwiteit, samewerking en kommunikasie) asook met probleemoplossingsvaardighede toe te rus. ‘n Hartlike dank aan juf. Suné vir haar harde werk, toewyding en passie om die leerarea deurlopend te ontwikkel en te promoveer!

Ons kwartaallikse kultuurkonserte het die afgelope tyd soos volg plaasgevind:

  • Gr. 4 en 5: Donderdag, 29 Oktober, vanaf 08:00–09:00 met 20 deelnemers.

  • Gr. 1–3: Vrydag, 30 Oktober, vanaf 08:30–09:30 met 25 deelnemers.

  • Gr. 6 en 7: Maandag, 02 November, vanaf 08:00–09:00 met 22 deelnemers.

Die optredes het sang, voordrag en die speel van verskeie musiekinstrumente (klavier, dwarsfluit, viool, kitaar, elektriese kitaar en tjello) ingesluit. Ons leerders se kultuur- en musiektalente laat ‘n mens sprakeloos en dit is wonderlik om te sien hoe ons leerders se talente oor die afgelope jare ontwikkel het. Ek het die grootste respek vir hierdie leerders, want om voor ‘n gehoor op te tree, maak enige mens kwesbaar en vereis moed om jou talent(e) ten toon te stel en jou aan ander mense se mening bloot te stel. Ek is so trots op ons kultuur- en musiekleerders wat met die grootste selfvertroue opgetree het. Welgedaan aan juf. Rolene en haar span, naamlik mnr. Ben, juff. Bea en Jana, asook ons eksterne musiekpersoneel (Paul Richard, Lily van der Merwe, Ruben Botha, Reece Allum, Loren Ehlers en Pieter Bezuidenhout, wat in hul eie reg professionele musikante is) wat met soveel passie en omgee ons leerders onderrig! Ek glo dat julle met my sal saamstem dat ons kultuuraanbieding die afgelope twee jaar met rasse skrede verbeter het.

Op Vrydagaand, 30 Oktober, het die Demoyencourt Balletateljee te Huppeland onder leiding van Sue Demoyencourt ‘n magiese balletkonsert in die skoolsaal aangebied. Vanjaar se meesterstuk was Alice in Wonderland. Verskeie van ons skool se dogters het aan die fantastiese opvoering deelgeneem. Die kostuums en agtergrond was indrukwekkend. Baie geluk aan Sue en Therina met die meesterstuk!

Op Maandag, 02 November, het die jaarlikse begrotingsvergadering met ouers om 18:00 in die saal plaasgevind. Ek was weereens aangenaam verras met die opkoms van ouers/voogde tydens die belangrike vergadering. Baie dankie aan die 96 ouers/voogde wat die vergadering bygewoon het. Ons volg altyd ‘n deursigtige proses met die begroting en ek glo dit was ‘n insiggewende sessie vir ouers/voogde rakende die finansiële bestuur van die skool asook om te sien waarvoor hul skoolgelde jaarliks aangewend word. Die 2027-begroting en verhogings van skoolfooie is soos volg deur ouers/voogde goedgekeur:

Laerskool:

  • Gr. 1–3 = R51 930 per leerder
  • Gr. 4–7 = R53 670 per leerder

Huppelland:

  • Gr. R = R55 200 per leerder
  • Gr. 0 en 00 = R53 600 per leerder

Baie dankie aan ons finansiële bestuurder, Liesel Hammond, ons tesourier, Sybil Müller, asook ons BR-voorsitter, Merwe Scholtz, vir jul kosbare tyd en harde werk om ‘n uitstekende en effektiewe begroting vir finale goedkeuring te kon voorlê. Weereens ‘n hartlike dank aan die ouers/voogde wat die belangrike vergadering bygewoon het.

Afrikaans bly darem ‘lekker’ op die tong en is eenvoudig net ‘n kosbare taal wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende en/of minder bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind(ers):

‘Die kat uit die boom kyk’

Die uitdrukking beteken dat iemand nie oorhaastig ‘n besluit wil neem nie, maar eers kyk hoe die saak ontwikkel of uitspeel, m.a.w. hy/sy is eerder versigtig voordat ‘n besluit geneem of opgetree word.

Ek sluit dan week 5 af met die helfte van die laaste kwartaal wat verby is en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet. Sterkte aan ons o.13A-krieketspan wat vanmiddag aan Laerskool Durbanville se 6-aan-‘n-kant-kriekettoernooi deelneem, asook ons mini-krieketspanne wat môre in Hermanus aan ‘n toernooi deelneem wat deur Curro Hermanus aangebied word.

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF